2 Samuel 22

22
Dawid se danklied
1Dawid het hierdie lied vir die Here geskryf nadat die Here hom gehelp het teen al sy vyande en teen Saul.
2Die Here is vir my soos ’n plek tussen die rotse waar ek kan wegkruip;
by Hom kan niemand my bykom nie.
3My God, by U is ’n mens altyd veilig.
U keer my vyande;
U maak my sterk sodat ek hulle kan wen.
U is ’n veilige wegkruipplek;
U help my teen al die geweld.
4Die Here moet geprys word,
want as ek sy hulp vra,
help Hy my teen my vyande.
5Soos ’n groot golf wou die dood oor my breek,
soos ’n vol rivier wou hy my saamsleep.
6Ek was klaar vas in die dood se toue,
ek het al klaar in sy strik getrap.
7Toe ek so diep in die moeilikheid was,
het ek na die Here geroep;
ek het geskree my God moet my help.
In sy paleis het Hy gehoor hoe ek roep;
Hy het gehoor hoe benoud ek is.
8Daar was ’n groot aardbewing;
dit het gevoel of die hemel in sy fondamente geskud word,
want die Here was baie kwaad.
9As Hy kwaad is, is dit soos ’n vuurspuwende berg
waar die rook uit trek en vuur en lawa uitstroom.
10Hy het die hemel oopgeskuif en afgekom;
Hy het op donker wolke gaan staan.
11Dit het gelyk of Hy in die wolke op ’n dier met vlerke ry,
of die stormwind sy vlerke is waarmee Hy vlieg.
12Die Here het in ’n donderstorm nader gekom,
in die donker reënwolke.
13Daar waar Hy was, het die blitse geslaan.
14Toe die weer dreun, kon jy weet:
dis die Here wat daar praat,
dis die hoë God se stem!
15Met weerligstrale het die Here my vyande uitmekaargejaag;
die blitse het hulle op loop gesit.
16As die Here kwaad is en Hy praat, is dit soos ’n orkaan;
as Hy so hard praat, gee die see sommer pad
sodat jy die aarde se fondamente kan sien.
17Die Here het uit die hemel my hand gegryp
en my uit die woeste water opgetrek.
18Hy het my weggeruk van my grootste vyand af,
van dié mense af wat my haat en te sterk is vir my.
19Hulle het my aangeval toe ek swak was,
maar die Here het my regop gehou.
20Die Here het my na ’n veilige plek gevat;
Hy het my uitgehelp, want Hy hou van my.
21Die Here het dit vir my gedoen omdat ek onskuldig is;
Hy was goed vir my, want ek het nie kwaad gedoen nie.
22Ek het gedoen wat die Here vir my gesê het;
ek het nie my rug vir God gedraai nie.
23Ek dink gedurig aan alles wat Hý wil hê ek moet doen;
ek maak soos Hy sê.
24Ek het presies gedoen wat die Here van ’n mens verwag;
ek het gesorg dat ek niks verkeerds doen nie.
25Die Here was aan my kant,
want Hy het geweet ek is onskuldig.
26Here, U sorg vir dié wat aan U getrou is;
vir ’n mens wat voluit vir U lewe, gee U alles.
27Vir die een wat ’n skoon lewe lei, is U goed.
Maar ’n vals mens kry teëspoed by U.
28U help mense op wie daar getrap word,
maar U hou ’n hoogmoedige mens dop
en haal hom van sy troontjie af.
29Here, U is vir my soos ’n lamp
wat die donker om my wegvat.
30As U my help, hardloop ek oor ’n skans;
as my God by my is, klim ek oor ’n stad se muur.
31God maak nie foute nie;
die Here praat net die waarheid.
As ’n mens in die moeilikheid is en na Hom toe gaan,
beskerm Hy jou.
32Daar is nie nog ’n god behalwe die Here nie,
en ’n mens is nêrens so veilig soos by ons God nie.
33God maak my sterk;
Hy maak my pad gelyk.
34Hy maak my so rats soos ’n ribbok
sodat ek op ’n steil krans kan staan.
35Hy leer my hoe om oorlog te maak,
hoe om met ’n koperboog te skiet.
36Here, U het my beskerm en my gehelp.
U het my sterk gemaak toe U my gebed geantwoord het.
37U maak die grond gelyk onder my,
my voete sal nie swik nie.
38Ek kon my vyande inhaal en hulle platloop.
Ek kon aanhou tot hulle gedaan is.
39Ek het hulle so platgeslaan
dat hulle nie weer kan opstaan nie.
Hulle is teen die grond.
40U het my die krag gegee om te veg;
U het my vyande op hulle knieë gedwing.
41Hulle het vir my gevlug;
ek kon dié wat teen my is, uitroei.
42Hulle het geskree iemand moet hulle help,
maar niemand kon nie.
Hulle het na U geroep, Here,
maar U wou hulle nie antwoord nie.
43Ek het hulle stukkend getrap,
ek het oor hulle geloop
soos ’n mens oor stof en modder in die strate loop.
44U het my gehelp toe my eie mense my wou onderkry.
U het my boonop die koning van ander volke gemaak;
mense wat ek nie eens ken nie, werk vir my
45en vreemde mense kruip voor my.
As ek praat, doen hulle wat ek sê.
46Hierdie vreemde mense kon nie meer teen my veg nie,
hulle moes maar oorgee.
47Die Here leef!
Die Here moet geprys word!
Hy het my beskerm.
Die God wat my beskerm en help,
moet grootgemaak word!
48Hy is die God wat my laat wen,
wat volke aan my gehoorsaam maak,
49wat my vry gemaak het van my vyande.
U het gesorg dat hulle my nie bykom nie;
U het my weggeruk van mense wat net op geweld uit is.
50Daarom wil ek U prys, Here,
wil ek vir die mense sing tot u eer.
51Die Here laat sy koning ver wen;
Hy is goed vir die koning wat Hy gekies het,
vir Dawid en sy mense wat lank na hom sal regeer.

Tans Gekies:

2 Samuel 22: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid