1 SAMUEL 17:31-58

1 SAMUEL 17:31-58 Die Boodskap (DB)

Die manskappe het gehoor wat Dawid sê en dit vir Saul gaan vertel. Saul laat hom toe haal. Dawid het vir Saul gesê: “Ons moenie moed verloor oor hierdie Filistyn nie. Hierdie dienaar van u sal teen hom gaan veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Nee, man, jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie! Jy is nog ’n kind en hy is van kleintyd af al ’n beroepsoldaat.” “U Majesteit,” antwoord Dawid vir Saul, “ek pas lank vir my pa skape op. As ’n leeu of ’n beer een van die lammers in die trop vang, gaan ek agter hom aan en slaan hom plat en kry die lam terug. As hy my aanval, gryp ek hom aan sy keel en slaan hom dood. Ek het leeus en bere kafgeloop en ek sal dieselfde doen met hierdie Filistyn, want hy het met die manskappe van die lewende God gespot. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.” Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan. Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het. Vandag gaan die Here jou aan my oorgee: ek gaan jou neerslaan en jou kop afkap. Vandag gaan ek die lyke van die soldate van die Filistyne vir die aasvoëls en die jakkalse voer. Dan sal die hele wêreld weet dat Israel ’n God het, en al die mense wat hier bymekaar is, sal weet dat die Here nie swaarde en spiese nodig het om mee te red nie. Die Here besluit wie ’n oorlog wen en Hy het julle klaar aan ons oorgegee.” Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val. Dawid het die Filistyn gewen met slingervel en klip. Dawid het hom raak gegooi en hom so doodgemaak. Net so, sonder ’n swaard het Dawid dit gedoen. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan, sy swaard uit die skede getrek en hom doodgemaak. Daarna het hy sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle weggehardloop. Die manne van Israel en Juda het opgespring en hulle strydkreet geskree. Hulle het die Filistyne gejaag tot by Gat en tot by die ingang van Ekron. Die lyke van die Filistyne het oral langs die pad gelê, van Saärajim af tot by Gat en Ekron. Toe die Israeliete terugkom van dié woeste gejaag af, het hulle al die goed in die Filistyne se kamp gevat. (Dawid het later die Filistyn se kop Jerusalem toe gevat, en die wapens het hy in sy huis gesit.) Saul het gesien hoe Dawid teen die Filistyn gaan veg, waarop hy vir Abner, sy groot generaal, gevra het: “Wie se kind is dit, Abner?” “Ek weet sowaar nie, U Majesteit,” het hy geantwoord. “Vind vir my uit wie se kind is die jong man,” het die koning gesê. Toe Dawid terugkom by die kamp nadat hy die Filistyn doodgemaak het, het Abner hom na Saul toe gebring. Hy het die kop van die Filistyn nog by hom gehad. Saul vra hom toe: “Wie se kind is jy, seun?” Dawid het geantwoord: “Ek is die kind van Isai, u onderdaan wat in Betlehem bly.”

1 SAMUEL 17:31-58 Bybel vir almal (ABA)

Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep. Dawid het vir Saul gesê: “Niemand moet bang wees vir hierdie Filistyn nie. Ek sal teen hom gaan veg.” Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hom gaan veg nie, want jy is 'n kind en hy is 'n man wat oorlog maak vandat hy jonk was.” Dawid het vir Saul gesê: “Ek was 'n wagter by my pa se skape en bokke, en wanneer 'n leeu of 'n beer gekom het en een van die skape weggedra het, dan het ek hom gejaag en hom geslaan en die skaap uit sy bek geruk. En wanneer hy my wou byt, dan het ek hom aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan. Ek het leeus én bere oorwin, en hierdie Filistyn, hierdie heiden, sal soos een van hulle wees, want hy het gesê die manne van die God wat lewe, beteken niks.” Dawid het gesê: “Die Here wat my gered het van leeus en bere, dit is Hy wat my sal red van hierdie Filistyn.” Saul het vir Dawid gesê: “Goed, jy mag gaan. Ek bid dat die Here jou sal help.” Saul het toe sy klere geneem en hy het dit vir Dawid gegee om aan te trek. Saul het sy helm van brons op Dawid se kop gesit en hy het gesê Dawid moet die harnas aantrek. Dawid het sy swaard bo-oor die klere vasgemaak met 'n belt en hy het probeer loop, want hy het dit nog nooit gedoen nie. Maar toe sê hy vir Saul: “Ek kan nie met hierdie swaar goed loop nie, ek het dit nog nooit gedoen nie.” Dawid het toe Saul se klere uitgetrek. Hy het sy kierie geneem en hy het vyf gladde klippe in die sloot gaan soek. Hy het dit in sy skaapwagter-sak gesit. Toe het hy nader gegaan na die Filistyn toe en hy het sy slingervel in sy hand vasgehou. Die Filistyn het nader gekom na Dawid toe. Die man wat sy skild gedra het, was voor hom. Toe die Filistyn vir Dawid sien, het hy gedink Dawid beteken niks, want Dawid was 'n jong seun. Hy was gesond en mooi. Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Dink jy ek is 'n hond? Hoekom kom jy met 'n kierie na my toe? Ek vervloek jou, my gode sal jou laat sterf.” Hy het vir Dawid gesê: “Kom hier, ek sal jou vleis vir die voëls en die wilde diere gee.” Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met 'n swaard en met spiese, maar ek kom na jou toe omdat die Here my gestuur het, die Here wat oor alles regeer. Hy is die God van die manne van Israel. Jy het gesê hulle beteken niks. Vandag sal die Here my laat wen teen jou, en ek sal jou oorwin en jou kop afkap. Ek sal die dooie liggame van die Filistyne vir die voëls en die wilde diere gee. Al die mense op die aarde sal weet daar is 'n God in die land Israel. Almal wat hier bymekaar is, sal weet dat dit die Hére is wat mense red. Hy gebruik nie swaarde en spiese wanneer Hy hulle red nie. Dit is Hý wat besluit wat gebeur in 'n oorlog en Hy sal ons laat wen teen julle.” Toe die Filistyn gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig vorentoe gehardloop om by hom te kom. Dawid het 'n klip uit sy sak gehaal en hy het dit met die slingervel gegooi. Hy het die klip so hard teen die Filistyn se voorkop gegooi, dat dit in sy kop ingegaan het. Die Filistyn het op sy gesig op die grond geval. Dawid het net die slingervel en een klip gebruik, maar hy was sterker as die Filistyn. Hy het die Filistyn oorwin en hy het hom doodgemaak, en hy het nie 'n swaard in sy hand gehad nie. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan. Hy het die Filistyn se swaard uit sy leersak getrek en hy het hom doodgemaak en sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. Die manne van Israel het die Filistyne gejaag tot waar 'n mens by die vallei kom, en tot by die poorte van die stad Ekron. Baie Filistyne was dood en hulle het gelê op die pad na die stad Saärajim en tot by die stede Gat en Ekron. Die Israeliete het toe opgehou om die Filistyne te jaag en hulle het teruggekom en die goed in die Filistyne se kamp gevat. Dawid het die Filistyn se kop gevat en hy het dit na Jerusalem gebring, maar hy het die Filistyn se wapens in sy eie tent gaan sit. Toe Saul gesien het Dawid gaan om met die Filistyn te veg, het hy vir Abner, die hoof van die leër, gevra: “Abner, wie se seun is daardie jongman?” Abner het geantwoord: “Nee, koning, ek weet glad nie.” Die koning het gesê: “Jy moet uitvind wie se seun hy is.” Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het hy teruggekom en Abner het hom na die koning toe gebring. Dawid het die Filistyn se kop in sy hand vasgehou. Saul het vir hom gevra: “Jongman, wie is jou pa?” En Dawid het gesê: “My pa is Isai van Betlehem.”

1 SAMUEL 17:31-58 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal. En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg. Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af. Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees! En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en 'n koperhelm op sy hoof gesit en hom 'n pantser laat aantrek. En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul: Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek. Daarop neem hy sy staf in sy hand en soek vir hom uit die spruit vyf gladde klippe uit en steek dit in sy herderstas wat hy gehad het, naamlik in die slingersak; en met sy slinger in sy hand het hy nader gekom na die Filistyn. Ook die Filistyn het al nader en nader gekom na Dawid, en die skilddraer voor hom uit. Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy 'n seun was — rooierig, met 'n mooi voorkoms. En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee. Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet; en Dawid steek sy hand in die tas en neem 'n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val. So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slinger en 'n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie. Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug. Toe het die manne van Israel en van Juda hulle klaargemaak en gejuig en die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad van Saäráim en tot by Gat en tot by Ekron. Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle laer geplunder. En Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit. Net toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn te ontmoet, sê hy vir Abner, die leërowerste: Wie se seun is die jongman tog, Abner? En Abner antwoord: So waar as u siel leef, koning, ek weet dit nie! En die koning sê: Vra jy wie se seun die jongman tog is. En toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring, met die hoof van die Filistyn in sy hand. En Saul vra hom: Wie se seun is jy, jongman? En Dawid sê: Die seun van u dienaar Ísai, die Betlehemiet.

1 SAMUEL 17:31-58 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal. “'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.” Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde, gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.” Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek, en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.” En Dawid het dit uitgetrek. Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop. Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was. Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms. Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?” Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.” Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop. Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond. Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie! Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap. Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug. Die manskappe van Israel en Juda het opgestaan, die aanvalskreet uitgeskreeu en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne op die pad van Saärajim af tot by Gat en Ekron gelê het. Daarna het die Israeliete teruggekom van die strawwe agtervolging van die Filistyne af en hulle kamp geplunder. Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent gaan sit. Toe Saul vir Dawid sien uitgaan om die Filistyn te ontmoet, het hy vir Abner die hoof van die leër gevra: “Abner, wie se kind is dié jong man tog?” Abner het geantwoord: “So seker as u leef, U Majesteit, ek weet nie.” Die koning sê toe: “Vra jy tog wie se kind die jong man is.” Toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom gevat en voor Saul gebring met die kop van die Filistyn nog in sy hand. Saul het vir hom gevra: “Seun, wie se kind is jy?” “Die kind van u onderdaan Isai, uit Betlehem,” het Dawid geantwoord.

1 SAMUEL 17:31-58 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword; en toe hulle dit vir Saul vertel, het hy hom laat haal. Dawid het vir Saul gesê: “'n Mens moenie moed verloor oor hom nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.” Toe sê Dawid vir Saul: “U dienaar het nog altyd vir sy vader die kleinvee opgepas. Wanneer daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n lam uit die trop wegdra, gaan ek uit agter hom aan, slaan hom plat en ruk die lam uit sy bek. As hy opstaan en my aanval, gryp ek hom aan sy kaak, slaan hom plat en maak hom dood. U dienaar het al 'n leeu en selfs ook 'n beer doodgeslaan. Met hierdie onbesnede Filistyn sal dit net soos met een van hulle gaan, omdat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God. Die HERE wat my gered het uit die klou van 'n leeu en die klou van 'n beer,” het Dawid gesê, “dit is Hy wat my sal red uit die hand van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die HERE met jou wees!” Saul het Dawid sy eie uitrusting laat aantrek. Hy het 'n helm van brons op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek. Dawid het ook Saul se swaard oor sy uitrusting vasgegord en probeer om te loop, want hy het dit nog nooit probeer nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek het dit nog nooit probeer nie.” Toe haal Dawid dit van hom af. Hy het sy staf in sy hand geneem, vir hom vyf gladde klippe in die spruit uitgesoek en dit in die skaapwagtersak wat hy gehad het, in die kantsak, gesit. Met sy slingervel in sy hand het hy die Filistyn genader. Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, met voor hom die man wat die grootskild dra. Toe die Filistyn mooi kyk en Dawid sien, het hy hom geminag, want hy was nog maar 'n seun, rooierig, en met 'n mooi voorkoms. Die Filistyn sê toe vir Dawid: “Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: “Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.” Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met 'n swaard en met 'n vegspies en met 'n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy 'n bespotting maak. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan en jou kop afkap. Ek sal die lyke van die Filistyne se leër vandag nog aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee, sodat die hele aarde sal weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die HERE verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.” Toe die Filistyn gereedmaak en al nader kom om Dawid tegemoet te loop, het Dawid die Filistyn vinnig tegemoet gehardloop in die rigting van die gevegslinie. Dawid het sy hand in die sak gesteek en 'n klip daaruit geneem, met die slingervel gegooi, en die Filistyn op sy voorkop getref. Die klip het sy voorkop binnegedring, en hy het op die grond op sy gesig geval. Dawid het die oorhand gekry oor die Filistyn met 'n slingervel en 'n klip. Hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak, al was daar nie 'n swaard in Dawid se hand nie. Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. Die manne van Israel en Juda het opgespring, die oorlogskreet aangehef en die Filistyne agtervolg tot by die ingang van Gat en tot by die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het op die pad na Saärajim en tot by Gat en Ekron gelê. Daarna het die Israeliete teruggekeer van die hakkejag op die Filistyne en hulle kampe geplunder. Dawid het die kop van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring. Die Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit. Net toe Saul sien dat Dawid uitgaan om die Filistyn aan te durf, het hy vir Abner, die bevelvoerder van die leër gevra: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?” Abner het geantwoord: “So waar as wat u leef, o koning, ek weet nie!” Die koning sê toe: “Vra jý wie se seun die jongeling is.” Net toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand. Saul vra toe vir hom: “Wie se seun is jy, jong man?” Dawid het geantwoord: “Die seun van u dienaar Isai, uit Betlehem.”

1 SAMUEL 17:31-58 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe die woorde gehoor word wat Dawid gespreek het, het hulle dit voor Saul laat hoor, en hy het hom laat roep. Toe sê Dawid vir Saul: Laat niemand se hart weens hom beswyk nie; u dienaar sal teen hierdie Filistyn gaan veg. Toe sê Saul vir Dawid: Jy kan nie teen hierdie Filistyn optrek om teen hom te veg nie, want jy is maar 'n jong man, en hy is 'n krygsman van sy jeug af. Toe sê Dawid vir Saul: U dienaar het sy vader se skape opgepas, en daar het 'n leeu en 'n beer gekom en 'n lam uitgehaalvan die kudde: En ek het agter hom aan uitgegaan en hom geslaan en dit uit sy mond gered; en toe hy teen my opstaan, het ek hom aan sy baard gegryp en hom geslaan en hom gedood. U dienaar het die leeu sowel as die beer gedood, en hierdie onbesnede Filistyn sal wees soos een van hulle, omdat hy die leërs van die lewende God uitgedaag het. Verder het Dawid gesê: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en die HERE sal met jou wees. En Saul het Dawid met sy wapenrusting bewapen en 'n koperhelm op sy hoof gesit; ook het hy hom met 'n wapen gewapen. Dawid het sy swaard om sy wapenrusting gegord, en hy het probeer om te gaan; want hy het dit nie bewys nie. Toe sê Dawid vir Saul: Ek kan nie saam met hulle gaan nie; want Ek het hulle nie beproef nie. En Dawid het hulle van hom afgesit. En hy het sy staf in sy hand geneem en vir hom vyf gladde klippe uit die spruit gekies en dit in 'n herderstas wat hy gehad het, in 'n sak gesit; en sy slinger was in sy hand, en hy het nader gekom na die Filistyn. En die Filistyn het aangekom en nader gekom na Dawid; en die man wat die skild gedra het, het voor hom uit gegaan. En toe die Filistyn rondkyk en Dawid sien, het hy hom verag, want hy was maar 'n jong en rooierig en mooi van voorkoms. Toe sê die Filistyn vir Dawid: Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid by sy gode vervloek. Toe sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, en ek sal jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld gee. Toe sê Dawid vir die Filistyn: Jy kom na my toe met 'n swaard en met 'n spies en met 'n skild; maar ek kom na jou toe in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die leërskare van Israel. Vandag sal die HERE jou in my hand gee; en Ek sal jou verslaan en jou hoof van jou wegneem; en Ek sal vandag die lyke van die leër van die Filistyne aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee; sodat die hele aarde kan weet dat daar 'n God in Israel is. En hierdie hele vergadering sal weet dat die HERE nie deur swaard en spies verlos nie; want die geveg behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. En toe die Filistyn hom klaarmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid hom gehaas en na die leër gehardloop om die Filistyn te ontmoet. En Dawid het sy hand in sy sak gesteek en 'n klip daarvandaan geneem en dit geslinger, en hy het die Filistyn op sy voorhoof geslaan, sodat die klip in sy voorhoof gesink het; en hy het op sy aangesig na die aarde geval. En Dawid het die Filistyn oorwin met 'n slinger en met 'n klip, en hy het die Filistyn verslaan en hom gedood; maar daar was geen swaard in die hand van Dawid nie. Daarom het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem en dit uit sy skede getrek en hom gedood en sy kop daarmee afgekap. En toe die Filistyne sien dat hulle kampvegter dood is, het hulle gevlug. En die manne van Israel en Juda het hulle klaargemaak en geskreeu en die Filistyne agtervolg totdat jy by die dal en by die poorte van Ekron kom. En die gewondes van die Filistyne het neergeval op die pad na Saáraim, tot by Gat en tot by Ekron. En die kinders van Israel het teruggekeer van die agtervolging van die Filistyne, en hulle het hul tente geplunder. Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring; maar hy het sy wapenrusting in sy tent gesit. En toe Saul Dawid sien uittrek teen die Filistyn, sê hy vir Abner, die leërowerste: Abner, wie se seun is hierdie jongman? Toe sê Abner: So waar as u siel leef, o koning, ek kan nie sê nie. Toe sê die koning: Vra jy wie se seun die jong kind is. En toe Dawid terugkom van die slagting van die Filistyn, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring met die hoof van die Filistyn in sy hand. En Saul sê vir hom: Wie se seun is jy, jongman? En Dawid antwoord: Ek is die seun van u kneg Isai, die Betlehemiet.

1 SAMUEL 17:31-58 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Al meer mense het gehoor wat Dawid sê en het dit aan Saul oorgedra. Hy het Dawid laat roep. “Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!” “Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!” Maar Dawid het volgehou: “Ek pas my pa se skape op,” sê hy. “As ’n leeu of ’n beer kom om ’n lam uit die trop weg te dra, sit ek hom agterna. Ek val hom aan en red die lam uit sy bek. As hy my wil aanval, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het dit al met sowel ’n leeu as ’n beer gedoen, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos een van hulle word omdat hy die leër van die lewende God beledig het! Die HERE wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!” Saul het uiteindelik ingestem. “Goed, doen dit,” sê hy. “En mag die HERE met jou wees!” Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek: ’n bronshelm op sy kop en ’n borsharnas. Dawid het ook sy swaard bo-oor sy uitrusting vasgemaak. Toe hy probeer loop, kon hy nie, want hy het dit nog nie vantevore gedra nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy. “Ek is nie daaraan gewoond nie.” Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet. Die Filistyn het na Dawid toe uitgekom, met sy skilddraer voor hom. Toe hy hom sien, het hy hierdie jong rooierige en aantreklike seun geminag. Hy skreeu vir hom: “Is ek ’n hond dat jy met ’n stok na my toe kom?” Toe vervloek hy Dawid in die naam van die Filistyne se gode. “Kom nader sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee!” skree hy. Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die HERE, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig. Vandag gee die HERE jou oor in my mag. Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap, en die lyke van die Filistynse leër vir die roofvoëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee. Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die HERE nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die HERE s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!” Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan. Hy steek sy hand in sy slingersak, vat ’n klip daaruit, gooi dit met sy slingervel en tref die voorkop van die Filistyn. Die klip het in sy kop ingedring en hy het met sy gesig vooroor op die grond geval. So het Dawid met sy slinger en ’n klip die Filistyn oorwin. Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ’n swaard in Dawid se hande was. Toe hardloop Dawid, trek die Filistyn se swaard uit die skede en kap sy kop daarmee af. Toe die Filistyne sien dat hulle baasvegter dood is, het hulle gevlug. Die manskappe van Israel en Juda het opgespring en met ’n geskree die Filistyne agternagesit tot by die ingang na Gat en die poorte van Ekron. Die gesneuweldes van die Filistyne het gestrooi gelê langs die pad vanaf Saärim na Gat toe en tot by Ekron. Daarna het die Israeliete omgedraai van die agtervolging en die kamp van die Filistyne geplunder. Dawid het die kop van die Filistyn gevat en dit na Jerusalem toe gebring, maar sy wapens in sy eie tent gaan neersit. Toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn aan te durf, vra hy vir Abner, die hoof van die leër: “Wie se seun is hierdie jong man, Abner?” Abner antwoord: “Ek weet regtig nie, Koning!” “Dan moet jy uitvind wie die jong man is,” beveel Saul. Nadat Dawid die Filistyn doodgemaak het, bring Abner hom na Saul toe. Die kop van die Filistyn was nog in sy hand. Saul sê vir hom: “Sê my wie se kind is jy, my seun?” Dawid antwoord: “Ek is die seun van u onderdaan Isai. Ons woon in Betlehem.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid