1 Konings 21:17-29

1 Konings 21:17-29 AFR20

Maar die woord van die HERE het tot Elia, die man uit Tisbe, gekom: “Maak gereed, gaan af om Agab, die koning van Israel, wat in Samaria woon, te ontmoet. Kyk, hy is in Nabot se wingerd, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. Sê dan vir hom, ‘So sê die HERE: “Het jy moord gepleeg en ook nog erfgoed in besit geneem?” ’ Sê verder vir hom, ‘So sê die HERE: “Op die plek waar die honde Nabot se bloed opgelek het, sal die honde ook jóú bloed oplek.” ’ ” Agab het vir Elia gesê: “Het jy my gekry, my vyand?” Hy het geantwoord: “Ek het jou gekry, want jy het jouself daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Die HERE het gesê, ‘Kyk, ek gaan onheil oor jou bring. Ek gaan jou wegvee. Ek sal van Agab die mansmense in Israel uitroei, dié wat gevange is en dié wat vrygelaat is. Ek sal jou koningshuis maak soos die koningshuis van Jerobeam, seun van Nebat, en soos die koningshuis van Baesa, seun van Agija, oor die uittarting waarmee jy My getart het en oor jy Israel laat sondig het. ’ Ook in verband met Isebel het die HERE uitspraak gelewer, ‘Die honde sal Isebel verslind by die verdedigingswal van Jisreël. As iemand van Agab in die stad sterf, sal die honde hom verslind; en as iemand van Agab in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom verslind.’ ” Daar was werklik niemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, want sy vrou Isebel het hom daartoe aangespoor. Hy het uiters afstootlik opgetree deur agter die afgodsbeelde aan te loop, net soos die Amoriete gedoen het, hulle vir wie die HERE voor die Israeliete uit verdryf het. Toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur, rouklere aangetrek en gevas. Hy het in rouklere geslaap en neerslagtig rondgeloop. Die woord van die HERE kom toe tot Elia, die man uit Tisbe: “Het jy gesien dat Agab homself voor My verneder het? Omdat hy hom voor My verneder het, sal Ek nie die onheil in sy tyd bring nie. In die tyd van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring. ”