Elia van Tisbe het gehoor die Here sê vir hom: “Agab koning van Israel in Samaria is by die wingerd van Nabot. Hy het daarnatoe gegaan om dit vir hom te vat. Jy moet gereedmaak en jy moet hom gaan ontmoet. Jy moet vir hom sê: Die Here vra: Agab, het jy iemand vermoor en het jy nou ook iemand se goed gevat? Op dieselfde plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, daar sal die honde jou bloed ook oplek.” Toe Elia dit vir Agab sê, het Agab gesê: “Het jy my gekry, my vyand?” Elia het geantwoord: “Ja, ek het jou gekry, want jy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. Daarom sê die Here: ‘Ek sal dit sleg laat gaan met jou, Ek sal jou nageslag wegvee, Ek sal elke man en seun in die familie van Agab laat doodmaak, elkeen in die land Israel, getroud of ongetroud. Ek sal met jou koningshuis doen wat Ek gedoen het met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat en met die koningshuis van Baesa seun van Agija. Ek doen dit omdat jy My hartseer gemaak het en omdat jy vir Israel sonde laat doen het.’ Die Here het ook oor Isebel gepraat. Hy het gesê: ‘Die honde sal vir Isebel opvreet by die muur van Jisreël. Wanneer iemand van Agab in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand van Agab in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.’ ” Daar was nie nog iemand wat so sleg was soos Agab nie. Hy het dit geniet om dinge te doen waarvan die Here nie hou nie. Sy vrou Isebel het hom die dinge laat doen. Hy het dinge gedoen wat die Here haat, hy het afgode gedien. Die Amoriete het dit voorheen ook gedoen, en toe het die Here hulle weggejaag uit die land en Hy het die land vir die Israeliete gegee. Toe Agab hoor wat Elia alles gesê het, het hy sy klere geskeur en rouklere om sy lyf gebind en hy het gevas. Hy het geslaap met die rouklere. Hy het rondgeloop en hy het niks gepraat nie. Die Here sê toe vir Elia van Tisbe: “Het jy gesien dat Agab hom voor My verneder het? Omdat hy dit gedoen het, sal Ek dit nie met hom sleg laat gaan terwyl hy nog lewe nie, maar wanneer sy seun koning is, dan sal Ek dit sleg laat gaan met sy koningshuis.”
Lees 1 Konings 21
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Konings 21:17-29
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's