As ek so spog, dan doen ek dieselfde soos 'n dom mens doen. Maar dit is júlle wat my dit laat doen. Want julle is die mense wat vir my moes geglo het. Party van daardie vals apostels dink dat hulle beter is as ek en hulle sê dat ek niks beteken nie, maar ek is so goed soos hulle. Ek het baie maal by julle dinge gedoen wat wys dat ek 'n ware apostel is. Ek het tekens en wonderwerke gedoen en ander dinge wat wys hoe sterk God is. Ek het by julle niks anders gedoen as in die ander gemeentes nie. Maar ek het nie vir julle geld gevra vir myself nie. As dit verkeerd was, dan moet julle my vergewe. Dit is nou die derde maal dat ek na julle toe sal kom. Ek sal nie vir julle geld vra vir myself nie. Ek wil nie julle geld hê nie, ek wil vir júlle hê. Julle weet hoe die lewe is: Dit is nie die kinders wat vir die ouers geld moet spaar nie, nee, dit is die ouers wat vir die kinders geld moet spaar. Ek sal baie graag alles wil gee wat ek het, ek sal ook alles wil gee wat ek is sodat ek vir julle kan help. As ek so baie lief is vir julle, dan mag julle nie minder lief wees vir my nie. Ja, ek het nie vir julle geld gevra sodat ek vir myself kon sorg nie. Maar daar is miskien party van julle wat sê dat ek baie slim was en dat ek ander skelm dinge gedoen het om julle te bedrieg. Het ek julle bedrieg toe ek een van die mense wat saam met my werk, na julle toe gestuur het? Nee. Julle onthou dat ek vir Titus gevra het om na julle toe te kom. Ek het ook iemand anders saamgestuur, iemand wat saam met ons werk. Julle weet dat Titus julle nie bedrieg het nie. En ek dink soos Titus en ek doen dieselfde wat hy doen. Julle dink miskien nog altyd dat ons besig is om te wys dat ons nie iets verkeerd gedoen het nie sodat julle kan dink ons is goed. Nee, ons is mense wat aan Christus behoort, ons weet dat God alles hoor wat ons sê. Daarom sê ons hierdie dinge. Ons doen alles omdat ons lief is vir julle en omdat ons julle geloof sterker wil maak. Ek is bang dat wanneer ek by julle kom, dan sal julle nie wees soos ek graag wil hê julle moet wees nie. En miskien is ék ook nie soos julle graag wil hê ek moet wees nie. Miskien haat julle ander mense, miskien stry julle met almal, miskien maak julle mense kwaad vir mekaar, miskien maak julle mense vyande van mekaar, miskien beledig julle mekaar, miskien skinder julle van mekaar, miskien dink die een mens hy is beter as die ander mens, of miskien maak julle probleme. Ek is bang dat God my sal verneder wanneer ek weer daar by julle kom. Hoekom? Omdat ek miskien sal huil en treur oor baie mense in die gemeente wat sonde gedoen het en wat nie verander het nie, hulle lewe nie soos God wil hê nie. Ek is bang dat hulle nog die dinge doen wat hulle altyd gedoen het, dat hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, dat hulle onsedelik lewe, en dat hulle doen wat hulle wil.
Lees 2 Korintiërs 12
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: 2 Korintiërs 12:11-21
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's