1 PETRUS 1:6-13

1 PETRUS 1:6-13 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet baie bly wees dat God julle wil red. Julle kry nou baie swaar en julle dink dat julle miskien moet ophou om vir God te dien. Maar julle sal net 'n kort tydjie swaarkry. Hierdie dinge wat julle laat swaarkry, toets julle geloof, en julle geloof is meer kosbaar as goud. Goud bly nie altyd dieselfde nie, maar 'n mens smelt goud in vuur om dit skoon te maak. Wanneer julle swaarkry en wanneer God julle geloof toets, dan sal mense sien dat julle geloof beter is as goud wat mense gesmelt het. Wanneer Jesus Christus weer kom, dan sal julle belangrik wees, God sal julle prys en vir julle eer gee. Julle het nooit vir Jesus Christus gesien nie, maar julle is lief vir Hom. Julle sien Hom nou ook nie, maar julle glo in Hom. Ja, julle is baie bly, 'n mens kan nie met woorde sê of verduidelik hoe bly julle is nie, dit is God wat julle so bly maak. Julle is bly, want julle weet wat julle gaan kry: God sal vir julle red, julle wat in Christus glo. Die profete het baie hard probeer om uit te vind hoe God vir julle sal red, en hulle het vir julle die boodskap van genade gebring. Die Gees van Christus wat in die profete gewoon het, het lank gelede vertel dat Christus baie swaar sal kry en dat Hy daarna Koning sal wees. Die profete het probeer om uit te vind wanneer en hoe die dinge met Christus sal gebeur, die dinge waarvan die Gees gepraat het. God het vir die profete gewys dat hulle die goeie boodskap nie vir hulleself moes bring nie, maar vir julle. God het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees het vir die profete die goeie boodskap gegee wat hulle nou vir julle gebring het. Die engele wil ook graag hierdie dinge weet. Daarom moet julle gereed wees, julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wag en heeltemal seker wees dat God genadig sal wees vir julle op die dag wanneer Jesus Christus kom.

1 PETRUS 1:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap. In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel af gestuur is. Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry. Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.

1 PETRUS 1:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir 'n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – 'n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap, omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele. Oor hierdie verlossing het die profete, wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, nagedink en navraag gedoen. Hulle het probeer naspeur na watter persoon of na watter spesifieke tyd die Gees van Christus, wat in hulle was, verwys het toe Hy vooruit getuig het oor Christus se lyding, en die heerlikheid wat daarop sou volg. Aan hulle is geopenbaar dat hulle, wat hierdie dinge betref, nie besig was om hulleself nie, maar júlle, te bedien. Hierdie dinge is nou aan julle meegedeel deur hulle wat die evangelie aan julle verkondig het, deur die Heilige Gees, wat van die hemel gestuur is. Selfs engele begeer om insig hierin te verkry. Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus •Christus vir julle gebring sal word.

1 PETRUS 1:6-13 Die Boodskap (DB)

Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker is nie en wat julle geloof op allerhande maniere toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie. Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is, hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ’n baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit, weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer gemaak word. As julle geloof deur al die moeilikhede heen sterk bly, sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi voorbeeld julle met julle geloof gestel het. Almal sal daaroor praat. Julle het Jesus wel nie gesien toe Hy op aarde was nie, tog maak dit nie vir julle saak nie. Julle het Hom lief en bly lojaal teenoor Hom. Julle bly op Hom vertrou. Dit is nie asof alles eers eendag daar ver gaan gebeur nie. Omdat ons op Jesus vertrou, kan ons sê dat ons saak nou reeds met God reg is. Dit is waarom ons in Jesus glo. Ek kan julle nie sê hoe bly dit ons maak nie. Ons loop behoorlik oor van dié wonderlike vreugde. Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur. Die Gees van Christus wat ook in hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra.

1 PETRUS 1:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry. Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word. Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik nie onder woorde bring nie. Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry. Oor hierdie verlossing wou die profete meer weet. Hulle het oor God se genade wat vir julle bedoel is, geprofeteer, al het hulle baie vrae oor die bedoeling daarvan gehad. Hulle het probeer uitvind wat die Gees van Christus in hulle bedoel het toe Hy vooruit vir hulle vertel het van Christus se lyding en dat Hy daarna verheerlik sou word. Hulle het gewonder met wie en wanneer dit alles sou gebeur. God het aan hulle openbaar dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. Dié Goeie Nuus is nou by julle aangekondig deur dié wat vir julle gepreek het met die krag wat die Heilige Gees gee. God self het die Gees gestuur. Dit is só wonderlik dat selfs die engele dit alles fyn dophou. Sien daarom met verwagting uit na die genade wat vir julle gebring word wanneer Jesus Christus weer verskyn. Sorg dat julle helder dink en gedissiplineerd lewe.