1 KONINGS 10:14-29

1 KONINGS 10:14-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die gewig van die goud wat in een jaar vir Salomo ingekom het, was seshonderd ses-en-sestig kikkar. Dit was afgesien van die goud wat gekom het van die handelsreisigers, van die wins van handelaars, en van al die konings van die Arabiere en die •streekgoewerneurs van die land. Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak, met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel goud het hy elke skild oorgetrek. Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak, met geplette goud daarop. Elkeen van hierdie skilde het hy met drie mina goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, Bos van die Libanon, geplaas. Die koning het 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met bladgoud oorgetrek. Daar was ses trappe vir die troon, en die sitplek het 'n rug met 'n ronde bokant en armleunings aan elke kant gehad. Twee leeus het langs die armleunings gestaan. Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie. Al die drinkgerei van koning Salomo was van goud, en al die toebehore in die saal, Bos van die Libanon, was van fyngoud. Daar was nie silwer nie. Dit is nie in koning Salomo se tyd as waardevol geag nie. Die koning se handelskepe was immers op see saam met Hiram se vloot, en een keer in drie jaar het die handelskepe aangekom, gelaai met goud en silwer, ivoor, bobbejane en ape. So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde. Die hele aarde het Salomo se teenwoordigheid gereeld opgesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het. Elkeen het sy geskenk saamgebring: artikels van silwer en goud, kledingstukke, wapens en speserye, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur. Salomo het strydwaens en spanne perde bymekaargemaak. Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. Die koning het silwer in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. Handelaars van die koning het hulle van Kewé teen 'n vasgestelde prys gekry. 'n Strydwa uit Egipte ingevoer, het seshonderd sikkel silwer gekos en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel. So is deur hulle toedoen strydwaens en perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Aram.

1 KONINGS 10:14-29 Bybel vir almal (ABA)

Salomo het elke jaar 666 talente goud gekry. Hy het ook nog goud gekry van die mense wat deur sy land gegaan het, en van die handelaars, en van al die konings van Arabië, en van die goewerneurs in die land Israel. Hy het 200 groot skilde laat maak. Hulle het 600 sikkels goud vir elke skild gebruik. Hy het ook 300 klein skilde laat maak. Hulle het drie mines goud vir elke skild gebruik. Die koning het die skilde in die houthuis gesit. Hy het ook 'n groot troon laat maak van ivoor en hy het dit laat toemaak met skoon goud. Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk was agter rond. Langs altwee kante van die sitplek was armleunings waar die koning se arms kon rus, en daar was twee leeus langs die armleunings. Langs altwee kante van die ses trappe het twaalf leeus gestaan. Daar was nêrens in 'n ander land so 'n mooi troon nie. Al die bekers waaruit koning Salomo gedrink het, was van goud, en in die houthuis was al die bekers van fyn goud. In die tyd toe Salomo gelewe het, was silwer nie belangrik nie. Koning Salomo se skepe waarop die handelaars was, was op die see saam met die skepe van koning Hiram. Die skepe het elke drie jaar teruggekom. Die skepe was vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane. Koning Salomo het ryker geword as al die konings van die aarde en hy het meer wysheid gehad as hulle. Mense het van oral gekom om vir Salomo te sien en om te luister na sy wysheid, die wysheid wat God vir hom gegee het. Die mense het almal presente saamgebring. Dit was silwergoed of goue goed of klere of wapens of speserye of perde of muile. Dit het elke jaar gebeur. Salomo het oorlogkarre en ryperde bymekaargemaak. Hy het 1 400 oorlogkarre en 12 000 ryperde gehad. Hy het party perde in die stede laat bly om die oorlogkarre te trek en hy het party perde by hom in Jerusalem laat bly. Die koning het so baie silwer gehad soos die klippe in Jerusalem en so baie sederhout soos die wildevyebome in die Laeveld. Salomo het perde uit Egipte en uit die land Kewe gekry. Sy handelaars het die perde in Kewe gaan koop. 'n Oorlogkar van Egipte het 600 sikkels silwer gekos en 'n perd het 150 sikkels silwer gekos. Salomo het dit ook betaal vir die perde en oorlogkarre van die konings van die Hetiete en die Arameërs.

1 KONINGS 10:14-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was seshonderd-ses-en-sestig talente goud, behalwe wat ingekom het van die koopmans wat rondtrek, en van die wins van die handelaars en van al die konings van die gemengde bevolking en van die goewerneurs van die land. En koning Salomo het tweehonderd groot skilde van geslae goud gemaak; seshonderd sikkels goud het hy op elke groot skild gebruik; en driehonderd klein skilde van geslae goud; drie mines goud het hy op elke klein skild gebruik, en die koning het dit in die huis van die Líbanon-bos gesit. Verder het die koning 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. Die troon het ses trappe gehad, en die kopstuk van die troon was van agter rond, en aan weerskante was trapleunings by die sitplek, terwyl twee leeus langs die leunings staan. Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan; so iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie. En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie. Want die koning het Tarsis-skepe op die see gehad by die skepe van Hiram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue. So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid. En die hele wêreld het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het, terwyl elkeen van hulle sy geskenk saambring: silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere en wapens en speserye, perde en muile, jaar vir jaar. Verder het Salomo strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertienhonderd waens en twaalfduisend perderuiters gehad het; en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel. Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte. En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte en uit Kwé; handelaars van die koning het dit uit Kwé gaan haal teen koopprys. En 'n wa het uit Egipte opgekom, en dit is verkoop vir seshonderd sikkels silwer, en 'n perd vir honderd-en-vyftig; en so is dit vir al die konings van die Hetiete en vir die konings van Aram deur hulle uitgevoer.

1 KONINGS 10:14-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Salomo se jaarlikse inkomste aan goud het sowat drie en twintig ton beloop, behalwe nog wat die reisigers en handelaars en al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs ingebring het. Koning Salomo het twee honderd groot skilde van goud gemaak; hy het vir elke skild byna sewe kilogram goud gebruik. Hy het ook nog drie honderd klein skilde van goud gemaak; hier het hy sowat twee kilogram vir elke skild gebruik. Die koning het hulle opgestel in die Libanonsbosgebou. Verder het die koning 'n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk agter was rond. Weerskante van die sitplek was daar armleunings, met 'n leeu langs elkeen. Twaalf leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie. Al koning Salomo se drinkgerei was van goud. Alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van fyngoud. Silwer was in Salomo se dae so volop dat dit nie as iets besonders beskou is nie. Die koning het 'n vloot gehad wat saam met dié van Hiram na Tarsis toe gevaar het. Om die drie jaar het die Tarsisvloot teruggekom, vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane. Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid. Die hele wêreld het geprobeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor. Elkeen het sy geskenk saamgebring: silwer- en goudware, mantels, wapenrusting, kosbare kruie, perde en muile. So het dit jaar vir jaar gegaan. Salomo het 'n mag van strydwaens en ruiters bymekaargebring. Hy het veertien honderd strydwaens en twaalf duisend ruiters gehad. Hy het hulle gestasioneer in die strydwaposte en by die paleis in Jerusalem. Silwer het hy in Jerusalem so alledaags soos klippe gemaak en seders soos die wildevyebome in die Laeveld. Perde is vir Salomo uit Egipte en Kewé ingevoer. Die handelaars wat deur die koning aangestel is, het hulle daar gaan koop vir die prys waarop ooreengekom is. Om 'n wa uit Egipte in te voer, het net minder as sewe kilogram silwer gekos, en 'n perd ongeveer een en 'n driekwart kilogram. Dieselfde pryse is aan die Hetitiese en die Aramese konings betaal. Die invoer het deur bemiddeling van die handelaars geskied.

1 KONINGS 10:14-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die gewig van goud wat Salomo in een jaar gekry het, was seshonderd ses en sestig talente goud, Daarbenewens het hy van die handelaars en van die handeldryf van die speseryhandelaars en van al die konings van Arabië en van die goewerneurs van die land gehad. En koning Salomo het twee honderd skuiwe van geslae goud gemaak: seshonderd sikkels goud het vir een teiken gegaan. En hy het drie honderd skilde van geslae goud gemaak; drie pond goud het vir een skild gegaan, en die koning het dit in die huis van die Líbanon-woud gesit. Verder het die koning 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met die beste goud oorgetrek. Die troon het ses trappe gehad, en die top van die troon was van agter rond, en daar was stutte aan weerskante op die plek van die stoel, en twee leeus het langs die stutte gestaan. En twaalf leeus het daar aan die een kant en aan die ander kant op die ses trappe gestaan: so iets is in geen koninkryk gemaak nie. En al die drinkgoed van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-woud was van suiwer goud; niemand was van silwer nie; daar is niks daarvan gereken in die dae van Salomo nie. Want die koning het op see 'n vloot van Tarsis gehad saam met die vloot van Hiram; een keer in drie jaar het die vloot van Tarsis gekom en goud en silwer, ivoor en ape en poue gebring. So het koning Salomo al die konings van die aarde oortref vir rykdom en wysheid. En die hele aarde het Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het. En hulle het elkeen sy geskenk gebring: silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere en wapenrusting en speserye, perde en muile, jaar na jaar. En Salomo het strydwaens en ruiters bymekaargemaak, en hy het duisend-vierhonderd strydwaens en twaalfduisend ruiters gehad, wat hy in die stede vir strydwaens en by die koning in Jerusalem gegee het. En die koning het silwer in Jerusalem gemaak soos klippe, en seders het hy gemaak soos die wildevyebome wat in die laagte is, in menigte. En Salomo het perde uit Egipte laat uitbring en linne-gare; die handelaars van die koning het die linne teen 'n prys ontvang. En 'n wa het opgetrek en uit Egipte getrek vir ses honderd sikkels silwer en 'n perd vir honderd en vyftig; en so het hulle hulle vir al die konings van die Hetiete en die konings van Aram uitgelei deur hulle beteken.

1 KONINGS 10:14-29 Die Boodskap (DB)

Elke jaar het Salomo ongeveer 23 000 kilogram goud ontvang. Dit is afgesien van die handelaars se belasting, asook die geld wat die Arabiese konings en die twaalf streke van Israel moes betaal. Salomo het 200 groot skilde gemaak en elkeen met sewe kilogram goud laat oortrek. Hy het ook 300 kleiner skilde gemaak en elkeen met amper twee kilogram goud oorgetrek. Salomo het al hierdie skilde aan die mure van die Libanonsbosgebou gehang. Verder het die koning ’n groot troon laat maak. ’n Deel daarvan het hy met ivoor oorgetrek en die res met die allersuiwerste goud. Die troon het ses trappe gehad waarmee ’n mens tot bo kon loop. Die troon se kopstuk was rond en by elke armleuning het daar ’n groot beeld van ’n leeu gestaan. Twaalf beelde van leeus is aan weerskante van die ses trappe geplaas. Nêrens in die wêreld was daar so ’n troon nie. Al koning Salomo se drinkbekers is van goud gemaak en alles wat in die Libanonsbosgebou gebruik is, was van suiwer goud. Geen silwer is ooit gebruik nie, want silwer was in Salomo se dae waardeloos. Salomo het ook ’n uitstekende vloot gehad. Sy skepe het altyd saam met Hiram se vloot na ver plekke geseil. Elke drie jaar het hulle dan met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane teruggekom. Koning Salomo was ryker en slimmer as enige ander koning. Die hele wêreld wou hom kom besoek. Hulle wou na al die wysheid wat die Here vir hom gegee het, kom luister. Elkeen wat gekom het, het vir hom ’n geskenk saamgebring: allerlei goed wat van goud en silwer gemaak is, klere, wapens, speserye, perde en donkies. Dit het jaar na jaar so aangehou. Salomo het ook ’n groot weermag van 1 400 strydwaens en 12 000 ruiters opgebou. ’n Deel van die weermag was in Jerusalem en die res op ander plekke. In Salomo se tyd het silwer in Jerusalem geen waarde gehad nie. Dit was so alledaags soos klippe. En sederhout was so gewoon soos die wildevyebome in die Laeveld. Die koning se manne het vir hom perde uit Egipte en Kewé ingevoer. Hulle het dit in Kewé vir ’n goeie prys gekry en dan Jerusalem toe gebring. Strydwaens is ook uit Egipte ingevoer. Salomo se handelaars het die perde en die strydwaens weer aan die Hetitiese en Aramese konings verkoop. ’n Wa het amper sewe, en ’n perd amper twee kilogram silwer gekos.

1 KONINGS 10:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Salomo se inkomste was jaarliks ongeveer 23 ton goud. Dit is afgesien van die inkomste wat hy van reisigers en handelaars, al die konings van Arabië en die streeksbestuurders in Israel ontvang het. Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elke skild gebruik. Hy het ook 300 klein skilde van bladgoud gemaak en ongeveer twee kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou geplaas. Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek. Die troon het ses trappies gehad en die kopstuk agter was rond. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu langsaan. Twaalf beelde van leeus het op die ses trappies gestaan, een aan weerskante van ’n trappie. Daar was geen gelyke hiervan in enige ander koninkryk nie. Koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie. Die koning het ’n Tarsisvloot gehad wat saam met dié van Hiram uitgevaar het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane. Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid. Mense oor die hele wêreld wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het. Elkeen wat hom besoek het, het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile saamgebring. Dit het jaar na jaar gebeur. Salomo het ’n groot mag van strydwaens en ruiters opgebou. Hy het 1 400 strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwastede geplaas en sommige by die koning in Jerusalem. Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en sederhout was so algemeen soos wildevye in die Laeveld van Juda. Sy perde het hy uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koninklike handelaars het hulle daar teen ’n bepaalde prys aangekoop. Egiptiese strydwaens het sewe kilogram silwer elk gekos en ’n perd sowat een en ’n driekwart kilogram silwer. ’n Perd is teen dieselfde prys aan die konings van die Hetiete en die konings van Aram verkoop. Die transaksies is deur middel van die handelaars gedoen.