1 Konings 10:14-29

1 Konings 10:14-29 ABA

Salomo het elke jaar 666 talente goud gekry. Hy het ook nog goud gekry van die mense wat deur sy land gegaan het, en van die handelaars, en van al die konings van Arabië, en van die goewerneurs in die land Israel. Hy het 200 groot skilde laat maak. Hulle het 600 sikkels goud vir elke skild gebruik. Hy het ook 300 klein skilde laat maak. Hulle het drie mines goud vir elke skild gebruik. Die koning het die skilde in die houthuis gesit. Hy het ook 'n groot troon laat maak van ivoor en hy het dit laat toemaak met skoon goud. Die troon het ses trappe gehad en die kopstuk was agter rond. Langs altwee kante van die sitplek was armleunings waar die koning se arms kon rus, en daar was twee leeus langs die armleunings. Langs altwee kante van die ses trappe het twaalf leeus gestaan. Daar was nêrens in 'n ander land so 'n mooi troon nie. Al die bekers waaruit koning Salomo gedrink het, was van goud, en in die houthuis was al die bekers van fyn goud. In die tyd toe Salomo gelewe het, was silwer nie belangrik nie. Koning Salomo se skepe waarop die handelaars was, was op die see saam met die skepe van koning Hiram. Die skepe het elke drie jaar teruggekom. Die skepe was vol goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane. Koning Salomo het ryker geword as al die konings van die aarde en hy het meer wysheid gehad as hulle. Mense het van oral gekom om vir Salomo te sien en om te luister na sy wysheid, die wysheid wat God vir hom gegee het. Die mense het almal presente saamgebring. Dit was silwergoed of goue goed of klere of wapens of speserye of perde of muile. Dit het elke jaar gebeur. Salomo het oorlogkarre en ryperde bymekaargemaak. Hy het 1 400 oorlogkarre en 12 000 ryperde gehad. Hy het party perde in die stede laat bly om die oorlogkarre te trek en hy het party perde by hom in Jerusalem laat bly. Die koning het so baie silwer gehad soos die klippe in Jerusalem en so baie sederhout soos die wildevyebome in die Laeveld. Salomo het perde uit Egipte en uit die land Kewe gekry. Sy handelaars het die perde in Kewe gaan koop. 'n Oorlogkar van Egipte het 600 sikkels silwer gekos en 'n perd het 150 sikkels silwer gekos. Salomo het dit ook betaal vir die perde en oorlogkarre van die konings van die Hetiete en die Arameërs.