2 KORINTIËRS 12:11-21
2 KORINTIËRS 12:11-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het soos 'n dwaas opgetree! Julle het my daartoe gedwing, want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het, omdat ek geensins agtergestaan het by die sogenaamde super-apostels nie, al is ek ook niks. Dit wat 'n •apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade. In watter opsig is julle dan swakker behandel as die ander •gemeentes, behalwe dat ek nie vir julle 'n geldelike las was nie? Vergewe my tog hierdie onreg! Kyk, dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle te kom. En ek sal nie 'n geldelike oorlas wees nie, want ek soek nie julle besittings nie, maar vir julle. Dit is nie die kinders wat moet spaar vir die ouers nie, maar die ouers vir die kinders. Wat my betref, sal ek met graagte betaal, en myself as betaling gee, ter wille van julle siele. As ek julle oorvloediger liefhet, waarom ontvang ek dan minder liefde? Nou goed, ek het julle dus nie belas nie. Maar aangesien ek 'n slinkse mens is, het ek julle glo met lis gevang! Het ek julle miskien uitgebuit deur enigeen van dié wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus aangespoor, en die broer saam met hom gestuur – het Titus julle miskien uitgebuit? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde voetspore, gewandel nie? Julle dink reeds lankal dat ons onsself teenoor julle verdedig. Deur •Christus praat ons in die teenwoordigheid van God; en dit alles, geliefdes, is om julle op te bou. Ek is bevrees dat as ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek graag wil nie, en ek deur julle bevind sal word soos julle graag wil nie; dat daar miskien onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid sal wees; dat wanneer ek weer kom, my God my voor julle sal verneder, en ek sal treur oor baie van dié wat vroeër gesondig het, en hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AL roemende het ek dwaas geword. Julle het my daartoe genoodsaak. Want ek moes deur julle aanbeveel geword het; want ek het niks by dié uitnemende apostels agtergestaan nie, al is ek niks nie. Die kentekens tog van 'n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade. Want wat is daar waarin julle oortref word deur die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik julle nie lastig geval het nie? Vergeef my hierdie onreg. Kyk, vir die derde keer is ek gereed om na julle te kom; en ek sal julle nie lastig val nie, want ek soek nie julle goed nie, maar julle self; want dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders. En ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin. Maar laat dit so wees! Ek het julle nie beswaar nie, maar omdat ek slim was, het ek julle met lis gevang. Het ek my dan ten koste van julle bevoordeel deur een van die wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus gevra en die broeder saamgestuur. Het Titus hom dan ten koste van julle bevoordeel? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde spore gewandel nie? DINK julle weer dat ons ons by julle verdedig? Ons spreek in die teenwoordigheid van God in Christus, en dit alles, geliefdes, tot julle stigting. Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie — dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, toornigheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid, wanordelikheid; dat as ek gekom het, my God my miskien weer by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle bedryf het nie.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Bybel vir almal (ABA)
As ek so spog, dan doen ek dieselfde soos 'n dom mens doen. Maar dit is júlle wat my dit laat doen. Want julle is die mense wat vir my moes geglo het. Party van daardie vals apostels dink dat hulle beter is as ek en hulle sê dat ek niks beteken nie, maar ek is so goed soos hulle. Ek het baie maal by julle dinge gedoen wat wys dat ek 'n ware apostel is. Ek het tekens en wonderwerke gedoen en ander dinge wat wys hoe sterk God is. Ek het by julle niks anders gedoen as in die ander gemeentes nie. Maar ek het nie vir julle geld gevra vir myself nie. As dit verkeerd was, dan moet julle my vergewe. Dit is nou die derde maal dat ek na julle toe sal kom. Ek sal nie vir julle geld vra vir myself nie. Ek wil nie julle geld hê nie, ek wil vir júlle hê. Julle weet hoe die lewe is: Dit is nie die kinders wat vir die ouers geld moet spaar nie, nee, dit is die ouers wat vir die kinders geld moet spaar. Ek sal baie graag alles wil gee wat ek het, ek sal ook alles wil gee wat ek is sodat ek vir julle kan help. As ek so baie lief is vir julle, dan mag julle nie minder lief wees vir my nie. Ja, ek het nie vir julle geld gevra sodat ek vir myself kon sorg nie. Maar daar is miskien party van julle wat sê dat ek baie slim was en dat ek ander skelm dinge gedoen het om julle te bedrieg. Het ek julle bedrieg toe ek een van die mense wat saam met my werk, na julle toe gestuur het? Nee. Julle onthou dat ek vir Titus gevra het om na julle toe te kom. Ek het ook iemand anders saamgestuur, iemand wat saam met ons werk. Julle weet dat Titus julle nie bedrieg het nie. En ek dink soos Titus en ek doen dieselfde wat hy doen. Julle dink miskien nog altyd dat ons besig is om te wys dat ons nie iets verkeerd gedoen het nie sodat julle kan dink ons is goed. Nee, ons is mense wat aan Christus behoort, ons weet dat God alles hoor wat ons sê. Daarom sê ons hierdie dinge. Ons doen alles omdat ons lief is vir julle en omdat ons julle geloof sterker wil maak. Ek is bang dat wanneer ek by julle kom, dan sal julle nie wees soos ek graag wil hê julle moet wees nie. En miskien is ék ook nie soos julle graag wil hê ek moet wees nie. Miskien haat julle ander mense, miskien stry julle met almal, miskien maak julle mense kwaad vir mekaar, miskien maak julle mense vyande van mekaar, miskien beledig julle mekaar, miskien skinder julle van mekaar, miskien dink die een mens hy is beter as die ander mens, of miskien maak julle probleme. Ek is bang dat God my sal verneder wanneer ek weer daar by julle kom. Hoekom? Omdat ek miskien sal huil en treur oor baie mense in die gemeente wat sonde gedoen het en wat nie verander het nie, hulle lewe nie soos God wil hê nie. Ek is bang dat hulle nog die dinge doen wat hulle altyd gedoen het, dat hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, dat hulle onsedelik lewe, en dat hulle doen wat hulle wil.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AL roemende het ek dwaas geword. Julle het my daartoe genoodsaak. Want ek moes deur julle aanbeveel geword het; want ek het niks by dié uitnemende apostels agtergestaan nie, al is ek niks nie. Die kentekens tog van 'n apostel is onder julle verwerklik met alle volharding deur tekens en wonders en kragtige dade. Want wat is daar waarin julle oortref word deur die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik julle nie lastig geval het nie? Vergeef my hierdie onreg. Kyk, vir die derde keer is ek gereed om na julle te kom; en ek sal julle nie lastig val nie, want ek soek nie julle goed nie, maar julle self; want dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders. En ek sal baie graag uitgee, ja, myself weggee vir julle siele, al word ek, terwyl ek julle oorvloediger liefhet, minder bemin. Maar laat dit so wees! Ek het julle nie beswaar nie, maar omdat ek slim was, het ek julle met lis gevang. Het ek my dan ten koste van julle bevoordeel deur een van die wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus gevra en die broeder saamgestuur. Het Titus hom dan ten koste van julle bevoordeel? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde spore gewandel nie? DINK julle weer dat ons ons by julle verdedig? Ons spreek in die teenwoordigheid van God in Christus, en dit alles, geliefdes, tot julle stigting. Want ek vrees dat ek julle by my koms miskien nie sal vind soos ek wens nie, en dat ek deur julle gevind sal word soos julle nie wens nie — dat daar miskien sal wees twis, jaloersheid, toornigheid, verdeeldheid, kwaadsprekery, nuusdraery, verwaandheid, wanordelikheid; dat as ek gekom het, my God my miskien weer by julle sal verneder en ek sal treur oor baie van die wat vroeër gesondig het en hulle nie bekeer het van die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle bedryf het nie.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het nou soos 'n dwaas opgetree. Julle het my daartoe verplig. Eintlik is dit julle wat in my guns moes gepraat het, want al is ek niks, staan ek niks agter by daardie danige apostels nie. Die dinge wat 'n apostel kenmerk, het ek met groot geduld by julle verrig: tekens en wonders en kragtige dade. Waarin is julle swakker behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek persoonlik nie vir julle tot 'n geldelike las was nie? Vergewe my hierdie onreg! Dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle toe te kom, en ek sal nie vir julle 'n las wees nie: ek soek nie julle geld nie, maar vir julle. Dit is immers nie die kinders wat vir die ouers sorg nie, maar die ouers vir die kinders. Ek sou graag alles wil gee vir julle lewe, ja, ook myself. As ek julle soveel meer liefhet as wat die ander julle het, het julle my dan minder lief as vir hulle? Goed, ek was dus nie vir julle 'n oorlas nie. Maar julle kan dink ek was slim en ek het julle uitoorlê. Het ek myself dan miskien ten koste van julle geldelik bevoordeel deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het? Ek het vir Titus gevra om na julle toe te gaan en die ander broer saamgestuur. Het Titus homself dan geldelik bevoordeel ten koste van julle? Handel hy en ek nie in dieselfde gees nie, en loop ons nie in dieselfde spore nie? Julle dink seker lankal dat ons ons by julle probeer verdedig? Nee, ons praat in verantwoordelikheid aan God en in verbondenheid met Christus. Alles wat ons doen, geliefdes, is in belang van julle geestelike opbou. Ek is bang dat, wanneer ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek dit graag wil hê nie, en dat julle my ook nie sal vind soos julle dit graag wil hê nie. Ek is bang vir twis, naywer, onbeheerstheid, selfsug, kwaadpratery, nuusdraery, verwaandheid en wanordelikheid. Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle in verleentheid sal bring en dat ek sal moet treur oor baie van julle wat geruime tyd al 'n sondige lewe lei en wat oor hulle onreinheid, ontug en losbandigheid nie tot berouvolle inkeer gekom het nie.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het soos 'n dwaas opgetree! Julle het my daartoe gedwing, want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het, omdat ek geensins agtergestaan het by die sogenaamde super-apostels nie, al is ek ook niks. Dit wat 'n •apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade. In watter opsig is julle dan swakker behandel as die ander •gemeentes, behalwe dat ek nie vir julle 'n geldelike las was nie? Vergewe my tog hierdie onreg! Kyk, dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle te kom. En ek sal nie 'n geldelike oorlas wees nie, want ek soek nie julle besittings nie, maar vir julle. Dit is nie die kinders wat moet spaar vir die ouers nie, maar die ouers vir die kinders. Wat my betref, sal ek met graagte betaal, en myself as betaling gee, ter wille van julle siele. As ek julle oorvloediger liefhet, waarom ontvang ek dan minder liefde? Nou goed, ek het julle dus nie belas nie. Maar aangesien ek 'n slinkse mens is, het ek julle glo met lis gevang! Het ek julle miskien uitgebuit deur enigeen van dié wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus aangespoor, en die broer saam met hom gestuur – het Titus julle miskien uitgebuit? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde voetspore, gewandel nie? Julle dink reeds lankal dat ons onsself teenoor julle verdedig. Deur •Christus praat ons in die teenwoordigheid van God; en dit alles, geliefdes, is om julle op te bou. Ek is bevrees dat as ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek graag wil nie, en ek deur julle bevind sal word soos julle graag wil nie; dat daar miskien onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid sal wees; dat wanneer ek weer kom, my God my voor julle sal verneder, en ek sal treur oor baie van dié wat vroeër gesondig het, en hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het 'n dwaas geword in roem; julle het my gedwing, want ek moes deur julle geprys gewees het, want in niks is ek agter die heel vernaamste apostels nie, al is ek niks. Waarlik, die tekens van 'n apostel is onder julle gedoen in alle lankmoedigheid, in tekens en wonders en magtige dade. Want wat is dit waarin julle minderwaardig was as ander gemeentes, behalwe dat ek self nie vir julle 'n las was nie? vergewe my hierdie verkeerd. Kyk, die derde keer is ek gereed om na julle te kom; en ek sal vir julle nie 'n las wees nie, want ek soek nie julle s'n nie, maar julle; want die kinders behoort nie vir die ouers op te lê nie, maar die ouers vir die kinders. En ek sal baie graag vir jou spandeer en spandeer word; alhoewel hoe meer ek jou liefhet, hoe minder word ek liefgehad. Maar hoe dit ook al sy, ek het julle nie belas nie, maar omdat ek listig was, het ek julle met bedrog betrap. Het ek vir julle 'n wins gemaak deur enige van hulle wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus begeer, en saam met hom 'n broer gestuur. Het Titus 'n wins van jou gemaak? het ons nie in dieselfde gees gewandel nie? het ons nie in dieselfde voetstappe geloop nie? Weereens, dink julle dat ons onsself aan julle verontskuldig? ons spreek voor God in Christus, maar ons doen alles, geliefdes, tot julle opbou. Want ek vrees dat ek julle, as ek kom, julle nie sal vind soos ek wil nie, en dat ek vir julle gevind sal word soos julle nie wou nie, rumoer: En dat my God my nie, wanneer ek terugkom, my onder julle sal verneder nie, en dat ek baie sal treur wat reeds gesondig het en nie berou gehad het oor die onreinheid en hoerery en ongebondenheid wat hulle gepleeg het nie.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Die Boodskap (DB)
Ja, ek het toe soos ’n dwaas oor myself gaan staan en praat. Maar julle het my gedwing om dit te doen. Dit sou nie nodig gewees het as julle my goeie naam beskerm het voor daardie danige apostels wat nou in Korinte is nie. Al dink hulle dat hulle verskriklik belangrik is, staan ek nie ’n enkele tree terug vir hulle nie. Natuurlik is ek glad nie iets besonders nie. Ek is net ’n doodgewone mens. Tog het ek alles gedoen wat van my as God se apostel verwag word. Toe ek daar by julle was, het ek groot tekens en wonders en kragtige dade gedoen. Dit is mos wat julle van ’n apostel verwag, of hoe? Sê my, het ek julle al ooit afgeskeep? Het ek julle slegter behandel as die ander gemeentes, behalwe dat ek geweier het om julle geld te aanvaar? Vergeef my tog dat ek julle hierdie verskriklike “onreg” aangedoen het. Ek staan nou op die punt om julle ’n derde maal te kom besoek. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek is nie van plan om hierdie keer julle geld te kom vat nie. Ek wil niks van julle hê nie, behalwe natuurlik dat julle voluit vir die Here moet lewe. Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg lewe. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het. Ek is so lief vir julle dat ek bereid is om alles wat ek het weg te gee vir julle. Ja, ek sal selfs my eie lewe vir julle opoffer. Daarom kan ek nie verstaan hoekom julle my al hoe minder liefhet terwyl ek julle al hoe meer liefhet nie. Julle stem teen hierdie tyd hopelik saam dat ek nog nooit enige geldelike las vir julle was nie. Maar miskien dink julle dat dit ’n skelmstreek van my kant af is. Dalk sê julle onder mekaar dat ek julle geld met ’n ompad in die hande probeer kry deur een van my helpers wat ek na julle toe gestuur het. Wel, dit is glad nie waar nie. Om seker te maak dat alles reg verloop, het ek juis vir Titus en die verteenwoordiger van al die gemeentes na julle toe gestuur. Het hulle julle dalk te kort gedoen? Natuurlik nie! Net soos hulle het ek julle ook nie probeer verkul nie. Ons drie praat immers dieselfde taal. Ek hoop nie julle dink al die tyd dat ek besig is om myself voor julle te verdedig nie. God is die enigste regter oor my lewe. Omdat ek aan Christus behoort, sal God alleen oor my lewe besluit. Maar julle kan van een ding seker wees, my liewe broers en susters: alles wat ek sê en doen, is daarop gerig om julle geloof sterk te maak. Ek is bekommerd dat my volgende besoek aan julle dalk nie so goed sal afloop as wat ek hoop nie. Ek is bang dat wanneer ek in Korinte aankom, ek sal agterkom dat julle nie leef soos volgelinge van Christus behoort te leef nie. Ja, en miskien is julle dan ook teleurgesteld in my omdat ek nie voldoen aan julle verwagtings van hoe ’n apostel moet optree nie. Dan is al ons harde werk daarmee heen. ’n Groot gestry, jaloesie, die een argument op die ander, verdeeldheid, ’n rugstekery, skinderveldtogte, hoogmoed en chaos sal dan die enigste gevolge van so ’n slegte ontmoeting tussen my en julle wees. Ek is ook bang dat my God my daar voor julle almal in die verleentheid sal bring as ek van voor af ontsteld raak oor daardie mense wat aanhou om dieselfde sondes te doen. Tot nou toe weier hulle om hulle te bekeer van al daardie vieslike onreinhede en seksuele sondes waaraan hulle meedoen.
2 KORINTIËRS 12:11-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het nou eintlik dwaas geword, maar julle het my daartoe gedwing. Want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het. Al is ek ook niks, staan ek niks agter vir daardie danige superapostels nie. Die kentekens van ’n apostel het ek oor en oor uitgewys toe ek by julle was: deur die doen van tekens, wonders en kragtige dade. In watter opsig is julle slegter daaraan toe as die ander gemeentes, behalwe dat ek self nie vir julle tot ’n las was nie? Vergewe my hierdie “onreg”! Kyk, ek is nou vir die derde keer gereed om na julle toe te kom, en ek sal nie ’n las wees nie: ek is nie agter julle goed aan nie, maar julle self. Want dit is nie dat die kinders vir hulle ouers moet sorg nie, maar die ouers vir die kinders. Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. Aangesien ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet? Laat dit vasstaan – ek was regtig nie vir julle ’n las nie. Of meen julle dalk ek was te uitgeslape en het julle met ’n slap riem gevang? Hoe? Het ek julle miskien mislei deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het? Ek het vir Titus gevra en nog ’n broer saamgestuur. Het Titus julle dan gekul? Is ons optrede en styl dan nie in dieselfde gees nie; loop ons dan nie in dieselfde spore nie? Julle dink seker al lankal dat ons hierdie dinge uit blote selfverdediging sê. Dis hoegenaamd nie die geval nie! Ons praat openlik oor hierdie dinge met God as ons getuie en vanuit ons hegte verhouding met Christus! Alles wat ons sê, geliefdes, is ter wille van julle opbou. Ek is bang dat wanneer ek kom, ek julle nie so sal aantref soos ek julle graag wil hê nie, en dat ek ook nie deur julle so aangetref sal word soos julle my graag sal wil hê nie. Ek is veral bang vir twis, naywer, botsings, selfsugtige ambisie, kwaadstokery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid. Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle sal verneder en dat ek sal treur oor baie wat al lank sonde doen en wat nie oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid berou het nie.