1 Konings 10

10
Koningin van Skeba
1 Die koningin van Skeba het die berigte oor Salomo bly hoor, iets wat die Naam van die Here tot eer gestrek het. Sy het toe gekom om hom met raaisels te toets. 2Sy het in Jerusalem aangekom met 'n baie groot gevolg – kamele gelaai met speserye, groot hoeveelhede goud, asook edelstene. Toe sy by Salomo kom, het sy met hom gepraat oor alles wat sy op die hart gehad het. 3Salomo het vir haar verklarings gegee vir al die sake wat sy aangeroer het. Daar was geen saak vir die koning verborge nie, geen saak waaroor hy nie vir haar 'n verklaring kon gee nie.
4 Toe die koningin van Skeba al die wysheid van Salomo sien, ook die paleis wat hy gebou het, 5die kos op sy tafel, die plasing van sy amptenare, sy bediendes wat gereed staan, hulle uitrustings, sy skinkers en die •brandoffers wat hy bring in die huis van die Here, is haar asem weggeslaan. 6Sy sê toe vir die koning: “Die berig wat ek in my land gehoor het oor u prestasies en u wysheid was werklik waar. 7Maar ek het die berigte nie geglo nie, totdat ek gekom en dit met my eie oë gesien het. Kyk, die helfte is my nie vertel nie! In wysheid en welvaart oortref u die gerugte wat ek gehoor het. 8Hoe gelukkig is u manne, hoe gelukkig hierdie dienaars van u, hulle wat voortdurend in u diens staan, hulle wat u wysheid aanhoor! 9 Die Here u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon van Israel te plaas. Omdat die Here Israel altyd liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. ”
10 Sy het toe vir die koning honderd-en-twintig kikkar goud, groot hoeveelhede speserye en edelstene gegee. Daar het nooit weer so 'n groot hoeveelheid speserye die land binnegekom as wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.
11Ook die vloot van Hiram, wat goud uit Ofir vervoer het, het groot hoeveelhede sandelhout en edelstene uit Ofir gebring. 12Van die sandelhout het die koning balustrades gemaak vir die huis van die Here en vir die koninklike paleis, en ook liere en harpe vir die sangers. So 'n groot hoeveelheid sandelhout het nog nooit tevore daar aangekom en is nog nooit weer, tot vandag toe, daar gesien nie.
13Koning Salomo weer het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, afgesien van wat hy vir haar gegee het soos gepas vir koning Salomo. Daarna het sy omgedraai en na haar land gegaan, sy en haar dienaars.
Salomo se rykdom
14Die gewig van die goud wat in een jaar vir Salomo ingekom het, was seshonderd ses-en-sestig kikkar. 15Dit was afgesien van die goud wat gekom het van die handelsreisigers, van die wins van handelaars, en van al die konings van die Arabiere en die •streekgoewerneurs van die land. 16Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak, met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel goud het hy elke skild oorgetrek. 17 Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak, met geplette goud daarop. Elkeen van hierdie skilde het hy met drie mina goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, Bos van die Libanon, geplaas.
18Die koning het 'n groot troon van ivoor gemaak en dit met bladgoud oorgetrek. 19Daar was ses trappe vir die troon, en die sitplek het 'n rug met 'n ronde bokant en armleunings aan elke kant gehad. Twee leeus het langs die armleunings gestaan. 20Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie.
21Al die drinkgerei van koning Salomo was van goud, en al die toebehore in die saal, Bos van die Libanon, was van fyngoud. Daar was nie silwer nie. Dit is nie in koning Salomo se tyd as waardevol geag nie. 22Die koning se handelskepe was immers op see saam met Hiram se vloot, en een keer in drie jaar het die handelskepe aangekom, gelaai met goud en silwer, ivoor, bobbejane en ape.
23So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde. 24 Die hele aarde het Salomo se teenwoordigheid gereeld opgesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het. 25Elkeen het sy geskenk saamgebring: artikels van silwer en goud, kledingstukke, wapens en speserye, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur.
26 Salomo het strydwaens en spanne perde bymekaargemaak. Hy het eenduisend vierhonderd strydwaens en twaalfduisend perde gehad. Hy het hulle in die strydwastede en by hom, die koning, in Jerusalem gehou. 27 Die koning het silwer in Jerusalem so volop soos klippe gemaak, en sederhout so volop soos wildevyebome in die Sjefela gemaak. 28Die perde wat aan Salomo behoort het, is ingevoer uit Egipte en Kewé. Handelaars van die koning het hulle van Kewé teen 'n vasgestelde prys gekry. 29'n Strydwa uit Egipte ingevoer, het seshonderd sikkel silwer gekos en 'n perd honderd-en-vyftig sikkel. So is deur hulle toedoen strydwaens en perde uitgevoer na al die konings van die Hetiete en die konings van Aram.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan