1 Korinthiërs 9:1-27

1 Korinthiërs 9:1-27 AFR20

Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n •apostel nie? Het ek dan nie Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle nie my handewerk in die Here nie? Al is ek nie vir ander 'n apostel nie, is ek dit tog vir julle, want julle is die waarmerk van my apostelskap in die Here. My verweer teenoor diegene wat my kritiseer, is dit: Het ons dan nie die reg om te eet en te drink nie? Het ons nie ook die reg om 'n suster as vrou saam op reis te neem, soos die ander apostels, en die broers van die Here en Sefas nie? Of het net ek en Barnabas nie die reg om nie te werk nie? Wie dien dan ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ooit 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas ooit 'n kudde op en geniet nie van die kudde se melk nie? Ek sê dit nie net menslikerwys nie; sê die wet nie dieselfde nie? Want in die •Wet van Moses staan daar geskryf: “Jy mag 'n bees wat graan trap, nie muilband nie.” Is God nou besorg oor beeste, of sê Hy dit eintlik ter wille van ons? Ja, ter wille van ons is daar geskryf: “Wie ploeg, moet met verwagting ploeg, en wie oes, moet oes met die verwagting om daarin te deel.” As ons dan vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit te veel gevra dat ons die materiële van julle mag oes? As ander in hierdie aanspraak op julle deel, hoeveel te meer nie ons nie? Tog het ons nie van hierdie reg gebruik gemaak nie. Ons verdra eerder alles, sodat ons geen hindernis vir die evangelie van •Christus veroorsaak nie. Weet julle nie dat hulle wat in die •tempel werk, uit die tempel eet, en hulle wat die altaar bedien, 'n deel van die offerande kry nie? So het die Here ook bepaal dat hulle wat die evangelie verkondig, uit die evangelie moet leef. Maar ek het nie van een van hierdie regte gebruik gemaak nie, en ek skryf ook nie hierdie dinge sodat dit op my van toepassing moet wees nie. Ek sterf eerder as dat iemand my dié roem ontneem! Want as ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my rede om my daarop te beroem nie? Daar rus immers 'n verpligting op my, en wee my as ek nie die evangelie verkondig nie. As ek dit uit vrye wil doen, is daar vir my beloning; as ek dit egter nie uit vrye wil doen nie, doen ek dit as 'n taak wat aan my toevertrou is. Wat is my beloning dan? Dat ek deur my verkondiging die evangelie gratis aanbied, sonder om van die regte wat met die verkondiging saamgaan, ten volle gebruik te maak. Want hoewel ek vry is van almal, het ek almal se slaaf geword, om soveel mense as moontlik te wen. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword, om Jode te wen; vir diegene onder die wet, soos iemand onder die wet – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen. Vir diegene sonder die wet, het ek soos iemand sonder die wet geword – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar juis onder die wet van Christus – om hulle wat sonder die wet is, te wen. Vir die swakkes het ek swak geword, om die swakkes te wen; vir almal het ek alles geword, sodat ek ten minste sommige kan red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ook ek daarin mag deel. Weet julle nie dat die atlete wat in 'n stadion aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit ontvang. Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om 'n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop daarom so, dat dit nie doelloos is nie; ek boks so, dat ek nie in die lug slaan nie. Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.