1 KONINGS 21:17-29

1 KONINGS 21:17-29 Bybel vir almal (ABA)

Elia van Tisbe het gehoor die Here sê vir hom: “Agab koning van Israel in Samaria is by die wingerd van Nabot. Hy het daarnatoe gegaan om dit vir hom te vat. Jy moet gereedmaak en jy moet hom gaan ontmoet. Jy moet vir hom sê: Die Here vra: Agab, het jy iemand vermoor en het jy nou ook iemand se goed gevat? Op dieselfde plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde jou bloed ook oplek.” Toe Elia dit vir Agab sê, het Agab gesê: “Het jy my gekry, my vyand?” Elia het geantwoord: “Ja, ek het jou gekry, want jy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. Daarom sê die Here: ‘Ek sal dit sleg laat gaan met jou, Ek sal jou nageslag wegvee, Ek sal elke man en seun in die familie van Agab laat doodmaak, elkeen in die land Israel, getroud of ongetroud. Ek sal met jou koningshuis doen wat Ek gedoen het met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat en met die koningshuis van Baesa seun van Agija. Ek doen dit omdat jy My hartseer gemaak het en omdat jy vir Israel sonde laat doen het.’ Die Here het ook oor Isebel gepraat. Hy het gesê: ‘Die honde sal vir Isebel opvreet by die muur van Jisreël. Wanneer iemand van Agab in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand van Agab in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.’ ” Daar was nie nog iemand wat so sleg was soos Agab nie. Hy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. Sy vrou Isebel het hom die dinge laat doen. Hy het dinge gedoen wat die Here haat, hy het afgode gedien. Die Amoriete het dit voorheen ook gedoen, en toe het die Here hulle weggejaag uit die land en Hy het die land vir die Israeliete gegee. Toe Agab hoor wat Elia alles gesê het, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gebind en hy het gevas. Hy het geslaap met die rouklere. Hy het rondgeloop en hy het niks gepraat nie. Die Here sê toe vir Elia van Tisbe: “Het jy gesien dat Agab hom voor My verneder het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek dit nie met hom sleg laat gaan terwyl hy nog lewe nie, maar wanneer sy seun koning is, dan sal Ek dit sleg laat gaan met sy koningshuis.”

1 KONINGS 21:17-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Maar die woord van die HERE het tot Elía, die Tisbiet, gekom en gesê: Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaría is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. En jy moet met hom spreek en sê: So sê die HERE: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem? Verder moet jy met hom spreek en sê: So spreek die HERE: Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie bloed lek. Daarop sê Agab vir Elía: Het jy my gekry, my vyand? En hy antwoord: Ek het u gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE! Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou en jou skoon wegvee; en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering. En Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía; weens die geterg waarmee jy My geterg het, en dat jy Israel laat sondig het. En ook oor Isébel het die HERE gespreek en gesê: Die honde sal Isébel eet by die voorskans van Jísreël. Die een wat van Agab in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet. Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het. En hy het baie afskuwelik gehandel deur agter die drekgode aan te loop net soos die Amoriete gedoen het wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en 'n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop. Toe kom die woord van die HERE tot Elía, die Tisbiet, en sê: Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.

1 KONINGS 21:17-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê: “Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het. Jy moet vir Agab sê: ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog?’ Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!” Toe Agab dit hoor, vra hy vir Elia: “Het jy my gekry, my vyand?” Elia het geantwoord: “Ek het jou gekry. Die Here sê vir jou: ‘Omdat jy jou daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in my oë, gaan Ek 'n ramp oor jou bring en jou vernietig. Ek gaan al die manlikes in Agab se geslag sonder enige uitsondering uit Israel uitroei. Omdat jy My uitgetart het en omdat jy Israel laat sondig het, sal Ek met jou huis maak soos met die huis van Jerobeam seun van Nebat en soos met die huis van Baesa seun van Agija.’ “En oor Isebel het die Here gesê: Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël. Wie uit Agab se familie in die stad sterf, die honde sal hom opvreet, en wie in die oop veld sterf, die roofvoëls sal hom vreet.” Daar was nooit iemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie. Sy vrou Isebel het hom daartoe aangehits. Agab het afskuwelik opgetree deur die afgode te dien net soos die Amoriete wie se besittings die Here aan die Israeliete gegee het. Toe Agab al hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gehang en gevas. Hy het selfs met rouklere gaan slaap, en heeltyd bedruk rondgeloop. Daarom het die woord van die Here tot Elia die Tisbiet gekom en gesê: “Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.”

1 KONINGS 21:17-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Maar die woord van die HERE het tot Elia, die man uit Tisbe, gekom: “Maak gereed, gaan af om Agab, die koning van Israel, wat in Samaria woon, te ontmoet. Kyk, hy is in Nabot se wingerd, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. Sê dan vir hom, ‘So sê die HERE: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?” ’ Sê verder vir hom, ‘So sê die HERE: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” ’ ” Agab het vir Elia gesê: “Het jy my gekry, my vyand?” Hy het geantwoord: “Ek het jou gekry, want jy het jouself daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Die HERE het gesê, ‘Kyk, ek gaan onheil oor jou bring. Ek gaan jou wegvee. Ek sal van Agab die mansmense in Israel uitroei, dié wat gevange is en dié wat vrygelaat is. Ek sal jou koningshuis maak soos die koningshuis van Jerobeam, seun van Nebat, en soos die koningshuis van Baesa, seun van Agija, oor die uittarting waarmee jy My getart het en oor jy Israel laat sondig het. ’ Ook in verband met Isebel het die HERE uitspraak gelewer, ‘Die honde sal Isebel verslind by die verdedigingswal van Jisreël. As iemand van Agab in die stad sterf, sal die honde hom verslind; en as iemand van Agab in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom verslind.’ ” Daar was werklik niemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, want sy vrou Isebel het hom daartoe aangespoor. Hy het uiters afstootlik opgetree deur agter die afgodsbeelde aan te loop, net soos die Amoriete gedoen het, hulle vir wie die HERE voor die Israeliete uit verdryf het. Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het in rouklere geslaap en neerslagtig rondgeloop. Die woord van die HERE kom toe tot Elia, die man uit Tisbe: “Het jy gesien dat Agab homself voor My verneder het? Omdat hy hom voor My verneder het, sal Ek nie die onheil in sy tyd bring nie. In die tyd van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring. ”

1 KONINGS 21:17-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die woord van die HERE het tot Elia die Tisbiet gekom en gesê: Staan op, gaan af, Agab, die koning van Israel, wat in Samaria is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. En jy moet met hom spreek en sê: So spreek die HERE: Het jy gedood en ook in besit geneem? En jy moet met hom spreek en sê: So spreek die HERE: Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal honde jou bloed lek, naamlik joune. Toe sê Agab vir Elía: Het jy my gevind, o my vyand? En hy antwoord: Ek het jou gevind, omdat jy jou verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Kyk, Ek sal onheil oor jou bring en jou nageslag wegneem en van Agab uitroei hom wat teen die muur ploeter, en hom wat in Israel opgesluit en oorgebly het, en sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía, vanweë die terging waarmee jy My geterg en Israel laat sondig het. En ook van Isébel het die HERE gespreek en gesê: Die honde sal Isebel eet by die muur van Jisreël. Wie van Agab in die stad sterf, moet die honde eet; en hom wat in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet. Maar daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om goddeloosheid te doen in die oë van die HERE, wat sy vrou Isébel opgewek het nie. En hy het baie gruwels gedoen deur die afgode te volg, net soos die Amoriete gedoen het wat die HERE voor die kinders van Israel verdryf het. En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en 'n roukleed om sy vlees aangetrek en gevas en in 'n roukleed gelê en saggies gegaan. En die woord van die HERE het tot Elia, die Tisbiet gekom en gesê: Sien jy hoe Agab hom voor my verootmoedig? omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; maar in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.

1 KONINGS 21:17-29 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe vir Elia, die profeet uit Tisbe, gesê: “Gaan na Agab toe in Samaria. Jy sal hom by Nabot se wingerd kry. Agab, die koning van Israel, het die wingerd vir hom gevat. Sê vir Agab die Here sê: ‘Jy het Nabot vermoor. Nou vat jy ook sy eiendom. Die Here sê dat die honde jou bloed nog op dieselfde plek sal oplek waar hulle Nabot se bloed opgelek het.’” Toe Agab vir Elia sien, sê hy: “Ja, my vyand, het jy my gekry?” “Ja,” het Elia geantwoord. “Jy het jou hele lewe lank net verkeerde dinge gedoen. Daarom gaan die Here groot rampe oor jou bring. Hy gaan jou geheel en al vernietig. Al die mans in jou familie, oud en jonk, sal heeltemal uitgeroei word. Die Here sal met jou maak soos Hy met Jerobeam die seun van Nebat en Baesa die seun van Agija gemaak het. Hy sal jou en jou familie van die aarde af wegvee omdat jy die Here met jou sonde verneder en Israel laat struikel het. Die honde sal jou vrou Isebel in Jisreël verskeur en opvreet. Elkeen van Agab se familie wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word. Dié wat in die veld sterf, sal deur die voëls opgevreet word.” Niemand was nog so sleg soos Agab nie. Hy het die allerverskriklikste dinge gedoen. Sy vrou het hom aangemoedig om hierdie dinge te doen. Hy het skaamteloos ander gode aanbid. Agab was net soos die Amoriete wat vroeër in die land gebly het en wat deur die Here verdryf is sodat Israel daarin kon woon. Toe Elia klaar gepraat het, het Agab sy klere geskeur, ’n roukleed van sak aangetrek en begin vas. Hy het selfs met die roukleed aan geslaap. Hy het stadig geloop. Agab was verpletter. Toe het die Here vir Elia gesê: “Het jy gesien hoe Agab hom voor My verneder het? Omdat hy berou het, sal Ek nie die rampe in sy tyd laat gebeur nie, maar eers in sy seun se tyd.”

1 KONINGS 21:17-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir Elia die Tisbiet gesê: “Gaan na Agab toe wat in Samaria as koning van Israel regeer. Hy is in Nabot se wingerd, wat hy in besit geneem het. Gee vir hom die volgende boodskap: ‘Dit is wat die HERE sê: Is dit nie sleg genoeg dat jy Nabot doodgemaak het nie? Moet jy hom nou ook nog beroof?’ Sê verder vir hom: ‘Net daar waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde ook jou bloed oplek – ja, joune!’” “So! Het my vyand my toe gekry?” vra Agab vir Elia. “Ja,” antwoord Elia. “Ek het jou gekry omdat jy jouself uitverkoop het om te doen wat vir die HERE boos is. Die HERE sê: ‘Ek gaan ’n ramp oor jou bring en jou nageslag uitwis. Nie een van jou manlike afstammelinge in Israel, wie dit ook al is, sal dit oorleef nie! “‘Omdat jy My getart en Israel laat sondig het, gaan Ek jou koningshuis uitroei soos Ek met Jerobeam seun van Nebat, en die koningshuis van Baesa seun van Agija gedoen het.’ “Oor Isebel het die HERE gesê: ‘Die honde sal Isebel by die stadsmuur van Jisreël opvreet.’ En wat die res van jou familie betref: ‘Hulle wat in die stad sterf – die honde sal hulle opvreet; hulle wat in die veld sterf – die roofvoëls sal hulle verslind.’” Daar was nie nog iemand wat soveel boosheid voor die HERE bedryf het soos Agab waartoe sy vrou Isebel hom aangehits het nie. Hy het afskuwelik opgetree deurdat hy afgodsbeelde aanbid het net soos die Amoriete wat die HERE ter wille van die Israeliete uit die land gedryf het. Toe Agab hierdie boodskap hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het selfs in ’n roukleed geslaap en neerslagtig rondgeloop. Die HERE het weer ’n boodskap vir Elia die Tisbiet gegee: “Het jy opgelet dat Agab homself voor My verootmoedig het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek die ramp nie gedurende sy lewe laat gebeur nie. Ek sal eers tydens die regering van sy seun die ramp oor sy familie bring.”