1 KORINTIËRS 7:1-24

1 KORINTIËRS 7:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Ek wil nou praat oor die dinge wat julle vir my geskryf en gevra het. Julle sê dit is goed dat 'n mens nie trou nie. Maar ek sê: Baie mense lewe onsedelik, daarom moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou moet haar eie man hê. Wanneer 'n man en 'n vrou getroud is, dan moet hulle altwee saamstem om gereeld seks te hê met mekaar. Die vrou se liggaam behoort nie aan haarself nie, dit behoort aan haar man. En die man se liggaam behoort ook nie aan homself nie, dit behoort aan sy vrou. 'n Man en sy vrou moenie ophou om met mekaar seks te hê nie. Maar hulle mag saam besluit om 'n tyd lank nie seks te hê nie sodat hulle meer tyd kan hê om te bid. Daarna moet hulle weer bymekaarslaap sodat die Satan hulle nie kan verlei nie, want party mense kan nie lank sonder seks bly nie. Maar onthou, ek sê net julle kán ophou om seks te hê wanneer julle meer wil bid, ek sê nie julle móét ophou om seks te hê nie. Ek wens dat alle mense ongetroud was soos ek. Maar God gee vir elke mens sy eie genadegawe. Hy gee vir die een mens een soort gawe, en Hy gee vir die ander mens iets anders. Ek sê vir die mense wat nie meer getroud is nie, spesiaal vir die weduwees: Dit is vir hulle goed dat hulle ongetroud bly soos ek. Maar as dit vir hulle té moeilik word om nie seks te hê nie, dan moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om altyd lus te wees vir seks. En ek sê vir die mense wat getroud is, nee, dit is nie ék wat sê nie, dit is die Hére wat sê: 'n Vrou mag nie van haar man skei nie. Maar as sy skei, dan moet sy ongetroud bly, of sy moet weer teruggaan na haar man toe. Die man mag ook nie van sy vrou skei nie. Daar is ook die probleem van iemand wat getroud is met 'n man of vrou wat nie 'n gelowige is nie. Die Here Jesus het nie iets spesiaal daaroor gesê nie, maar ék wil iets daaroor sê: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is, en die ongelowige vrou is tevrede om saam met haar man te lewe, dan moet die gelowige man nie van sy vrou skei nie. Dit is dieselfde met 'n gelowige vrou: As sy met 'n ongelowige man getroud is, en die ongelowige man is tevrede om saam met sy vrou te lewe, dan moet die gelowige vrou nie van haar man skei nie. Want omdat die ongelowige man getroud is met die gelowige vrou, sal hy miskien ook later aan God behoort. En omdat die ongelowige vrou getroud is met die gelowige man, sal sy miskien ook later aan God behoort. As dit nie so was nie, dan sou hulle kinders nie aan God behoort het nie, maar nou behoort hulle kinders aan God. Maar as die óngelowige man of vrou wil skei, dan moet julle nie vir hulle keer nie, want God wil hê daar moet vrede wees tussen 'n man en sy vrou. Niemand kan sê die gelowige man of vrou móét getroud bly nie. Die gelowige vrou kan nie seker weet dat sy haar ongelowige man vir God sal kan red nie. En die gelowige man kan nie seker weet dat hy sy ongelowige vrou vir God sal kan red nie. Daar sal party mense wees wat skei, maar ek wil vir julle sê wat julle moet doen: Elkeen moet aanhou lewe soos hy of sy is: As hy getroud is, dan moet hy getroud bly, of as hy ongetroud is, dan moet hy ongetroud bly. Jy moet aanvaar wat die Here vir jou in die lewe gegee het. Jy moet bly soos jy was toe God jou gekies het om aan Hom te behoort. So moet elkeen sy of haar werk doen. Dit is wat ek vir al die gemeentes sê. As jy besny was toe God jou gekies het, moenie dan probeer om weg te steek dat jy besny is nie. En as jy nie besny was toe God jou gekies het nie, moenie dan vra dat iemand jou moet besny nie. Dit is nie belangrik om besny te wees of nie besny te wees nie. Maar wat belangrik is, is dat jy gehoorsaam moet wees aan die wette van God. Daarom moet elkeen bly soos hy was toe God hom gekies het. As jy 'n slaaf was toe God jou gekies het, dan moet jy nie daaroor bekommerd wees dat jy 'n slaaf is nie. Maar as jou eienaar jou wil laat gaan om vry te wees, dan kan jy dit aanvaar en jy kan 'n vry man of vrou word. Dit maak nie saak of jy 'n slaaf is en of jy vry is nie, want as jy 'n slaaf is en die Here het jou gekies, dan is jy vry omdat jy aan die Here behoort. En as jy vry is en die Here het jou gekies, dan is jy 'n slaaf van Christus. Christus het baie duur betaal om julle te koop. Daarom moet julle nie slawe van mense wees nie. My vriende, julle moet vir God dien en aanhou lewe soos julle gedoen het toe Hy julle gekies het. Julle moenie iets anders probeer wees nie.

1 KORINTIËRS 7:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MET betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het — dit is goed vir 'n man om 'n vrou nie aan te raak nie. Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê. Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir 'n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie. Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie. Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders. Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek; maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. En aan die getroudes beveel ek — nie ek nie, maar die Here — dat die vrou nie van die man moet skei nie; en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie. Maar vir die ander sê ek — nie die Here nie — as enige broeder 'n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie; en as 'n vrou 'n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie. Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep. Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red? Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes. Is iemand as 'n besnedene geroep — hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep — hy moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is. Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie. Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God.

1 KORINTIËRS 7:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek kom nou by die dinge waaroor julle aan my geskryf het. Dit is goed vir 'n man om sonder 'n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir 'n bepaalde tyd om julle aan die gebed te wy. Daarna moet julle weer saamkom, sodat die Satan julle nie miskien weens julle gebrek aan selfbeheersing verlei nie. Dit sê ek as 'n tegemoetkoming, nie as 'n bevel nie. Eintlik wens ek dat alle mense kon wees soos ek is. Maar elkeen het van God sy besondere gawe ontvang, die een dít en die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word. Die getroudes beveel ek – nee, nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag 'n man ook nie van sy vrou skei nie. Vir die ander sê ek – ek, nie die Here nie: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as 'n vrou met 'n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe. Jy, vrou, weet immers nie of jy jou man sal red nie. Of jy, man, hoe weet jy of jy jou vrou sal red? Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het. Hy moet bly wat hy was toe God hom geroep het. So skryf ek dit ook aan al die gemeentes voor. As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, moet hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand 'n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie. Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou. In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het. As jy 'n slaaf was toe God jou geroep het, moet jy jou nie daaroor kwel nie. Maar as jy die kans kry om vry te word, maak gerus daarvan gebruik. 'n Slaaf wat deur die Here geroep is, is immers 'n vrygemaakte van die Here. Net so ook is 'n vry man wat deur die Here geroep is, nou 'n slaaf van Christus. Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie. Broers, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.

1 KORINTIËRS 7:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Verder, met verwysing na waaroor julle geskryf het: “Dit is goed vir 'n man om nie met 'n vrou omgang te hê nie.” Maar om onsedelikheid te voorkom, laat elke man sy eie vrou hê en elke vrou haar eie man. Laat die man sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so die vrou teenoor haar man. Die getroude vrou het nie seggenskap oor haar eie liggaam nie, maar haar man wel; net so het die man ook nie seggenskap oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou wel. Moet julle nie van mekaar weerhou nie, behalwe as julle ooreenkom om dit vir 'n tyd lank te doen om julle aan gebed te kan wy. En kom dan weer bymekaar, sodat Satan julle nie verlei as gevolg van julle gebrek aan selfbeheersing nie. Dit sê ek as toegewing, nie as voorskrif nie. Ek wens alle mense kon soos ek wees; maar elkeen het 'n eie gawe van God ontvang, die een dit, die ander iets anders. Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek dat dit vir hulle goed is om ook soos ek te bly. Maar as hulle nie hulleself kan beheer nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. Aan dié wat getroud is, gee ek die opdrag – nie ek nie, maar die Here – dat 'n vrou nie van haar man mag skei nie. As sy tog skei, laat sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. 'n Man mag ook nie van sy vrou skei nie. Maar aan die ander sê ek – nie die Here nie: As 'n broer 'n ongelowige vrou het wat instem om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie, en 'n vrou met 'n ongelowige man wat instem om by haar te bly, moet nie van hom skei nie. Die ongelowige man is immers deur sy gelowige vrou geheilig, en die ongelowige vrou is deur haar gelowige man geheilig; anders sou hulle kinders •onrein wees, maar nou is hulle heilig. As die ongelowige egter wil skei, laat hy skei; in sulke gevalle is die broer of suster nie gebonde nie. God het julle egter geroep om in vrede te leef. Want hoe weet jy, vrou, of jy nie jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie jou vrou sal red nie? Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. En so reël ek ook in al die •gemeentes. Iemand wat besny was toe hy geroep is, moet dit nie ongedaan laat maak nie. Iemand wat onbesny was toe hy geroep is, moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis beteken nie iets nie, die onbesnedenheid beteken nie iets nie, maar wel die gehoorsaamheid aan God se gebooie. Laat elkeen bly in die situasie waarin hy was toe hy geroep is. Is jy geroep toe jy 'n slaaf was, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik. Want die slaaf wat deur die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; net so is die een wat as 'n vry mens geroep is, 'n slaaf van •Christus. Julle is duur gekoop; moenie langer slawe van mense wees nie. Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is.

1 KORINTIËRS 7:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En oor die dinge waarvan julle aan my geskryf het: Dit is goed vir 'n man om nie aan 'n vrou te raak nie. Maar om hoerery te vermy, moet elke man sy eie vrou hê, en laat elke vrou haar eie man hê. Laat die man die vrou die nodige welwillendheid vergeld, en so ook die vrou aan die man. Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so het die man ook nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Bedrieg julle nie met mekaar nie, behalwe met toestemming vir 'n tyd, sodat julle julle kan oorgee aan vas en gebed; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie verlei oor julle inkontinentheid nie. Maar ek spreek dit met toestemming en nie uit gebod nie. Want ek wil hê dat alle mense net soos ek self moet wees. Maar elkeen het sy eie gawe van God, een op hierdie manier en 'n ander daarna. Ek sê dan vir die ongetroudes en weduwees: Dit is goed vir hulle as hulle net soos ek bly. Maar as hulle nie kan inhou nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om te verbrand. En aan die getroudes beveel ek, maar nie ek nie, maar die Here: Laat die vrou nie van haar man skei nie. Maar as sy weggaan, laat sy ongetroud bly of met haar man versoen; en laat die man nie van sy vrou skei nie. Maar met die ander spreek Ek, nie die Here nie: As enige broer 'n vrou het wat nie glo nie, en sy wil graag by hom woon, laat hy haar nie verstoot nie. En die vrou wat 'n man het wat ongelowig is, en as hy dit goedvind om by haar te woon, moet sy hom nie verlaat nie. Want die ongelowige man word deur die vrou geheilig, en die ongelowige vrou word deur die man geheilig; anders was julle kinders onrein; maar nou is hulle heilig. Maar as die ongelowige weggaan, laat hom weggaan. 'n Broer of 'n suster is in sulke gevalle nie onder slawerny nie, maar God het ons tot vrede geroep. Want wat weet jy, o vrou, of jy jou man sal red? of hoe weet jy, o man, of jy jou vrou sal red? Maar soos God aan elke mens uitgedeel het, soos die Here elkeen geroep het, so laat hy wandel. En so orden ek in alle kerke. Word iemand geroep om besny te word? laat hom nie onbesnede word nie. Is iemand in onbesnedenheid geroep? laat hom nie besny word nie. Die besnydenis is niks, en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God. Laat elkeen in dieselfde roeping bly waarin hy geroep is. Is jy 'n dienskneg genoem? sorg nie daarvoor nie, maar as jy vrygemaak kan word, gebruik dit eerder. Want hy wat in die Here geroep is, wat 'n dienskneg is, is die vryman van die Here; net so is hy wat geroep is, wat vry is, die dienaar van Christus. Julle word duur gekoop; wees nie die mense se diensknegte nie. Broeders, laat elke mens waarin hy geroep is, daarin by God bly.

1 KORINTIËRS 7:1-24 Die Boodskap (DB)

Nou kom ek by die vrae in julle brief. Daar is niks mee verkeerd as iemand nie trou nie. Dit gee egter nie vir so iemand die groen lig om maar seksueel te leef soos hy wil nie. Die versoekings is maar groot. Seks is bedoel vir die huwelik en daarom is dit beter dat mense liewer trou en elkeen so sy eie maat het. Ek bedoel dat hulle werklik seksuele maats vir mekaar moet wees en dit vir mekaar aangenaam moet maak. In die huwelik kan die vrou nie maak asof die man geen sê oor haar liggaam het nie. Dieselfde geld vir die man. Die vrou kan ook aanspraak maak op sy liggaam. Hulle moet vir mekaar beskikbaar wees, veral op seksuele gebied. Hou mekaar op seksuele gebied gelukkig, behalwe as julle saam besluit om ’n rukkie lank nie saam te verkeer nie. Dit kan byvoorbeeld gebeur as julle ’n ruk lank op ’n spesiale manier op gebed wil konsentreer. Kom daarna weer saam. Moenie Satan ’n kans gee om julle uit te vang as julle selfbeheersing op ’n laagtepunt is nie. Ek is nie besig om julle te beveel wat om te doen nie. Dit is maar net goeie raad. Eintlik wens ek dat almal ongetroud kon bly soos ek. Maar ek weet dit is nie vir almal moontlik nie omdat God almal nie eenders gemaak het nie. Elkeen van ons het verskillende vermoëns van Hom gekry. Vir die mense wat nog nie getroud is nie en vir elke vrou wat haar man verloor het, het ek ’n spesiale boodskap: dit sal vir hulle goed wees om soos ek ongetroud te bly. Wanneer dit egter vir hulle moeilik word om hulle begeertes en emosies te beheer, moet hulle liewer maar trou. Ja, as hulle moet kies tussen trou en om heeltyd te veg teen hulle natuurlike seksuele begeertes, is die keuse eenvoudig: hulle moet trou. Bly getrou aan mekaar. Dit bring my by die getroudes. Ek het ook iets om vir hulle te sê. Dit is wat die Here self verwag: getroudes moet getroud bly en mag nie skei nie. As iemand klaar geskei is, moet hy nie weer met iemand anders trou nie. Die ander moontlikheid is natuurlik om weer na sy maat toe terug te gaan. Oor wat verwag word van ’n Christen wat met ’n nie-Christen getroud is, het die Here nie destyds met ons gepraat toe Hy op aarde was nie. Laat ek vir julle sê wat ek dink: as die nie-Christen gewillig is om met die Christen getroud te bly, moet hulle nie skei nie. As ’n nie-Christen met ’n Christen getroud is, beteken dit nie dat die Here daardie huisgesin verwerp nie. Dit sou mos beteken dat Hy die kinders van die huisgesin ook verwerp. Dit doen die Here nie. Die Here aanvaar daardie huisgesin en daardie kinders behoort aan Hom. Maar as die nie-Christen wil skei, laat hy dit doen. Die Christen hoef in so ’n geval nie te voel hy doen iets verkeerds as die nie-Christen sy goed vat en loop nie. Dit is beter so as om in onmin saam te leef, want God wil hê sy kinders moet in vrede leef. As jy sê dat jy in onvrede getroud wil bly om so jou ongelowige huweliksmaat ’n Christen te probeer maak, waag jy ’n groot kans. Hoe weet jy of jou plan sal uitwerk? In alle geval, julle moenie dink dat as julle Christene word, God skielik julle omstandighede verander nie. Elkeen moet sy lewe leef op die plek waar God hom wil hê en daar doen wat God van hom vra. Dit verwag ek oral van al die Christene. Die mense onder julle wat besny is omdat hulle Jode is, hoef nie daaroor skaam te wees noudat hulle Christene geword het nie. As daar van julle is wat nie besny is nie, hoef julle dit ook nie te doen noudat julle Christene geword het nie. Dit maak niks saak of julle nou besny is of nie. Wat eintlik van belang is, is of julle luister na wat God van julle vra. Elkeen van julle moet doodgewoon met sy lewe aangaan, dáár waar hy was toe hy die stem van die Here gehoor het. As jy byvoorbeeld ’n slaaf was toe die Here se pad joune gekruis het, moet jy jou nie vreeslik daaroor bekommer dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jy ’n kans kry om vry te word, doen dit. As die Here jou roep as sy kind, is jy werklik vry, of jy nou in die gewone lewe ’n slaaf is of nie. Net so, as jy die Here se kind is, moet jy na Hom luister, of jy nou die belangrikste baas in die gewone lewe is of nie. Net soos iets wat jy gekoop het joune is, net so het die Here julle gekoop en boonop nog baie duur betaal ook. Moet nou nie so lewe asof julle aan mense behoort en asof julle alles moet doen wat hulle sê nie. My liewe vriende, staan julle plek vol juis daar waar julle was toe die Here julle as sy kinders geroep het. God is mos by julle.

1 KORINTIËRS 7:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed. Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra. Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing. Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie. Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander. Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly. Maar as hulle nie selfbeheersing kan toepas nie, is dit beter om te trou as om deur seksuele begeerte verteer te word. Vir die getroudes het ek ’n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ’n vrou nie van haar man behoort te skei nie. Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie. Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ’n direkte opdrag van die Here het nie. As ’n Christenman ’n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie. Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle. (Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.) Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word. Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes. As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie. Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom. Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het. Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan. En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword. God het julle teen ’n duur prys gekoop! Moenie slawe van mense word nie. Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het.