2 Samuel 22:21-33

2 Samuel 22:21-33 ABA

Ek is onskuldig, en die Here gee vir my wat ek moet kry, ek het niks verkeerd gedoen nie, en die Here beloon my. Ja, ek het gedoen wat die Here wil hê. Wanneer my God my oordeel, dan is ek nie skuldig nie. Ek het onthou wat Hy gesê het ek moet doen, ek het gedoen wat Hy beveel het. Ek het alles gedoen wat Hy gesê het, ek het aangehou om reg te doen. Ek is onskuldig. Die Here het gesien dat ek niks verkeerd doen nie, en Hy het my beloon. U doen wat U belowe het vir die mense wat doen wat húlle belowe. U is altyd goed vir die mense wat net goed doen. Wanneer mense rein is en by U mag wees, dan is U by hulle. Wanneer mense vals is, dan is U te slim vir hulle. U red mense wat hulleself nie kan beskerm nie, en U verneder mense wat dink hulle is belangrik. Ja, Here, U gee vir my lig, U maak lig wanneer dit donker is om my. Ja, wanneer U by my is, dan kan ek 'n klomp mense aanval, wanneer U, my God, by my is, dan kan ek oor 'n hoë muur spring. “Wat God doen, is alles reg, wat die Here sê, is altyd waar. Hy is soos 'n skild vir almal wat na Hom toe vlug. Die Here is die enigste God, net ons God is 'n Rots. Hy is die God wat sterk is, ek is veilig by Hom, Hy maak my lewe veilig.