1 KORINTIËRS 9:1-27

1 KORINTIËRS 9:1-27 AFR83

Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle wat aan die Here behoort, nie die vrug van my werk nie? Al is ek vir ander nie 'n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap. My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít: het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie? Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat 'n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie? Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie? Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant 'n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie? Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie? In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie 'n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer? Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang. As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes? As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie? Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie. Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie? So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang. Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie! As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my 'n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is 'n taak wat aan my toevertrou is. Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is. Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. Vir die Jode het ek soos 'n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê. Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.