1 Samuel 17:31-58

1 Samuel 17:31-58 ABA

Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep. Dawid het vir Saul gesê: “Niemand moet bang wees vir hierdie Filistyn nie. Ek sal teen hom gaan veg.” Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hom gaan veg nie, want jy is 'n kind en hy is 'n man wat oorlog maak vandat hy jonk was.” Dawid het vir Saul gesê: “Ek was 'n wagter by my pa se skape en bokke, en wanneer 'n leeu of 'n beer gekom het en een van die skape weggedra het, dan het ek hom gejaag en hom geslaan en die skaap uit sy bek geruk. En wanneer hy my wou byt, dan het ek hom aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan. Ek het leeus én bere oorwin, en hierdie Filistyn, hierdie heiden, sal soos een van hulle wees, want hy het gesê die manne van die God wat lewe, beteken niks.” Dawid het gesê: “Die Here wat my gered het van leeus en bere, dit is Hy wat my sal red van hierdie Filistyn.” Saul het vir Dawid gesê: “Goed, jy mag gaan. Ek bid dat die Here jou sal help.” Saul het toe sy klere geneem en hy het dit vir Dawid gegee om aan te trek. Saul het sy helm van brons op Dawid se kop gesit en hy het gesê Dawid moet die harnas aantrek. Dawid het sy swaard bo-oor die klere vasgemaak met 'n belt en hy het probeer loop, want hy het dit nog nooit gedoen nie. Maar toe sê hy vir Saul: “Ek kan nie met hierdie swaar goed loop nie, ek het dit nog nooit gedoen nie.” Dawid het toe Saul se klere uitgetrek. Hy het sy kierie geneem en hy het vyf gladde klippe in die sloot gaan soek. Hy het dit in sy skaapwagter-sak gesit. Toe het hy nader gegaan na die Filistyn toe en hy het sy slingervel in sy hand vasgehou. Die Filistyn het nader gekom na Dawid toe. Die man wat sy skild gedra het, was voor hom. Toe die Filistyn vir Dawid sien, het hy gedink Dawid beteken niks, want Dawid was 'n jong seun. Hy was gesond en mooi. Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Dink jy ek is 'n hond? Hoekom kom jy met 'n kierie na my toe? Ek vervloek jou, my gode sal jou laat sterf.” Hy het vir Dawid gesê: “Kom hier, ek sal jou vleis vir die voëls en die wilde diere gee.” Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met 'n swaard en met spiese, maar ek kom na jou toe omdat die Here my gestuur het, die Here wat oor alles regeer. Hy is die God van die manne van Israel. Jy het gesê hulle beteken niks. Vandag sal die Here my laat wen teen jou, en ek sal jou oorwin en jou kop afkap. Ek sal die dooie liggame van die Filistyne vir die voëls en die wilde diere gee. Al die mense op die aarde sal weet daar is 'n God in die land Israel. Almal wat hier bymekaar is, sal weet dat dit die Hére is wat mense red. Hy gebruik nie swaarde en spiese wanneer Hy hulle red nie. Dit is Hý wat besluit wat gebeur in 'n oorlog en Hy sal ons laat wen teen julle.” Toe die Filistyn gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig vorentoe gehardloop om by hom te kom. Dawid het 'n klip uit sy sak gehaal en hy het dit met die slingervel gegooi. Hy het die klip so hard teen die Filistyn se voorkop gegooi, dat dit in sy kop ingegaan het. Die Filistyn het op sy gesig op die grond geval. Dawid het net die slingervel en een klip gebruik, maar hy was sterker as die Filistyn. Hy het die Filistyn oorwin en hy het hom doodgemaak, en hy het nie 'n swaard in sy hand gehad nie. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan. Hy het die Filistyn se swaard uit sy leersak getrek en hy het hom doodgemaak en sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug. Die manne van Israel het die Filistyne gejaag tot waar 'n mens by die vallei kom, en tot by die poorte van die stad Ekron. Baie Filistyne was dood en hulle het gelê op die pad na die stad Saärajim en tot by die stede Gat en Ekron. Die Israeliete het toe opgehou om die Filistyne te jaag en hulle het teruggekom en die goed in die Filistyne se kamp gevat. Dawid het die Filistyn se kop gevat en hy het dit na Jerusalem gebring, maar hy het die Filistyn se wapens in sy eie tent gaan sit. Toe Saul gesien het Dawid gaan om met die Filistyn te veg, het hy vir Abner, die hoof van die leër, gevra: “Abner, wie se seun is daardie jongman?” Abner het geantwoord: “Nee, koning, ek weet glad nie.” Die koning het gesê: “Jy moet uitvind wie se seun hy is.” Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het hy teruggekom en Abner het hom na die koning toe gebring. Dawid het die Filistyn se kop in sy hand vasgehou. Saul het vir hom gevra: “Jongman, wie is jou pa?” En Dawid het gesê: “My pa is Isai van Betlehem.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Samuel 17:31-58

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid