2 KORINTIËRS 3:2-3
2 KORINTIËRS 3:2-3 Bybel vir almal (ABA)
Júlle is ons brief. Christus het hierdie brief op ons harte geskryf, en al die mense ken hierdie brief en hulle lees dit. Julle wys duidelik dat julle 'n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte.
2 KORINTIËRS 3:2-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik 'n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.
2 KORINTIËRS 3:2-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.
2 KORINTIËRS 3:2-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle is ons brief, geskryf in ons harte, gelees en verstaan deur alle mense. Julle is duidelik 'n brief van •Christus wat deur ons diens opgestel is, geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte.
2 KORINTIËRS 3:2-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Julle is ons brief geskrywe in ons harte, bekend en gelees deur alle mense: Aangesien julle duidelik verklaar is as die brief van Christus wat deur ons bedien is, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op vlesige tafels van die hart.
2 KORINTIËRS 3:2-3 Die Boodskap (DB)
Julle self is immers my getuigskrif. Ek het nie die een of ander getuigskrif van julle kant af nodig om my goeie kwaliteite te besing soos party ander mense doen nie. Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra. Julle is soos ’n brief wat in my hart neergeskryf is en wat ek elke dag lees. Natuurlik lees al die ander mense wat elke dag met julle te doen het, julle ook. Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is. Toe ek daar by julle gepreek het, het Hy in julle lewe begin skryf. Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie. Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik. Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie, maar op die tafels van julle hart. Hy het julle splinternuut gemaak.
2 KORINTIËRS 3:2-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle is tog self ons brief, geskryf op ons harte, bekend aan en gelees deur alle mense. Julle toon duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens voorberei en geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte.