2 Samuel 22:21-33

2 Samuel 22:21-33 AFR20

“Die HERE het aan my goed gedoen, op grond van my geregtigheid; omdat my hande skoon is, het Hy my vergoed. Want ek het op die HERE se paaie gebly; en my nie skuldig gemaak voor my God nie. Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte – daarvan wyk ek nie af nie. Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sonde. Die HERE het my vergoed, op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë. “Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor die held wat onberispelik is, tree U onberispelik op; teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree U berekenend op! 'n Magtelose volk word deur U verlos, en u oë hou hoogmoediges dop; U verneder hulle. Ja, U is my lig, HERE; die HERE verlig my donkerte. Ja, met U hardloop ek oor 'n skans, met my God spring ek oor 'n muur. “God, sy weg is volmaak; die woord van die HERE is gelouter. Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil. Ja, wie is God behalwe die HERE? Wie is 'n rots buiten ons God? God is my sterk toevlug; Hy maak my pad volmaak.