2 KRONIEKE 33:1-20
2 KRONIEKE 33:1-20 Bybel vir almal (ABA)
Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 55 jaar lank koning in Jerusalem. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, dinge wat die Here gehaat het. Hy het dieselfde dinge gedoen wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kon woon. Manasse het die offer-plekke weer gebou wat sy pa Hiskia afgebreek het. Hy het altare gebou vir die Baäls en hy het gewyde pale gemaak. Manasse het gebuig vir die son en die maan en voor al die sterre in die lug en hy het hulle gedien. Die Here het gesê: “Ek wil altyd woon in Jerusalem,” maar Manasse het ook by die tempel altare gebou. Manasse het op die twee oop stukke grond by die tempel altare gebou vir die son en die maan en vir al die sterre in die lug. Hy het sy seuns verbrand in die Ben-Hinnom-vallei. Hy het gesê hy kan tekens sien en hy kan sê wat sal gebeur en hy kan toor. Hy het ook gesê hy kan praat met die geeste van mense wat gesterf het, en dat hy weet wat ander mense nie kan weet nie. Manasse het baie dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie en hy het die Here kwaad gemaak. Manasse het 'n beeld gemaak, en hy het dit in die tempel gesit. God het voorheen vir Dawid en sy seun Salomo oor daardie tempel gesê: “Ek wil altyd in hierdie tempel en in Jerusalem wees. Ek het hierdie stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel. Ek sal die Israeliete nie weer laat weggaan van die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het nie, maar dan moet hulle seker maak dat hulle alles doen wat Ek vir hulle gesê het. Hulle moet gehoorsaam wees aan al die wette en reëls wat Ek vir Moses gegee het om vir hulle te gee. Hulle moet alles doen wat Ek besluit het.” Manasse het die mense van Juda en Jerusalem verlei om slegte dinge te doen. Hulle het slegter dinge gedoen as die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag sodat die Israeliete in die land kan woon. Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het nie geluister nie. Die Here het toe die offisiere van die leër van die koning van Babel laat kom om oorlog te maak teen die mense van Juda. Die offisiere het yster-hake in Manasse se neus gesit en hulle het hom vasgebind met kettings en hom weggevat na die stad Babel. Dit het baie sleg begin gaan met Manasse, en toe het hy sy God die Here gesmeek en hy het homself heeltemal verneder voor die God van sy voorvaders. Hy het tot die Here gebid, en die Here was genadig vir hom. Die Here het gedoen wat Manasse gevra het, Hy het hom laat terugkom na Jerusalem en na sy land. Manasse het toe geweet dat dit die Here is wat God is, Hy alleen is God. Hierna het Manasse 'n muur buite om die Dawidstad laat bou. Hy het hierdie muur gebou van die Gihon-fontein wes in die vallei tot by die Vis-poort, en rondom die Ofel. Hy het die muur baie hoog gebou. Hy het ook offisiere laat bly in al die stede in Juda wat hoë mure gehad het. Manasse het die gode van die ander volke en die beeld weggevat uit die tempel en hy het al die altare laat afbreek wat hy gebou het op die tempel-berg en in Jerusalem. Hy het hulle weggegooi buite die stad. Hy het die altaar van die Here reggemaak en hy het daarop ete-offers en dank-offers ge-offer. Hy het gesê die mense van Juda moet die Here, die God van Israel, dien. Die ander mense het nog op die offer-plekke ge-offer, maar hulle het net vir hulle God die Here ge-offer. Die ander dinge wat met Manasse gebeur het, is geskryf in die Geskiedenisse van die Konings van Israel. Dit was Manasse se gebed tot sy God, en die woorde van die sieners wat teen hom gepraat het toe die Here, die God van Israel, hulle gestuur het. Sy gebed en hoe God genadig was vir hom, is geskryf in die Geskiedenisse van die Sieners. Daarin is ook geskryf van al sy sonde en dat hy ontrou was, van die offer-plekke wat hy laat bou het en die gewyde pale wat hy laat inplant het, en die beelde wat hy laat maak het voordat hy homself verneder het. Manasse het gesterf, en hulle het hom begrawe in sy paleis. Sy seun Amon het koning geword ná hom.
2 KRONIEKE 33:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MANASSE was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar in Jerusalem geregeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader Jehiskía afgebreek het, en altare opgerig vir die Baäls en heilige boomstamme gemaak en hom neergebuig voor die hele leër van die hemel en hulle gedien; ook altare gebou in die huis van die HERE waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal my Naam vir ewig wees. En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE. Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg. Hy het ook 'n gesnede afgodsbeeld wat hy gemaak het, in die huis van God opgestel waarvan God aan Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel verkies het, sal Ek vir ewig my Naam vestig. En Ek sal die voet van Israel nie meer laat wyk van die grond wat Ek vir julle vaders bestem het nie, as hulle net sorgvuldig doen alles wat Ek hulle beveel het volgens die hele wet en die insettinge en verordeninge deur die diens van Moses. Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het. En die HERE het met Manasse en met sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie. Daarom het die HERE die leërowerstes van die koning van Assirië oor hulle gebring, en dié het Manasse met hake gevang en hom met koperkettings geboei en hom na Babel vervoer. Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is. En daarna het hy 'n buitemuur vir die stad van Dawid gebou, westelik van die Gihon in die dal tot by die ingang na die Vispoort en dit om die Heuwel getrek en baie hoog gemaak, en leërowerstes in al die versterkte stede in Juda aangestel. En hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die HERE verwyder, ook al die altare wat hy op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem gebou het, en dit buitekant die stad gegooi. En hy het die altaar van die HERE weer opgerig en daar dankoffers en lofoffers op gebring en aan Juda bevel gegee om die HERE, die God van Israel, te dien. Tog het die volk nog op die hoogtes geoffer, maar net aan die HERE hulle God. En die verdere geskiedenis van Manasse en sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat tot hom gespreek het in die Naam van die HERE, die God van Israel, kyk, dit is in die Geskiedenis van die konings van Israel. En sy gebed en hoe hy verhoor is en al sy sonde en sy ontrou en die plekke waar hy hoogtes gebou en die heilige boomstamme en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Hósai. En Manasse het ontslaap met sy vaders, en hy is in sy huis begrawe; en sy seun Amon het in sy plek koning geword.
2 KRONIEKE 33:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Manasse was twaalf toe hy koning geword het en het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het die afskuwelike optrede van die heidennasies nagevolg wat deur die Here verdryf is om vir die Israeliete plek te maak. Hy het die hoogtes wat deur Hiskia, sy pa, verwoes is, weer opgebou, altare vir die Baäls opgerig, gewyde pale gemaak, voor al die hemelliggame gebuig en hulle gedien. Hy het selfs afgodsaltare gebou in die huis van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “My Naam sal altyd in Jerusalem wees.” In die twee voorhowe van die huis van die Here het hy altare vir al die hemelliggame gebou. Hy het sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste. Hy het gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart. Die afgodsbeeld wat hy laat maak het, het hy opgestel binne-in die tempel, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek onder al die Israelitiese stamme uitgekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. As Israel alles doen wat Ek hulle beveel het, in ooreenstemming met die hele wet en die voorskrifte en bepalings wat deur bemiddeling van Moses gegee is, sal Ek hulle voete stewig geplant hou op die grond wat Ek aan hulle voorvaders toegeken het.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem die verkeerde pad laat loop, sodat hulle erger aangegaan het as die nasies wat deur die Here uitgeroei is om vir Israel plek te maak. Die Here het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het daar geen ag op geslaan nie. Toe het die Here die leëraanvoerders van die koning van Assirië laat kom, en hulle het Manasse gevange geneem, hake deur sy neus gesteek, hom geboei met bronskettings en hom na Babel toe gevat. Toe dit met hom so sleg gaan, het hy die Here sy God om genade gesmeek, groot berou getoon voor die God van sy voorvaders, en gebid. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat terugkom na Jerusalem, na sy koningskap toe. Toe het Manasse geweet dat die Here God is. Manasse het later die buitemuur van die Dawidstad wes van die Gihon, in die dal, by die ingang van die Vispoort en rondom die Ofel herbou. Hy het die muur baie hoër gemaak as wat dit was. In al die vestingstede van Juda het hy bevelvoerders geplaas. Verder het hy die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die Here verwyder en buitekant die stad weggegooi, en so ook al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het. Hy het die altaar van die Here herstel en daarop maaltyd- en dankoffers gebring. Hy het opdrag gegee dat Juda die Here die God van Israel moet dien. Die volk het wel nog op die hoogtes offerandes gebring, maar nou vir die Here hulle God. Die ander verhale oor Manasse, sy gebed tot sy God en die verhale oor die sieners wat hom aangespreek het in die Naam van die Here die God van Israel, staan in Die Verhale van die Konings van Israel. Sy gebed en die verhoring daarvan, al sy sonde en sy selfverheffing, en die plekke waar hy hoogtes gebou het en gewyde pale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gekry het, staan opgeteken in Die Verhale van die Sieners. Manasse is oorlede, en hy is begrawe in sy huis. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.
2 KRONIEKE 33:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. In ooreenstemming met die afstootlike gebruike van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, het hy die offerhoogtes wat sy vader, Hiskia, afgebreek het, weer opgebou. Hy het altare vir die Baäls opgerig, asjeras gemaak, voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en hulle gedien. Hy het selfs altare in die huis van die HERE gebou, die plek waarvan die HERE gesê het: “In Jerusalem sal my Naam vir altyd wees.” In die twee voorhowe van die huis van die HERE het hy altare gebou vir al die hemelliggame. Hy is die een wat sy seuns in die vuur geoffer het in die Ben-Hinnomdal, voortekens gelees het, wiggelary en towery beoefen het en dodebesweerders en waarsêers aangestel het. Hy het baie dinge gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, om Hom uit te tart. Hy het ook 'n gesnede beeld wat hy gemaak het, in die huis van God neergesit, die huis waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “In hierdie huis en in Jerusalem, wat Ek uit al die stamme van Israel gekies het, vestig Ek my Naam vir altyd. Ek sal nie weer Israel se voet verwyder van die grond wat Ek aan julle voorouers toegewys het nie, maar slegs as hulle alles wat Ek hulle beveel het by monde van Moses – die hele wet, die vaste voorskrifte en bepalings – nougeset uitvoer.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat afdwaal om selfs meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die Israeliete uitgedelg het. Die HERE het Manasse en sy volk aangespreek, maar hulle het nie geluister nie. Die HERE het toe die leëraanvoerders van die koning van Assirië teen hulle laat optrek. Hulle het Manasse gevange geneem met hake in sy neus, hom met bronsboeie geboei, en hom na •Babel geneem. Maar toe hy in die noute was, het hy die HERE sy God se guns gesoek, hom ernstig verootmoedig voor die God van sy voorouers en tot Hom gebid. God is geraak deur sy pleitrede en het sy smeekbede verhoor. Hy het hom na Jerusalem, na sy koningskap, laat terugkeer. Manasse het toe erken dat die HERE God is. Daarna het hy die buitenste muur van die Stad van Dawid gebou, aan die westekant van Gihon in die dal, tot by die Vispoort. Hy het dit baie hoog gebou en die Ofel ingesluit. Hy het leëraanvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel. Hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die HERE verwyder, asook al die altare wat hy op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem gebou het. Hy het dit buite die stad weggegooi. Hy het die altaar van die HERE herstel en daar •maaltydoffers en •dankoffers geslag. Hy het Juda aangesê om die HERE, die God van Israel, te dien. Die volk het egter nog steeds offers geslag op die offerhoogtes, maar net vir die HERE hulle God. Die verdere geskiedenis van Manasse, sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat hom in die Naam van die HERE, die God van Israel, aangespreek het, kyk, dit staan in die Geskiedenis van die Konings van Israel. Sy gebed, die verhoring van sy pleitrede, al sy sonde en ontrou, die plekke waar hy offerhoogtes gebou het en waar hy die asjeras en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van Gosai. Manasse het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom by sy paleis begrawe. Sy seun Amon het in sy plek koning geword.
2 KRONIEKE 33:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer. Maar het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, soos die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel verdryf het. Want hy het weer die hoogtes gebou wat sy vader Hiskía afgebreek het, en hy het altare vir die Baäls opgerig en boompies gemaak en die hele leër van die hemel aanbid en hulle gedien. Hy het ook altare gebou in die huis van die HERE waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal my Naam vir ewig wees. En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in die twee voorhowe van die huis van die HERE. En hy het sy kinders deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom; ook het hy tye gehou en towerye gebruik en towery gebruik en met 'n bekende gees en met towenaars omgegaan; hy het baie kwaad gedoen in die oë van die HERE, om Hom te terg. En hy het 'n gesnede beeld, die afgod wat hy gemaak het, in die huis van God gestel waarvan God aan Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek uitverkies het voor al die stamme van Israel, Ek sal my Naam vestig vir ewig: En Ek sal die voet van Israel nie meer verwyder uit die land wat Ek vir julle vaders bestem het nie; sodat hulle oppas om alles te doen wat Ek hulle beveel het, volgens die hele wet en die insettinge en die verordeninge deur die hand van Moses. En Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal en erger doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel verdelg het. En die HERE het met Manasse en sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie. Daarom het die HERE die leërowerstes van die koning van Assirië oor hulle gebring, wat Manasse tussen die dorings ingeneem en hom met kettings gebind en hom na Babel gebring het. En toe hy in benoudheid was, het hy die HERE sy God gesmeek en hom baie verneder voor die God van sy vaders, En hy het tot hom gebid, en hy het hom gesmeek en sy smeking gehoor en hom na Jerusalem teruggebring in sy koninkryk. Toe het Manasse geweet dat die HERE God is. En hierna het hy 'n muur gebou buite die stad van Dawid, aan die westekant van Gihon, in die dal, tot by die ingang by die Vispoort, en hy het Ofel omsingel en dit op 'n baie groot hoogte verhef, en krygshoofde in al die omheinde stede van Juda. En hy het die vreemde gode en die afgod weggeneem uit die huis van die HERE en al die altare wat hy gebou het op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem, en hulle uit die stad gewerp. En hy het die altaar van die HERE herstel en daarop dankoffers en dankoffers gebring en Juda bevel gegee om die HERE, die God van Israel, te dien. Maar die volk het nog steeds op die hoogtes geoffer, maar aan die HERE hulle God alleen. En die verdere geskiedenis van Manasse en sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat met hom gespreek het in die Naam van die HERE, die God van Israel, kyk, dit is beskrywe in die boek van die konings van Israel en ook sy gebed en hoe God tot hom verhoor is, en al sy sonde en sy oortreding en die plekke waarin hy hoogtes gebou het en heilige boomstamme en gesnede beelde opgerig het voordat hy verneder is; kyk, dit is geskrywe onder die uitsprake van die sieners. En Manasse het ontslaap met sy vaders, en hulle het hom in sy huis begrawe, en sy seun Amon het in sy plek geregeer.
2 KRONIEKE 33:1-20 Die Boodskap (DB)
Manasse was twaalf toe hy koning geword het. Hy het 55 jaar lank in Jerusalem regeer. Die Here was glad nie tevrede met wat Manasse gedoen het nie. Hy het dieselfde verskriklike sondes gedoen wat die mense wat voor die Israeliete in die land gebly het, altyd gedoen het. Hy het die heilige plekke waar die afgode gedien is en wat sy pa, Hiskia, afgebreek het, weer gebou; altare vir die Baäls gebou; stompe gemaak ter ere van die afgod Asjera; al die hemelgode gedien; selfs binne-in die Here se tempel altare vir ander gode gebou (dit is die plek waarvan die Here gepraat het toe Hy gesê het: “Ek vestig my Naam in Jerusalem”); in albei portale van die tempel altare gebou om die hemelgode te vereer; sy seun in die Ben-Hinnomdal verbrand as ’n offer aan die afgode; en goëlery, waarsêery en towerkunsies beoefen. Manasse het verskriklike dinge gedoen wat die Here baie kwaad gemaak het. Hy het ’n afgodsbeeld wat hy laat maak het, binne-in die tempel laat opsit. Die Here het al jare tevore vir Dawid en Salomo gesê: “Ek kom bly vir altyd hier in Jerusalem en in dié tempel. Ek het dié plek uitgesoek tussen al die plekke waar daar Israeliete bly. As die Israeliete alles doen wat Ek vra en die wet gehoorsaam wat hulle by Moses, my boodskapper, geleer het, sal Ek hulle vir altyd hier in die land laat bly wat Ek vroeër al vir hulle oupas en oumas gegee het.” Maar hulle het dit nie gedoen nie. Manasse het hulle geleer om dinge te doen wat erger was as die goed wat die volke gedoen het wat voor die Israeliete in die land gebly het. Die Here het Manasse en sy mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie. Toe het die Here die Assiriese leërs gestuur en hulle het Manasse gevang. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met dik kettings vasgebind en hom na Babel toe gevat. Terwyl hy daar baie swaargekry het, het hy weer na die Here toe gekom. Hy het die God van sy voorouers nederig om verskoning gevra vir al sy sondes. Toe Manasse so gebid het, het die Here besluit om hom te help. Hy het hom na Jerusalem laat teruggaan en hy het weer die koning van Juda geword. Dit het Manasse laat besef dat die Here werklik God is. Manasse het toe die buitemuur van Jerusalem herbou. Hy het van ’n punt af, wes van die Gihonfontein in die Kidronvallei, verby die Vispoort tot by die Ofel die muur opgebou en baie hoër gemaak. Hy het ook militêre offisiere in die versterkte stede in Juda aangestel. Hy het ook die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel weggevat en die altare afgebreek wat hy vroeër op die tempelberg in Jerusalem gebou het. Hy het die rommel buite die stad weggegooi. Daarna het Manasse die Here se altaar herstel en offers vir die Here gebring om vir Hom dankie te sê en Hom te loof. Hy het vir die mense van Juda gesê dat hulle die Here, Israel se God, moes dien. Die mense het wel nog op die heilige plekke buite Jerusalem gaan offer, maar hulle het net vir die Here geoffer. Die res van Manasse se geskiedenis, hoe hy tot sy God gebid het en hoe die sieners hom namens die Here, Israel se God, aangespreek het, word vertel in Die Geskiedenis van die Konings van Israel. Die volgende sake word in Die Herinneringe van die Sieners beskryf: sy gebed; God se antwoord daarop; al die verkeerde dinge wat hy gedoen het; sy ongehoorsaamheid aan God; die plekke waar hy heilige plekke gebou het vir afgode en waar hy Asjerapale en die houtbeelde van die afgode neergesit het, nog voordat hy hom bekeer het. Ná Manasse se dood is hy by sy paleis begrawe. Sy seun Amon het hom as koning opgevolg.
2 KRONIEKE 33:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer. Hy het gedoen wat vir die HERE verkeerd was deur die afskuwelike praktyke van die heidense nasies na te volg. Die HERE het hulle voor die Israeliete uit die land verdryf. Hy het die heidense heiligdomme herbou wat sy pa Hiskia vernietig het. Hy het altare vir die Baälbeelde gebou en Asjerapale opgerig. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid. Hy het selfs heidense altare gebou in die tempel van die HERE, die plek waarvan die HERE gesê het dat sy Naam altyd daar in Jerusalem sou wees. Hy het altare vir die hemelliggame in elkeen van die twee voorhowe van die HERE se tempel gebou. Manasse het selfs sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal deur vuur laat gaan. Hy het goëlery, waarsêery en towery beoefen, en mediums en spiritiste geraadpleeg. Hy het baie gruwelike dade voor die HERE gedoen en so sy toorn opgewek. Manasse het ’n afgodsbeeld opgerig in die tempel van die HERE, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam sal vir altyd vereer word in hierdie tempel en in Jerusalem, die stad wat Ek onder al die ander stamme van Israel gekies het. As die Israeliete my gebooie, al my riglyne, opdragte en bepalings gehoorsaam wat aan Moses gegee is, sal Ek hulle nie in ballingskap stuur uit hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie.” Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal sodat hulle selfs meer boosheid gepleeg het as die heidense nasies wat die HERE uitgeroei het toe die Israeliete in die land aangekom het. Die HERE het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer. Daarom het die HERE die Assiriese leërs teen hulle gestuur en hulle het Manasse gevange geneem. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met bronskettings vasgemaak en na Babel toe gevat. Terwyl hy in die diepste nood was, het Manasse die HERE sy God om genade gevra en hom voor die God van sy voorouers verootmoedig. Toe hy bid, het die HERE na hom geluister en sy gebed verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem en sy koninkryk. Manasse het uiteindelik besef dat net die HERE God is. Hierna het Manasse die buitemure van die Dawidstad herbou wes van die Gihonfontein in die vallei tot by die Vispoort en om die Ofelheuwel. Hy het die muur baie hoër gemaak en bevelvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel. Hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel van die HERE verwyder en buite die stad weggegooi. Hy het dieselfde gedoen met al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het. Daarna het hy die altaar van die HERE herstel en die maaltyd- en dankoffers daarop gebring. Hy het die inwoners van Juda beveel om die HERE die God van Israel te dien. Die volk het nog steeds by die heidense heiligdomme geoffer, maar net aan die HERE hulle God. Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, sy gebed tot God en die woorde wat sieners in die Naam van die HERE die God van Israel vir hom gebring het, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel. Manasse se gebed en hoe sy pleidooi die HERE ontroer het, al sy sondes en ontrouheid, die plekke waar hy die heidense heiligdomme, Asjerapale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gehad het, is opgeteken in Die annale van die sieners. Toe Manasse sterf, is hy begrawe by sy paleis. Sy seun Amon het hom opgevolg.