2 Konings 4:1-17

2 Konings 4:1-17 DB

Die weduwee van een van Elisa se medeprofete het baie mooi vir Elisa gevra om haar te help. Sy het gesê: “My man, wat vir u gewerk het, is dood. U weet self dat hy die Here getrou gedien het. Maar nou was die skuldeiser by my. Hy dreig om my twee seuns vir hom as slawe te neem.” “Wat kan ek vir jou doen?” het Elisa gevra. “Vertel my wat jy in die huis het.” Sy het geantwoord: “Ek het net mooi niks oor nie. Net ’n flessie olyfolie.” Elisa sê toe: “Gaan leen by al jou bure soveel leë kanne as wat jy kan kry. Moenie te min leen nie. Maak dan die deur agter jou en die seuns toe en maak al die kanne vol olie. Sit die volles eenkant neer.” Sy het presies gedoen wat Elisa gesê het. Die seuns het die kanne aangegee en sy het dit volgemaak. Toe al die kanne vol was, het sy gesê: “Gee nog een aan,” maar haar seun het geantwoord: “Daar is nie meer nie!” Net toe het die olie opgehou vloei. Die weduwee het vir Elisa gaan vertel wat gebeur het. Hy sê toe vir haar: “Gaan verkoop nou die olie. Betaal jou skuld af en gebruik die geld wat oor is om jou en jou seuns te onderhou.” Op ’n dag het Elisa deur die dorp Sunem gereis. ’n Vooraanstaande vrou van die dorp het by hom aangedring om iets by haar huis te kom eet. Daarna het dit elke keer gebeur. Wanneer hy in die dorp was, het hy by haar iets gaan eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Weet jy, ek is seker die besoeker wat dikwels hier by ons kom eet, is ’n spesiale boodskapper van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamer op die huis. Ons kan dit mooi inrig met ’n paar stukkies meubels, soos ’n bed, tafel, stoel en ’n lamp. Dan kan hy, wanneer hy ook al hier aankom, by ons oorbly.” Toe Elisa weer ’n keer in Sunem was, het hy opgegaan kamer toe om te gaan rus. Hy het vir sy assistent, Gehasi, gesê: “Gaan sê vir die vrou ek wil met haar praat.” Toe sy daar bo kom, het hy vir Gehasi gesê: “Sê vir haar: Ons waardeer die baie moeite wat jy vir ons gedoen het. Is daar dalk iets wat ek vir jou kan doen? Kan ek vir jou ’n goeie woord by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?” “Nee, dankie,” het sy geantwoord, “ek woon doodgelukkig hier tussen my mense.” Later het Elisa vir Gehasi gevra: “Wat kan ons tog vir die vrou doen?” “Daar is tog iets,” het Gehasi gesê, “sy het nie ’n seun nie en haar man is al ’n ou man.” Elisa sê toe: “Roep haar gou weer hier na my toe!” Toe sy daar bo kom, het sy in die deur van sy kamer bly staan. Hy het vir haar gesê: “Teen dié tyd volgende jaar sal jy ’n seuntjie in jou arms vashou.” Sy het skerp geantwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my vals hoop gee nie!” Maar sy het begin verwag en omtrent ’n jaar later is haar seuntjie gebore, net soos Elisa voorspel het.