1 KORINTIËRS 9:1-27

1 KORINTIËRS 9:1-27 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet dit weet: Ek is vry, ek kan doen wat ek wil doen. Ek is 'n apostel, ek het vir Jesus ons Here gesien. Julle glo in die Here omdat ek die goeie boodskap vir julle gebring het. Ander mense dink miskien dat ek nie 'n apostel is nie. Maar julle mag nie so dink nie, want julle glo in die Here, en dit wys dat ek 'n apostel is. Ek wil graag die mense antwoord wat sê dat ek nie 'n apostel is nie. Ek sê vir hulle: Ons, ek en die persone wat saam met my werk, mag vra dat die gemeentes vir ons moet sorg. Elkeen van ons mag sy vrou saamneem, en die gemeentes moet vir hulle sorg. Die ander apostels en die broers van die Here en Sefas neem ook hulle vroue saam. Ek en Barnabas mag ook vir die gemeentes vra om vir ons te sorg, sodat ons dan nie ook ander werk moet doen om vir onsself te sorg nie. Julle weet dat 'n soldaat nie vir sy eie kos betaal nie, en iemand wat 'n wingerd plant, mag van die druiwe eet, en iemand wat skape en bokke oppas, mag van hulle melk drink. Ek sê dit omdat dit iets is wat almal weet, en die Wette van Moses sê dit ook. In die Wette van Moses is geskryf: Jy mag nie 'n bees se bek toebind wanneer hy die korrels uit die koring-are trap nie. Is God bekommerd oor die beeste of is Hy bekommerd oor óns? Hy is bekommerd oor óns, dit is seker. Daar is geskryf: Wanneer iemand ploeg en die korrels uit die koring-are haal, dan hoop hy om iets te kry. Moses het dit geskryf om vir ons te help, hy het aan óns gedink. Ons het vir julle geestelike dinge geleer, ons het dit in julle harte gesaai. Daarom mag ons dinge van julle kry waarvan ons kan lewe. Julle sorg vir ander werkers in die gemeente. Daarom mag ek en Barnabas nog meer vra dat julle vir ons moet sorg. Ons kry swaar, maar ons kies om vir onsself te sorg. Want dan is ons seker dat daar niks is wat julle sal keer om te glo in die goeie boodskap van Christus nie. Julle weet baie goed dat die priesters wat in die tempel werk, van die kos eet wat die mense na die tempel bring. En die priesters wat by die altaar werk, eet ook van die vleis wat hulle op die altaar offer. Daarom het die Here Jesus gesê dat almal wat die goeie boodskap bring, ook van die offers mag neem wat die mense gee, hulle moet daarvan lewe. Maar ek self het nog nooit gevra dat die gemeentes vir my moet sorg nie. Julle moet ook nie dink ek skryf oor hierdie dinge sodat julle nou vir my moet begin sorg nie. Ek wil nie hê dat iemand vir my moet sorg nie. Nee, as iemand dit vir my moet doen, dan sal dit vir my beter wees om te sterf. Want ek is trots daarop dat ek die goeie boodskap bring, en ek vra nie dat julle vir my moet betaal nie. Julle moet goed verstaan: Ek bring die goeie boodskap, maar ek doen dit nie sodat ek trots kan wees omdat ek dit doen nie. Nee, ek móét dit doen, ek kan nie besluit om iets anders te doen nie. Dit sal baie sleg gaan met my as ek nié die goeie boodskap bring nie. As ek die goeie boodskap bring omdat ek self gevra het om dit te doen, dan kan ek vir julle geld vra omdat ek dit doen. Ek bring die goeie boodskap, maar nie omdat ek self gekies het om dit te doen nie, ek doen dit omdat die Here vir my hierdie belangrike werk gegee het. Dink julle nou dat ek niks beloning kry nie? Nee, my beloning is dat ek die goeie boodskap bring en dat julle niks betaal daarvoor nie. Ek kán vra dat julle vir my moet sorg, maar ek doen dit nie. Ek is vry om te doen wat ek wil doen, maar ek het besluit om 'n slaaf van almal te word, sodat meer mense in Christus kan glo. Ek het vir die Jode soos 'n Jood geword, sodat die Jode in Christus kan glo. Ja, die Jode probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê, en ek het vir hulle geword soos iemand wat ook probeer om alles te doen wat die wette sê. In my hart weet ek dat dit nie belangrik is dat ek alles moet doen nie, maar ek doen dit sodat die Jode ook in Christus kan glo, die Jode wat nog probeer om alles te doen wat die Wette van Moses sê. Die heidene ken nie die Wette van Moses nie, en vir húlle het ek geword soos iemand wat ook nie die Wette van Moses ken nie. Maar ek lewe altyd soos God se wette sê, ek lewe soos Christus dit verduidelik het. Ek doen dit omdat ek hoop dat die heidene ook in Christus sal glo, die heidene wat nie die Wette van Moses ken nie. Party gelowiges se geloof is nog swak en hulle dink dat al die Wette van Moses vandag nog belangrik is. Ek het ook soos een van daardie gelowiges geword. Só het ek probeer om hulle sterker in Christus te laat glo. Ek het probeer om soos almal te wees, sodat ek miskien party van hulle kan red. Ek doen dit alles vir die goeie boodskap van Christus, sodat ek self ook kan kry wat Hy in sy boodskap belowe. Julle weet dit baie goed: Wanneer mense resies hardloop, dan is daar baie atlete wat hardloop, maar net één wat wen. Julle moet só hardloop dat julle kan wen. Elkeen wat resies wil hardloop, weet dat daar baie dinge is wat hy nie mag doen nie. As hy daardie verkeerde dinge doen, dan kan hy nie wen nie. En as hy wen, dan kry hy 'n lourier-krans. Hierdie kransie se blare bly nie lank mooi nie, dit verlep gou. Maar óns wat werk vir die goeie boodskap van Christus, ons kry 'n prys wat altyd mooi bly, dit verlep nooit nie. Daarom hardloop ek soos iemand wat baie graag wil wen. Ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie, ek slaan soos iemand wat iets wil raakslaan. Ek oefen baie hard sodat my liggaam alles kan doen wat ek wil hê dit moet doen. As ek dit nie doen nie, dan help dit nie dat ek vir ander mense preek nie. Want dan sê ek wat hulle moet doen, maar wanneer ek dit self moet doen, dan kan ek dit nie doen nie.

1 KORINTIËRS 9:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IS ek nie 'n apostel nie? Is ek nie vry nie? Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie? As ek vir ander geen apostel is nie, is ek dit tog seker vir julle, want julle is die seël op my apostelskap in die Here. My verantwoording aan die wat my beskuldig, is dít: Het ons dan geen vryheid om te eet en te drink nie? Het ons dan geen reg om 'n suster as vrou met ons rond te neem net soos die ander apostels en die broers van die Here en Céfas nie? Of het net ek en Bárnabas geen reg om die hande-arbeid na te laat nie? Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas 'n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie? Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie? Want in die wet van Moses is geskrywe: 'n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer? Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word. As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit 'n groot saak as ons julle stoflike goed maai? As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie. Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie? So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe. MAAR ék het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie. En ek skryf dít nie met die bedoeling dat dit so met my moet wees nie, want dit sou vir my beter wees om te sterwe as dat iemand my roem sou verydel. Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie! Want as ek dit vrywillig doen, het ek loon; maar as ek dit onwillig doen, is 'n rentmeesterskap aan my toevertrou. Watter loon het ek dan? Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle gebruik te maak nie. Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet — al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus — om die wat sonder die wet is, te win; vir die swakkes het ek soos 'n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek 'n deelgenoot daarvan kan word. Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. En elkeen wat aan 'n wedstryd deelneem, onthou hom in alles — húlle nogal om 'n verwelklike krans te ontvang, maar ons 'n onverwelklike. Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.

1 KORINTIËRS 9:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle wat aan die Here behoort, nie die vrug van my werk nie? Al is ek vir ander nie 'n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap. My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít: het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie? Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat 'n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie? Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie? Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie? Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie? In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer? Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang. As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes? As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie? Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie. Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie? So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang. Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie! As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is 'n taak wat aan my toevertrou is. Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is. Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê. Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

1 KORINTIËRS 9:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n •apostel nie? Het ek dan nie Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle nie my handewerk in die Here nie? Al is ek nie vir ander 'n apostel nie, is ek dit tog vir julle, want julle is die waarmerk van my apostelskap in die Here. My verweer teenoor diegene wat my kritiseer, is dit: Het ons dan nie die reg om te eet en te drink nie? Het ons nie ook die reg om 'n suster as vrou saam op reis te neem, soos die ander apostels, en die broers van die Here en Sefas nie? Of het net ek en Barnabas nie die reg om nie te werk nie? Wie dien dan ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ooit 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas ooit 'n kudde op en geniet nie van die kudde se melk nie? Ek sê dit nie net menslikerwys nie; sê die wet nie dieselfde nie? Want in die •Wet van Moses staan daar geskryf: “Jy mag 'n bees wat graan trap, nie muilband nie.” Is God nou besorg oor beeste, of sê Hy dit eintlik ter wille van ons? Ja, ter wille van ons is daar geskryf: “Wie ploeg, moet met verwagting ploeg, en wie oes, moet oes met die verwagting om daarin te deel.” As ons dan vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit te veel gevra dat ons die materiële van julle mag oes? As ander in hierdie aanspraak op julle deel, hoeveel te meer nie ons nie? Tog het ons nie van hierdie reg gebruik gemaak nie. Ons verdra eerder alles, sodat ons geen hindernis vir die evangelie van •Christus veroorsaak nie. Weet julle nie dat hulle wat in die •tempel werk, uit die tempel eet, en hulle wat die altaar bedien, 'n deel van die offerande kry nie? So het die Here ook bepaal dat hulle wat die evangelie verkondig, uit die evangelie moet leef. Maar ek het nie van een van hierdie regte gebruik gemaak nie, en ek skryf ook nie hierdie dinge sodat dit op my van toepassing moet wees nie. Ek sterf eerder as dat iemand my dié roem ontneem! Want as ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my rede om my daarop te beroem nie? Daar rus immers 'n verpligting op my, en wee my as ek nie die evangelie verkondig nie. As ek dit uit vrye wil doen, is daar vir my beloning; as ek dit egter nie uit vrye wil doen nie, doen ek dit as 'n taak wat aan my toevertrou is. Wat is my beloning dan? Dat ek deur my verkondiging die evangelie gratis aanbied, sonder om van die regte wat met die verkondiging saamgaan, ten volle gebruik te maak. Want hoewel ek vry is van almal, het ek almal se slaaf geword, om soveel mense as moontlik te wen. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword, om Jode te wen; vir diegene onder die wet, soos iemand onder die wet – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen. Vir diegene sonder die wet, het ek soos iemand sonder die wet geword – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar juis onder die wet van Christus – om hulle wat sonder die wet is, te wen. Vir die swakkes het ek swak geword, om die swakkes te wen; vir almal het ek alles geword, sodat ek ten minste sommige kan red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ook ek daarin mag deel. Weet julle nie dat die atlete wat in 'n stadion aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit ontvang. Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om 'n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop daarom so, dat dit nie doelloos is nie; ek boks so, dat ek nie in die lug slaan nie. Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.

1 KORINTIËRS 9:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Is ek nie 'n apostel nie? is ek nie vry nie? het ek nie Jesus Christus ons Here gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie? As ek nie 'n apostel vir ander is nie, tog is ek dit ongetwyfeld vir julle, want die seël van my apostelskap is julle in die Here. My antwoord aan die wat my ondersoek, is dit: Het ons nie mag om te eet en te drink nie? Het ons nie die mag om te lei oor 'n suster, 'n vrou, sowel as ander apostels en as die broers van die Here en Céfas nie? Of het ek net en Barnabas nie die vermoë om te laat staan met werk nie? Wie gaan enige tyd oorlog voer op sy eie bevel? wie plant 'n wingerd en eet nie van die vrugte daarvan nie? of wie voer 'n kleinvee op en eet nie van die melk van die kleinvee nie? Sê ek hierdie dinge as 'n man? of sê die wet nie ook dieselfde nie? Want daar is geskrywe in die wet van Moses: Jy mag die bek van die bees wat die graan dors, nie muilband nie. Sorg God vir osse? Of sê hy dit heeltemal ter wille van ons? Om ons ontwil, is dit ongetwyfeld geskrywe: dat hy wat ploeg, in hoop moet ploeg; en dat hy wat in hoop dors, deelagtig sal word aan sy hoop. As ons vir julle geestelike dinge gesaai het, is dit 'n groot ding as ons julle vleeslike dinge sal maai? As ander hierdie mag oor julle deelagtig word, is ons nie eerder nie? Nietemin het ons nie hierdie krag gebruik nie; maar ly alles, sodat ons die evangelie van Christus nie verhinder nie. Weet julle nie dat die wat die heilige dinge bedien, van die dinge van die tempel lewe nie? en die wat by die altaar wag, het deel aan die altaar? So het die Here ook bepaal dat die wat die evangelie verkondig, van die evangelie moet lewe. Maar ek het niks van hierdie dinge gebruik nie; en ek het hierdie dinge nie geskrywe dat dit so aan my gedoen sou word nie; want dit was vir my beter om te sterwe as dat iemand my roem tot niet sou maak. Want al verkondig ek die evangelie, het ek niks om op te roem nie; ja, wee my as ek die evangelie nie verkondig nie! Want as ek hierdie ding gewillig doen, het ek 'n beloning; maar as ek teen my wil is, is 'n bedeling van die evangelie aan my toevertrou. Wat is my loon dan? Voorwaar dat ek, wanneer ek die evangelie verkondig, die evangelie van Christus gratis kan maak, dat ek nie my krag in die evangelie misbruik nie. Want al is ek vry van alle mense, tog het ek myself aan almal diensbaar gemaak, sodat ek meer kan wen. En ek het vir die Jode geword soos 'n Jood, om die Jode te wen; aan die wat onder die wet is, soos onder die wet, om die wat onder die wet is, te wen; Aan die wat sonder die wet is, soos sonder die wet, (nie sonder wet by God nie, maar onder die wet aan Christus), sodat ek die sonder wet kan wen. Vir die swakkes het ek soos swak geword, om die swakkes te wen: Ek het alles vir almal gemaak, om sekerlik sommige te red. En dit doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek saam met julle deel kan hê. Weet julle nie dat die wat in 'n wedloop hardloop, almal hardloop, maar een ontvang die prys nie? So hardloop, dat julle kan verkry. En elkeen wat hom beywer vir heerskappy, is in alle opsigte ingetoë. Nou doen hulle dit om 'n verganklike kroon te verkry; maar ons is 'n onverganklike. Ek hardloop dus so, nie so onseker nie; so veg ek, nie soos een wat die lug slaan nie. Maar ek hou my liggaam onder en maak dit onderdanig, sodat ek nie self 'n verwerper sou wees as ek vir ander gepreek het nie.

1 KORINTIËRS 9:1-27 Die Boodskap (DB)

Kom ons gesels oor my gesag as iemand wat deur God gestuur is. Sou ek nie kon maak wat ek wou nie? Is ek nie iemand wat deur God gestuur is nie? Het ek nie ook vir Jesus, ons Here, van aangesig tot aangesig gesien nie? Is dit nie juis as gevolg van die goeie werk wat ek vir die Here gedoen het dat julle nou Christene is nie? Al dink ander dalk nie dat ek iemand is met ’n spesiale opdrag van God nie, moet julle ten minste darem so dink. Dat julle julleself vandag Christene kan noem, is die sigbare bewys daarvan dat ek spesiaal deur God gestuur is. Ek is nie bang om die mense wat my so kritiseer reg te help nie. Vir hulle het ek dit te sê: Mag ek nie by mense ’n bord kos of iets te drinke kry as ek onder hulle vir die Here werk nie? Het ek nie ook die reg om met ’n mede-Christen te trou en haar saam met my op my sendingreise te neem nie? Ander mense wat deur die Here gestuur is, doen dit, onder andere ook die broers van die Here en Sefas. Is dit net ek en Barnabas wat nie hulp van die gemeente mag kry nie, maar self vir ons brood en botter moet werk? Watter soldaat moet sy eie salaris betaal? Watter boer plant ’n klomp vrugtebome, maar mag nie van die vrugte eet nie? As iemand dag vir dag koeie oppas, sal julle mos nie weier dat hy ook van die melk proe nie. Hierdie voorbeelde ken ons uit die alledaagse lewe. Maar God wil dit ook so hê. Dit lees ons in sy wet. Moses het mos al geskryf: “Jy mag nie die bek van ’n bees toebind wat op die graanlande help nie.” Was God vreeslik bekommerd oor die beeste of wou Hy die gemeentes liewer ’n les leer oor hoe hulle die mense moet behandel wat vir hulle werk? Natuurlik gaan dit eerder oor ons. As mense hard saamwerk aan iets, moet elkeen mos ’n stukkie van die wins kry as dit verkoop word. As ek nou geestelik hard werk daar onder julle, is dit seker nie te veel gevra om darem so iets tasbaars van julle te kry om aan die lewe te bly nie. As julle voel dat julle mense wat geestelik onder julle werk so wil help, behoort julle ons nie eintlik voor in die ry te laat staan nie? Maar ons het liewer stilgebly as om vir julle te vra om ons te help om die pot aan die kook te hou. Ons wou nie hê dat enigiets wat ons doen mense moes afsit om na die wonderlike boodskap oor Christus te luister nie. Julle weet mos self dat die mense wat in die tempels werk genoeg kry om van te lewe by die mense wie se tempel dit is. Die Here het ook duidelik vir ons as Christene gesê wat ons moet doen. As ons vir mense van Jesus vertel, moet gelowiges ook sorg dat ons genoeg het om van te lewe. Ek het nooit by julle aangeklop om hulp nie, al kon ek. Nou moet julle ook nie dink dat ek dit nou met hierdie brief doen nie. Nee, ek sou liewer van honger doodgaan as om te sê dat ek vir julle van Jesus vertel het sodat ek geld of so iets by julle kon kry. Dat ek nie vir mense van Jesus vertel om geld in die hande te kry nie, is vir my baie belangrik. Dit maak my nie nou skielik baie goed nie. Ek kan nie anders as om mense van Jesus te vertel nie. Dit is waarvoor ek leef omdat God dit van my verwag. Ek weet nie wat met my sal gebeur as ek dit nie doen nie. As ek self gekies het om ’n prediker te word, sou ek miskien kon sê dat mense my moes betaal. Maar nou is dit nie ek wat dit gekies het nie. God het vir my gesê ek moet dit doen. Maar wat kry ek dan nou vir al my moeite? Dit is vir my meer as genoeg om maar net die boodskap oor Jesus aan mense te vertel sonder om geld daarvoor te vra, al het ek die volste reg om te eis dat hulle vir my ook moet sorg. Ek is met ander woorde nie afhanklik van enige gemeente nie, maar is vry om te doen wat ek dink die beste is. Ek wil graag alle mense help om die Here te leer ken. Ek wil nie net aan een groep mense gebind wees nie. Ek wil in elke geval vry wees om te doen wat in ’n betrokke situasie die beste is om mense na die Here toe te lei. As ek tussen Jode is, wil ek soos een van hulle optree sodat ek hulle kan oorhaal om Christene te word. As hulle stiptelik volgens hulle wet leef, leef ek ook so tussen hulle, al hoef ek nie. As ek dit doen, sal ek ’n kans kry om hulle te oortuig om ook in Jesus te glo. Vir ander mense wat nie eens weet van God se wet nie, maak ek asof ek ook nie so ’n wet het om na te luister nie. Dit beteken egter nie dat ek doen wat ek wil nie, want ek moet gehoorsaam wees aan God se wet. Ek moet luister na wat Jesus van my vra. As ek my egter so by die mense aanpas, kan ek ook van hulle na Jesus toe lei. As ek tussen mense is wie se geloof nie sterk is nie en wat nog met allerhande probleme sukkel, probeer ek my gedurig in hulle posisie indink sodat ek hulle kan help om beter Christene te word. Wat daar ook al van my gevra word om mense na die Here toe te lei, is ek bereid om te doen. Ek doen dit alles omdat die evangelie soveel vir my beteken. Wanneer die evangelie mense se lewe verander, doen dit net soveel aan my as aan hulle. Julle weet dat al hardloop ’n klomp mense in ’n resies daar net een wenner kan wees. Moenie die spel van die lewe speel met die doel om tweede te kom nie. Leef jou lewe so dat jy wen. As iemand ’n resies wil wen, oefen hy eers hard. Met ’n gewone resies is die prys vir die wenner klein, maar in die resies van hierdie lewe is die prys vir die wenner baie groot en dit hou vir altyd. Daarom haal ek alles uit en speel die spel van hierdie lewe so goed ek kan, om te wen. Ek doen wat nodig is, al vra dit wat ook al van my. Dan vertel ek nie vir ander wat om te doen, maar sak self in die wedloop van die lewe uit nie.

1 KORINTIËRS 9:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Het ek nie net soveel vryheid as enigiemand anders nie? Is ek dan nie ’n apostel nie? Het ek dan nie Jesus ons Here met my eie oë gesien nie? Is dit nie op grond van my arbeid dat julle met Christus verbind is nie? Selfs al sou ander my nie as ’n apostel beskou nie, is ek dit tog sekerlik vir julle, want julle is ’n lewende bewys dat ek ’n apostel van die Here is. Hier volg my verdediging teenoor dié wat my gesag as apostel bevraagteken. Het ons dan nie die reg op lewensonderhoud nie? Het ons dan nie die reg om ’n medegelowige as eggenote saam met ons rond te neem soos die ander apostels en die Here se broers en Petrus doen nie? Of is dit net ek en Barnabas wat moet werk om onsself te onderhou? Watter soldaat moet ooit vir sy eie uitgawes betaal? Het julle al ooit van iemand gehoor wat ’n wingerd plant, maar hy het nie die reg om van die druiwe te eet nie? Wie pas ’n trop vee op en mag nie van die melk drink nie? En dis nie ’n bloot menslike opinie nie. Sê die wet nie ook dieselfde nie? In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Moenie ’n os wat graan dors, verhinder om te vreet nie.” Dink julle God was net oor die osse begaan? Het Hy dit nie nog eerder met die oog op ons gesê nie? Natuurlik. Want net soos arbeiders wat die lande ploeg en die graan dors, met reg ’n deel van die oes kan verwag, so behoort werkers vir die Here ook versorg te word deur dié onder wie hulle werk. Ons het goeie geestelike saad onder julle gesaai. Is dit dan te veel gevra om op ons beurt stoflike versorging van julle te “oes”? As julle ander ondersteun wat by julle optree, kom dit ons dan nie nog meer toe nie? En tog het ons nie van hierdie reg gebruik gemaak nie! Ons sal dit eerder verduur as om die Goeie Nuus oor Christus in enige opsig te benadeel. Weet julle nie dat hulle wat in die tempel werk, te ete kry van die offers wat na die tempel gebring word nie? En dat hulle wat die altaar bedien, ’n deel kry van die offerandes nie? Net so het die Here opdrag gegee dat hulle wat die Goeie Nuus verkondig, versorg moet word deur dié aan wie hulle die Goeie Nuus verkondig. En tog het ek in geen opsig daarvan gebruik gemaak nie. Ek skryf hierdie dinge ook nie om te suggereer dat dit nou met my moet gebeur nie. Om die waarheid te sê – ek sterf eerder as om my daarop te beroem dat ek die Goeie Nuus kosteloos verkondig. As ek dan inderdaad die Goeie Nuus verkondig, is dit vir my geen besondere prestasie nie. Ek is verplig om dit te doen. Wee my as ek dit sou nalaat! As ek dit uit vrye wil sou doen, sou ek op vergoeding kon aanspraak maak. Maar as ek dit nie uit vrye wil doen nie, dan staan die saak heeltemal anders. En dit is inderdaad die geval: God het ’n bestuurstaak aan my toevertrou. Is daar dan vir my enige beloning? My beloning lê vir my juis in wat ek vrywillig addisioneel doen, naamlik dat ek in my werk as evangelieverkondiger die Goeie Nuus kosteloos aanbied sonder om van my reg as prediker gebruik te maak. Alhoewel ek dus teenoor niemand ’n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. Onder die Jode het ek soos ’n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie, maar onder die wet van Christus staan. Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen. Vir die geringes het ek ’n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry. Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.