2 KONINGS 4:1-17
2 KONINGS 4:1-17 Bybel vir almal (ABA)
Een van die profete se vrou het na Elisa toe gekom en sy het vir hom gevra dat hy haar moet help. Sy het gesê: “My man is dood. Jy weet self dat hy die Here gedien het. Maar hy het geld vir 'n man geskuld, en nou het daardie man gekom om my twee seuns te vat. Hy wil hulle sy slawe maak.” Elisa het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen? Sê vir my wat het jy in jou huis.” Sy het gesê: “Ek het niks in die huis nie. Ek het net 'n kruikie olyf-olie.” Toe sê Elisa: “Gaan leen by jou bure leë kruike, jy moet baie kruike leen. Gaan dan in jou huis en sluit die deur. Dan moet jy en jou seuns al die kruike vol olyf-olie gooi en julle moet die kruike bêre wat vol is.” Die vrou het gegaan en sy het die deur agter haar toegesluit. Haar seuns het die kruike vir haar gegee en sy het dit volgemaak. Toe die kruike almal vol is, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog 'n kruik.” Die seun het vir haar gesê: “Daar is nie meer kruike nie.” En toe het daar nie meer olyf-olie uit die kruikie gekom nie. Sy het dit vir die man van God gaan sê, en hy het gesê: “Gaan verkoop nou die olyf-olie en betaal die skuld. Jy en jou seuns kan dan lewe van die geld wat oorbly.” Toe Elisa eendag in die stad Sunem kom, het 'n ryk vrou hom genooi om by hulle te kom eet. Hy het toe elke maal wanneer hy daar gekom het, na haar huis gegaan om te eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Luister na wat ek sê, die man van God is 'n gewyde man en hy kom baie maal by ons. Kom ons maak die klein bo-kamer vir hom gereed, en ons sit daar vir hom 'n bed en 'n stoel en 'n tafel en 'n lamp. Dan kan hy elke maal wanneer hy by ons kom, daar gaan bly.” Hulle het dit toe gedoen. Eendag het Elisa gekom en hy het in die bo-kamer op die bed gaan lê. Hy sê toe vir die jongman Gehasi wat vir hom werk: “Gaan roep vir my hierdie vrou van Sunem.” Gehasi het haar gaan roep, en sy het by die deur kom staan. Toe sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: Jy het baie gedoen om vir ons te help. Wat kan ons vir jóú doen? Kan ek vir die koning of vir die hoof van die leër iets sê oor jou?” Die vrou het geantwoord: “Nee, ek woon by my eie mense.” Elisa sê toe: “Ek wonder wat ek vir haar kan doen.” En toe sê Gehasi: “Ek weet wat jy vir haar kan doen. Sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.” Elisa het gesê Gehasi moet die vrou gaan roep, en sy het by die deur kom staan. Toe sê Elisa vir die vrou: “Jy sal volgende jaar hierdie tyd jou eie seun in jou arms hou.” Die vrou het gesê: “Nee, Meneer, jy is 'n man van God, jy moenie vir my jok nie.” Maar die vrou het swanger geword en sy het 'n seun gekry op die tyd wat Elisa gesê het.
2 KONINGS 4:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN 'n sekere vrou uit die vroue van die profete-seuns het na Elísa geroep en gesê: U dienaar, my man, is dood, en u weet self dat u dienaar die HERE gevrees het; nou het die skuldeiser gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem. Toe sê Elísa vir haar: Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het. En sy antwoord: U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe 'n flessie met olie. En hy sê: Gaan leen vir jou van buite af kanne, leë kanne van al jou bure; leen nie te min nie. Gaan dan in en sluit die deur agter jou en jou seuns toe, en giet in al daardie kanne en sit weg wat vol is. Sy het toe van hom af weggegaan en die deur agter haar en haar seuns toegesluit; en terwyl hulle vir haar aanbring, giet sy in. Sodra die kanne vol was, sê sy aan haar seun: Bring vir my nog 'n kan aan; maar hy antwoord haar: Daar is geen kan meer nie. Toe gaan die olie staan. Daarop kom sy om dit die man van God te kenne te gee; en hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skulde; van die orige kan jy en jou seuns dan lewe. En op 'n dag het Elísa verbygegaan na Sunem; en daar was 'n vermoënde vrou wat by hom aangehou het dat hy brood sou eet. En so dikwels as hy verbygaan, het hy daarheen weggedraai om brood te eet. En sy het aan haar man gesê: Kyk tog, ek merk dat dit 'n heilige man van God is wat gedurig by ons verbygaan; laat ons tog 'n klein ommuurde bo-kamer maak, en laat ons daar vir hom 'n bed en 'n tafel en 'n stoel en 'n lamp neersit; wanneer hy dan by ons kom, kan hy daar intrek. En toe hy op 'n dag daar kom, het hy in die bo-kamer ingetrek en daar gaan lê en aan sy dienaar Gehási gesê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy voor hom gaan staan het, sê hy vir hom: Vra haar tog: Kyk, jy het al hierdie sorg aan ons bestee; wat kan daar vir jou gedoen word? Kan daar vir jou 'n goeie woord gedoen word by die koning of die leërowerste? Maar sy antwoord: Ek woon onder my volk. Daarop sê hy: Wat kan daar dan vir haar gedoen word? En Gehási antwoord: Voorwaar, sy het geen seun nie, en haar man is oud. En hy sê: Roep haar. En toe hy haar geroep en sy in die deur gaan staan het, sê hy: Sulke tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun omhels. En sy antwoord: Ag nee, my heer, man van God, moenie vir u dienares lieg nie! En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar op daardie tyd oor 'n jaar, soos Elísa met haar gespreek het.
2 KONINGS 4:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: “My man is dood. U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak.” Elisa het vir haar gesê: “Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy in jou huis?” Sy het geantwoord: “Ek het niks in die huis nie behalwe 'n erdekannetjie olie.” Hy het toe gesê: “Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en sorg dat jy nie te min leen nie. Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom wegpak.” Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle volgemaak. Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: “Bring vir my nog 'n kruik.” Maar hy het gesê: “Daar is nie meer 'n kruik oor nie.” Toe het daar nie meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly.” Op 'n dag het Elisa na Sunem toe gegaan. Daar was 'n vooraanstaande vrou wat by hom daarop aangedring het om vir ete oor te bly. Elke keer as hy daar verbykom, het hy eers by haar aangegaan om te eet. Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is 'n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom. Kom ons bou 'n klein bovertrekkie en sit vir hom 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.” Op 'n dag toe Elisa weer daar aankom, het hy in die bovertrek ingetrek en gaan rus. Hy het vir Gehasi sy slaaf gesê: “Roep bietjie die Sunemmitiese vrou.” Gehasi het haar geroep, en toe sy voor Elisa se kamer staan, sê hy vir sy slaaf: “Sê vir haar: Jy het al hierdie moeite vir ons gedoen. Wat kan ek vir jou doen? Sal ek vir jou 'n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër?” “Ek woon hier tussen my eie mense,” was haar antwoord. Hy vra toe: “Maar kan daar nie iets vir haar gedoen word nie?” Waarop Gehasi antwoord: “Ja tog, sy het nie 'n seun nie, en haar man is al oud.” “Roep haar hiernatoe,” sê Elisa. Toe Gehasi haar nader roep, het sy in die deur kom staan. Toe sê Elisa: “Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou.” Sy antwoord: “Nee, Meneer, u is 'n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!” Die vrou het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring, presies 'n jaar later, net soos Elisa vir haar gesê het.
2 KONINGS 4:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Sekere vrou, die vrou van iemand uit die profetegroep, het die hulp van Elisa ingeroep: “U dienaar, my man, is dood; en u weet self dat u dienaar ontsag gehad het vir die HERE. Die skuldeiser het nou gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem. ” Toe sê Elisa vir haar: “Wat kan ek vir jou doen? Vertel my wat jy in jou huis het.” Sy het geantwoord: “U slavin het niks in die huis nie, net 'n kruikie met olie.” Hy sê toe: “Gaan vra houers by al jou bure in die straat, leë houers. Moet net nie te min vra nie. Gaan daarna in en sluit die deur agter jou en jou seuns. Gooi dan die olie in al hierdie houers. Dié wat vol is, moet jy eenkant neersit.” Sy het toe van hom af weggegaan. Sy het die deur agter haar en haar seuns gesluit. Hulle het vir haar die houers aangegee, en sy het ingegooi. Toe die houers vol was, het sy vir haar seun gesê: “Gee nog 'n houer vir my aan.” Maar hy het vir haar gesê: “Daar is nie nog 'n houer nie.” Die olie het toe ophou vloei. Sy het gegaan en dit vir die man van God vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oor is.” Op 'n dag het Elisa na Sunem oorgegaan. Daar was 'n invloedryke vrou, en sy het daarop aangedring dat hy by haar eet. Telkens wanneer hy daar verbygegaan het, het hy daarheen afgedraai om te eet. Sy het vir haar man gesê: “Kyk, ek is daarvan oortuig dat dit 'n heilige man van God is wat gereeld hier by ons verbygaan. Kom ons maak tog 'n klein ommuurde bovertrek en sit vir hom daar 'n bed, tafel, stoel en 'n lamp neer, sodat, wanneer hy by ons kom, hy daarheen kan afdraai.” Op 'n dag het Elisa daar aangekom, na die bovertrek afgedraai en daar gaan lê. Hy sê toe vir Gehasi, sy dienaar: “Roep hierdie Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het voor hom gaan staan. Daarop sê hy vir Gehasi: “Sê asseblief vir haar, ‘Kyk, jy het vir ons al hierdie moeite gedoen. Wat kan daar nou vir jou gedoen word? Kan ons vir jou 'n woord doen by die koning of die bevelvoerder van die leër? ’ ” Maar sy het gesê: “Ek woon onder my eie mense.” Elisa sê toe: “Maar wat kan vir haar gedoen word?” Gehasi het geantwoord: “Wel, sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.” Hy sê toe: “Roep haar!” Hy het haar geroep en sy het in die deur gaan staan. “Teen hierdie tyd oor 'n jaar,” het Elisa gesê, “sal jy 'n seuntjie omhels.” Maar sy het gesê: “Nee, my heer, man van God! Moenie vir u slavin 'n leuen vertel nie! ” Die vrou het egter swanger geword en 'n jaar later teen dieselfde tyd 'n seun in die wêreld gebring, soos Elisa haar verseker het.
2 KONINGS 4:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar het 'n sekere vrou uit die vroue van die profete-seuns na Elísa geroep en gesê: U dienaar, my man, is dood; en jy weet dat jou kneg die HERE gevrees het, en die skuldeiser het gekom om my twee seuns vir hom te neem om slawe te wees. Toe sê Elísa vir haar: Wat moet ek vir jou doen? sê vir my, wat het jy in die huis? En sy sê: U dienares het niks in die huis nie, behalwe 'n pot olie. Toe sê hy: Gaan leen vir jou kanne van al jou bure, leë kanne; leen nie 'n paar nie. En as jy ingaan, moet jy die deur vir jou en jou seuns toesluit en in al daardie voorwerpe uitgiet, en jy moet wat vol is, opsy sit. Sy het toe van hom af weggegaan en die deur vir haar en haar seuns toegesluit, wat die voorwerpe vir haar gebring het; en sy het uitgegooi. En toe die kanne vol was, sê sy vir haar seun: Bring vir my nog 'n voorwerp. En hy sê vir haar: Daar is nie 'n vat meer nie. En die olie het gebly. Daarna het sy gekom en dit aan die man van God vertel. En hy sê: Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld, en laat jy en jou kinders van die ander lewe lewe. En dit het op 'n dag gekom dat Elísa na Sunem oorgegaan het, waar 'n groot vrou was; en sy het hom gedwing om brood te eet. En so het hy so dikwels as hy verbygegaan het, daarheen ingedraai om brood te eet. En sy sê vir haar man: Kyk tog, ek merk dat dit 'n heilige man van God is wat gedurigdeur by ons verbygaan. Laat ons tog 'n kamertjie teen die muur maak; en laat ons daar vir hom 'n bed en 'n tafel en 'n stoeltjie en 'n kandelaar neersit; en as hy by ons kom, moet hy daarheen indraai. En dit het op 'n dag gekom dat hy daarheen gekom het, en hy het in die kamer ingegaan en daar gaan lê. En hy sê vir sy dienaar Gehasi: Roep hierdie Sunamitiese. En toe hy haar roep, gaan sy voor hom staan. En hy sê vir hom: Sê nou vir haar: Kyk, jy het met al hierdie sorg vir ons gesorg; wat moet vir jou gedoen word? sou jy aan die koning of aan die leërowerste gespreek word? En sy antwoord: Ek woon onder my eie mense. En hy sê: Wat moet dan vir haar gedoen word? En Gehasi antwoord: Voorwaar, sy het geen kind nie, en haar man is oud. En hy sê: Roep haar. En toe hy haar roep, gaan staan sy in die deur. En hy sê: Teen hierdie tyd, volgens die tyd van die lewe, moet jy 'n seun omhels. En sy sê: Nee, my heer, jy man van God, lieg nie vir u dienares nie. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar in die tyd wat Elísa vir haar gesê het, volgens die tyd van die lewe.
2 KONINGS 4:1-17 Die Boodskap (DB)
Die weduwee van een van Elisa se medeprofete het baie mooi vir Elisa gevra om haar te help. Sy het gesê: “My man, wat vir u gewerk het, is dood. U weet self dat hy die Here getrou gedien het. Maar nou was die skuldeiser by my. Hy dreig om my twee seuns vir hom as slawe te neem.” “Wat kan ek vir jou doen?” het Elisa gevra. “Vertel my wat jy in die huis het.” Sy het geantwoord: “Ek het net mooi niks oor nie. Net ’n flessie olyfolie.” Elisa sê toe: “Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy kan kry. Moenie te min leen nie. Maak dan die deur agter jou en die seuns toe en maak al die kanne vol olie. Sit die volles eenkant neer.” Sy het presies gedoen wat Elisa gesê het. Die seuns het die kanne aangegee en sy het dit volgemaak. Toe al die kanne vol was, het sy gesê: “Gee nog een aan,” maar haar seun het geantwoord: “Daar is nie meer nie!” Net toe het die olie opgehou vloei. Die weduwee het vir Elisa gaan vertel wat gebeur het. Hy sê toe vir haar: “Gaan verkoop nou die olie. Betaal jou skuld af en gebruik die geld wat oor is om jou en jou seuns te onderhou.” Op ’n dag het Elisa deur die dorp Sunem gereis. ’n Vooraanstaande vrou van die dorp het by hom aangedring om iets by haar huis te kom eet. Daarna het dit elke keer gebeur. Wanneer hy in die dorp was, het hy by haar iets gaan eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Weet jy, ek is seker die besoeker wat dikwels hier by ons kom eet, is ’n spesiale boodskapper van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamer op die huis. Ons kan dit mooi inrig met ’n paar stukkies meubels, soos ’n bed, tafel, stoel en ’n lamp. Dan kan hy, wanneer hy ook al hier aankom, by ons oorbly.” Toe Elisa weer ’n keer in Sunem was, het hy opgegaan kamer toe om te gaan rus. Hy het vir sy assistent, Gehasi, gesê: “Gaan sê vir die vrou ek wil met haar praat.” Toe sy daar bo kom, het hy vir Gehasi gesê: “Sê vir haar: Ons waardeer die baie moeite wat jy vir ons gedoen het. Is daar dalk iets wat ek vir jou kan doen? Kan ek vir jou ’n goeie woord by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?” “Nee, dankie,” het sy geantwoord, “ek woon doodgelukkig hier tussen my mense.” Later het Elisa vir Gehasi gevra: “Wat kan ons tog vir die vrou doen?” “Daar is tog iets,” het Gehasi gesê, “sy het nie ’n seun nie en haar man is al ’n ou man.” Elisa sê toe: “Roep haar gou weer hier na my toe!” Toe sy daar bo kom, het sy in die deur van sy kamer bly staan. Hy het vir haar gesê: “Teen dié tyd volgende jaar sal jy ’n seuntjie in jou arms vashou.” Sy het skerp geantwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my vals hoop gee nie!” Maar sy het begin verwag en omtrent ’n jaar later is haar seuntjie gebore, net soos Elisa voorspel het.
2 KONINGS 4:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n dag kom die weduwee van een van die profete na Elisa toe en bekla haar nood by hom: “My man, u dienaar, is dood. U weet hoe hy die HERE gedien het. Nou dreig die skuldeiser om my twee seuns as slawe weg te neem.” “Wat kan ek doen om jou te help?” vra Elisa. “Sê vir my, wat het jy in jou huis?” “Hoegenaamd niks nie, behalwe ’n kan met olie,” antwoord sy. Toe sê Elisa: “Gaan leen leë kruike by al jou bure. Leen soveel as wat jy kan kry. Dan moet jy en jou seuns in jou huis ingaan en die deur agter julle toemaak. Maak dan al die leë kruike vol olie. Dié wat vol is, moet jy eenkant sit.” Sy het gedoen soos hy gesê het en die deur agter hulle toegemaak. Haar seuns het die kruike vir haar gebring, en sy het die een na die ander vol gemaak. Spoedig was elke kruik propvol! “Bring vir my nog ’n kruik,” sê sy vir een van haar seuns. “Daar is nie meer nie!” sê hy vir haar. Toe het daar nie meer olie uit die kan gekom nie. Sy het vir die man van God gaan vertel wat gebeur het. Hy sê vir haar: “Gaan verkoop nou die olie en betaal jou skuld. Van dit wat oorbly, kan jy en jou seuns lewe.” Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet. Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.” Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus. Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunemmitiese vrou.” Toe sy daar aankom, sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’” “Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.” Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?” Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.” “Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan: “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!” “Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.” Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het.