Amos 4:4-13

Amos 4:4-13 ABA

“Mense van Israel, julle moet na die stad Bet-El kom as julle sonde wil doen, julle moet na die stad Gilgal kom as julle nog meer sonde wil doen! Bring elke oggend julle offers, bring julle tiendes elke derde dag. Brand dank-offers, brand brood met suurdeeg in. Vertel vir almal van julle vrywillige offers. Julle Israeliete hou daarvan om te spog.” Dit sê die Here. “Ek het julle honger laat bly oral waar julle woon. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie.” Dit sê die Here. “Ek het die reën weggehou toe die koring nog nie ryp was nie. Ek het dit op een stad laat reën, en op 'n ander stad het Ek dit nie laat reën nie. Dit het gereën op een stuk land, en 'n ander stuk land het nie reën gekry nie, dit het droog geword. Die mense van twee of drie stede het na 'n ander stad gekruip om water te soek, maar hulle het nie genoeg water gekry nie. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie.” Dit sê die Here. “Ek het julle koring-are laat verdroog, en die plantluise het dit opgevreet. Die sprinkane het baie maal al die blare in julle tuine en wingerde opgevreet, ook al die blare van julle vyebome en olyfbome. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie,” sê die Here. “Ek het julle siek gemaak, en julle het doodgegaan soos die Egiptenaars. Ek het julle jongmanne in die oorlog laat sterf, en die vyande het julle perde gevat. Julle het geruik dat die dooie liggame stink in julle kamp. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie,” sê die Here. “Ek het julle doodgemaak soos Ek die mense van Sodom en Gomorra doodgemaak het. Julle was soos 'n stuk vuurmaak-hout wat Ek uit die vuur gehaal het. Maar julle het nie teruggekom na My toe nie,” sê die Here. “Daarom, mense van Israel, sal Ek nou weer so met julle maak. En omdat Ek dit met julle sal doen, maak nou gereed om julle God te ontmoet.” Dit is Hy wat die berge en die wind gemaak het, Hy wat vir mense sê wat Hy wil doen, Hy wat dit donker maak wanneer dit al lig moet word, Hy wat oor die hoogste berg van die aarde loop. Sy Naam is die Here, God wat oor alles regeer.