2 KRONIEKE 33
33
Manasse regeer in Juda
1Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer. 2Hy het gedoen wat vir die Here verkeerd was deur die afskuwelike praktyke van die heidense nasies na te volg. Die Here het hulle voor die Israeliete uit die land verdryf. 3Hy het die heidense heiligdomme herbou wat sy pa Hiskia vernietig het. Hy het altare vir die Baälbeelde gebou en Asjerapale opgerig. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid. 4Hy het selfs heidense altare gebou in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het dat sy Naam altyd daar in Jerusalem sou wees. 5Hy het altare vir die hemelliggame in elkeen van die twee voorhowe van die Here se tempel gebou. 6Manasse het selfs sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal deur vuur laat gaan#33:6 Of as offers verbrand.. Hy het goëlery, waarsêery en towery beoefen, en mediums en spiritiste geraadpleeg. Hy het baie gruwelike dade voor die Here gedoen en so sy toorn opgewek.
7Manasse het ’n afgodsbeeld opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam sal vir altyd vereer word in hierdie tempel en in Jerusalem, die stad wat Ek onder al die ander stamme van Israel gekies het. 8As die Israeliete my gebooie, al my riglyne, opdragte en bepalings gehoorsaam wat aan Moses gegee is, sal Ek hulle nie in ballingskap stuur uit hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie.” 9Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal sodat hulle selfs meer boosheid gepleeg het as die heidense nasies wat die Here uitgeroei het toe die Israeliete in die land aangekom het.
10Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer. 11Daarom het die Here die Assiriese leërs teen hulle gestuur en hulle het Manasse gevange geneem. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met bronskettings vasgemaak en na Babel toe gevat. 12Terwyl hy in die diepste nood was, het Manasse die Here sy God om genade gevra en hom voor die God van sy voorouers verootmoedig. 13Toe hy bid, het die Here na hom geluister en sy gebed verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem en sy koninkryk. Manasse het uiteindelik besef dat net die Here God is.
14Hierna het Manasse die buitemure van die Dawidstad herbou wes van die Gihonfontein in die vallei tot by die Vispoort en om die Ofelheuwel. Hy het die muur baie hoër gemaak en bevelvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel. 15Hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die tempel van die Here verwyder en buite die stad weggegooi. Hy het dieselfde gedoen met al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het. 16Daarna het hy die altaar van die Here herstel en die maaltyd- en dankoffers daarop gebring. Hy het die inwoners van Juda beveel om die Here die God van Israel te dien. 17Die volk het nog steeds by die heidense heiligdomme geoffer, maar net aan die Here hulle God.
18Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, sy gebed tot God en die woorde wat sieners in die Naam van die Here die God van Israel vir hom gebring het, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel. 19Manasse se gebed en hoe sy pleidooi die Here ontroer het, al sy sondes en ontrouheid, die plekke waar hy die heidense heiligdomme, Asjerapale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gehad het, is opgeteken in Die annale van die sieners. 20Toe Manasse sterf, is hy begrawe by sy paleis. Sy seun Amon het hom opgevolg.
Amon regeer in Juda
21Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer. 22Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het. Vir al die beelde wat sy pa gemaak het, het hy offers gebring en hulle gedien. 23Hy het egter nie homself voor die Here verootmoedig soos sy pa gedoen het nie. Trouens, Amon het nog meer gesondig. 24Amon se eie beamptes het teen hom saamgesweer en hulle het hom in sy paleis vermoor. 25Maar die burgers van die land het almal doodgemaak wat teen koning Amon saamgesweer het. Hulle het sy seun Josia in sy plek as koning aangestel.
Tans Gekies:
2 KRONIEKE 33: NLV
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011