I SAMUEL 17:31-58

I SAMUEL 17:31-58 AFR53

Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal. En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg. Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af. Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees! En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en 'n koperhelm op sy hoof gesit en hom 'n pantser laat aantrek. En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul: Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek. Daarop neem hy sy staf in sy hand en soek vir hom uit die spruit vyf gladde klippe uit en steek dit in sy herderstas wat hy gehad het, naamlik in die slingersak; en met sy slinger in sy hand het hy nader gekom na die Filistyn. Ook die Filistyn het al nader en nader gekom na Dawid, en die skilddraer voor hom uit. Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy 'n seun was — rooierig, met 'n mooi voorkoms. En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee. Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet; en Dawid steek sy hand in die tas en neem 'n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val. So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slinger en 'n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie. Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug. Toe het die manne van Israel en van Juda hulle klaargemaak en gejuig en die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad van Saäráim en tot by Gat en tot by Ekron. Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle laer geplunder. En Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit. Net toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn te ontmoet, sê hy vir Abner, die leërowerste: Wie se seun is die jongman tog, Abner? En Abner antwoord: So waar as u siel leef, koning, ek weet dit nie! En die koning sê: Vra jy wie se seun die jongman tog is. En toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring, met die hoof van die Filistyn in sy hand. En Saul vra hom: Wie se seun is jy, jongman? En Dawid sê: Die seun van u dienaar Ísai, die Betlehemiet.

Gratis leesplanne en oordenkings oor I SAMUEL 17:31-58

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid