2 Korinthiërs 12:11-21

2 Korinthiërs 12:11-21 AFR20

Ek het soos 'n dwaas opgetree! Julle het my daartoe gedwing, want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het, omdat ek geensins agtergestaan het by die sogenaamde super-apostels nie, al is ek ook niks. Dit wat 'n •apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade. In watter opsig is julle dan swakker behandel as die ander •gemeentes, behalwe dat ek nie vir julle 'n geldelike las was nie? Vergewe my tog hierdie onreg! Kyk, dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle te kom. En ek sal nie 'n geldelike oorlas wees nie, want ek soek nie julle besittings nie, maar vir julle. Dit is nie die kinders wat moet spaar vir die ouers nie, maar die ouers vir die kinders. Wat my betref, sal ek met graagte betaal, en myself as betaling gee, ter wille van julle siele. As ek julle oorvloediger liefhet, waarom ontvang ek dan minder liefde? Nou goed, ek het julle dus nie belas nie. Maar aangesien ek 'n slinkse mens is, het ek julle glo met lis gevang! Het ek julle miskien uitgebuit deur enigeen van dié wat ek na julle gestuur het? Ek het Titus aangespoor, en die broer saam met hom gestuur – het Titus julle miskien uitgebuit? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde voetspore, gewandel nie? Julle dink reeds lankal dat ons onsself teenoor julle verdedig. Deur •Christus praat ons in die teenwoordigheid van God; en dit alles, geliefdes, is om julle op te bou. Ek is bevrees dat as ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek graag wil nie, en ek deur julle bevind sal word soos julle graag wil nie; dat daar miskien onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid sal wees; dat wanneer ek weer kom, my God my voor julle sal verneder, en ek sal treur oor baie van dié wat vroeër gesondig het, en hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie.