AMOS 4:4-13

AMOS 4:4-13 NLV

“Kom na Bet-El en oortree daar teen God. Gaan na Gilgal en doen nog meer kwaad. Bring julle offers in die môre, gee elke derde dag julle tiendes. Bring maar julle dankoffer van suurdeegbrood. Spog gerus openlik met julle vrywillige offers! Julle Israeliete hou mos daarvan om dit te doen! Dit is wat die oppermagtige HERE sê! “Honger en hongersnood het Ek in elke dorp gebring. Nogtans het julle nie na My toe teruggekeer nie. “Ek het gesorg dat dit nie reën wanneer julle dit die nodigste het nie. Ek het vir een dorp reën gegee, en dit van ’n ander weerhou. Een stuk grond het reën gekry, ’n ander een het uitgedroog. Mense van twee of drie dorpe het na ’n stad toe gesteier om water te drink, maar sonder sukses. Nogtans het julle nie na My teruggekeer nie.” Dit is wat die HERE sê. “Ek het julle tuine verskroei en julle wingerde met roes getref. Julle vyebome en olyfbome het die sprinkane afgevreet. Nogtans,” sê die HERE, “het julle nie na My toe teruggekeer nie. “Ek het plae oor julle laat kom soos destyds oor Egipte. Ek het julle jong mans in die oorlog laat sterf en julle perde afgemaai. Die reuk van dood het oor julle gehang. Nogtans,” sê die HERE, “het julle nie teruggekeer na My toe nie. “Ek het julle dorpe verwoes soos Ek Sodom en Gomorra verwoes het. Dié wat oorleef het, was soos ’n stuk hout wat uit ’n vuur gepluk is. Nogtans wou julle steeds nie na My toe terugkeer nie.” Dit is wat die HERE sê. “Daarom, Israel, sal Ek al hierdie dinge wat Ek gesê het met jou laat gebeur. Staal jou, Israel, om jou God te ontmoet!” Weet dit: Hy is die Een wat die berge vorm, die wind skep, en sy gedagtes aan mense bekendmaak. Hy verander die oggendlig in donkerte. Hy loop op die bergtoppe van die aarde. Sy Naam is: Die HERE God, die Almagtige!