2 SAMUEL 22:21-33
2 SAMUEL 22:21-33 Bybel vir almal (ABA)
Ek is onskuldig, en die Here gee vir my wat ek moet kry, ek het niks verkeerd gedoen nie, en die Here beloon my. Ja, ek het gedoen wat die Here wil hê. Wanneer my God my oordeel, dan is ek nie skuldig nie. Ek het onthou wat Hy gesê het ek moet doen, ek het gedoen wat Hy beveel het. Ek het alles gedoen wat Hy gesê het, ek het aangehou om reg te doen. Ek is onskuldig. Die Here het gesien dat ek niks verkeerd doen nie, en Hy het my beloon. U doen wat U belowe het vir die mense wat doen wat húlle belowe. U is altyd goed vir die mense wat net goed doen. Wanneer mense rein is en by U mag wees, dan is U by hulle. Wanneer mense vals is, dan is U te slim vir hulle. U red mense wat hulleself nie kan beskerm nie, en U verneder mense wat dink hulle is belangrik. Ja, Here, U gee vir my lig, U maak lig wanneer dit donker is om my. Ja, wanneer U by my is, dan kan ek 'n klomp mense aanval, wanneer U, my God, by my is, dan kan ek oor 'n hoë muur spring. “Wat God doen, is alles reg, wat die Here sê, is altyd waar. Hy is soos 'n skild vir almal wat na Hom toe vlug. Die Here is die enigste God, net ons God is 'n Rots. Hy is die God wat sterk is, ek is veilig by Hom, Hy maak my lewe veilig.
2 SAMUEL 22:21-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; na die reinheid van my hande het Hy my vergelde. Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie. Want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge — daar het ek nie van afgewyk nie. Maar ek was opreg voor Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid. So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na my reinheid voor sy oë. By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg, by die reine, rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd. En U verlos die verdrukte volk, maar u oë is teen die hoogmoediges; U verneder hulle. Want U is my lamp, o HERE! En die HERE laat my duisternis opklaar. Want met U loop ek 'n bende storm, met my God spring ek oor 'n muur. Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil. Want wie is God buiten die HERE, en wie 'n rots buiten onse God? Die God wat my sterk toevlug is, en Hy het vir my 'n weg volkomelik uitgesoek.
2 SAMUEL 22:21-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, want ek het my aan sy voorskrifte gehou en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. Die Here het aan my reg laat geskied want ek was onskuldig in sy oë. U betoon U getrou teenoor die getroue, opreg teenoor die opregte, rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is 'n rots? God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig.
2 SAMUEL 22:21-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Die HERE het aan my goed gedoen, op grond van my geregtigheid; omdat my hande skoon is, het Hy my vergoed. Want ek het op die HERE se paaie gebly; en my nie skuldig gemaak voor my God nie. Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte – daarvan wyk ek nie af nie. Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sonde. Die HERE het my vergoed, op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë. “Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor die held wat onberispelik is, tree U onberispelik op; teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree U berekenend op! 'n Magtelose volk word deur U verlos, en u oë hou hoogmoediges dop; U verneder hulle. Ja, U is my lig, HERE; die HERE verlig my donkerte. Ja, met U hardloop ek oor 'n skans, met my God spring ek oor 'n muur. “God, sy weg is volmaak; die woord van die HERE is gelouter. Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil. Ja, wie is God behalwe die HERE? Wie is 'n rots buiten ons God? God is my sterk toevlug; Hy maak my pad volmaak.
2 SAMUEL 22:21-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE het my vergeld na my geregtigheid; na die reinheid van my hande het Hy my vergeld. Want ek het die weë van die HERE bewaar en nie goddeloos van my God afgewyk nie. Want al sy verordeninge was voor my, en wat sy insettinge betref, ek het nie daarvan afgewyk nie. Ek was ook opreg voor hom en het my van my ongeregtigheid bewaar. Daarom het die HERE my vergelde na my geregtigheid; volgens my reinheid voor sy oë. By die barmhartige sal U Uself barmhartig wees, en by die opregte mens Uself opreg betoon. By die reines sal jy jouself rein vertoon; en by die verkeerde sal jy jou onwel betoon. En die geteisterde volk sal U verlos, maar u oë is op die hoogmoediges, dat U hulle kan neerwerp. Want U is my lamp, o HERE, en die HERE sal my duisternis verlig. Want met jou het ek 'n bende deurgeloop, deur my God het ek oor 'n muur gespring. Wat God betref, sy weg is volmaak; die woord van die HERE is getoets; Hy is 'n skild vir almal wat op Hom vertrou. Want wie is God behalwe die HERE? en wie is 'n rots, behalwe onse God? God is my sterkte en krag, en Hy maak my weg volmaak.
2 SAMUEL 22:21-33 Die Boodskap (DB)
Die Here het dit vir my gedoen omdat ek onskuldig is; Hy was goed vir my, want ek het nie kwaad gedoen nie. Ek het gedoen wat die Here vir my gesê het; ek het nie my rug vir God gedraai nie. Ek dink gedurig aan alles wat Hý wil hê ek moet doen; ek maak soos Hy sê. Ek het presies gedoen wat die Here van ’n mens verwag; ek het gesorg dat ek niks verkeerds doen nie. Die Here was aan my kant, want Hy het geweet ek is onskuldig. Here, U sorg vir dié wat aan U getrou is; vir ’n mens wat voluit vir U lewe, gee U alles. Vir die een wat ’n skoon lewe lei, is U goed. Maar ’n vals mens kry teëspoed by U. U help mense op wie daar getrap word, maar U hou ’n hoogmoedige mens dop en haal hom van sy troontjie af. Here, U is vir my soos ’n lamp wat die donker om my wegvat. As U my help, hardloop ek oor ’n skans; as my God by my is, klim ek oor ’n stad se muur. God maak nie foute nie; die Here praat net die waarheid. As ’n mens in die moeilikheid is en na Hom toe gaan, beskerm Hy jou. Daar is nie nog ’n god behalwe die Here nie, en ’n mens is nêrens so veilig soos by ons God nie. God maak my sterk; Hy maak my pad gelyk.
2 SAMUEL 22:21-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE beloon my opregtheid; Hy vergoed my onskuld, want ek was getrou aan die voorskrifte van die HERE; ek was nie skuldig teenoor my God nie. Sy voorskrifte het ek gevolg en van sy bepalings nie afgewyk nie. Ek is onskuldig voor Hom en het myself weerhou van sonde. Die HERE het my opregtheid beloon, want ek was onskuldig voor Hom. Vir die getroues is U getrou; vir die opregtes is U opreg. Vir dié wat rein is, is U rein; vir dié wat vals is, is U vals. U red hulle wat nederig is, maar U verneder die hoogmoediges. U is my lig, o HERE. HERE, U verlig my duisternis. Met U loop ek ’n leër storm, met my God spring ek oor ’n muur. God se pad is volmaak. Die HERE se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Want wie anders as die HERE is God? Wie anders as ons God is ’n rots? God maak my sterk; Hy maak my pad veilig.