1 Korintiërs 7:1-24

1 Korintiërs 7:1-24 ABA

Ek wil nou praat oor die dinge wat julle vir my geskryf en gevra het. Julle sê dit is goed dat 'n mens nie trou nie. Maar ek sê: Baie mense lewe onsedelik, daarom moet elke man sy eie vrou hê en elke vrou moet haar eie man hê. Wanneer 'n man en 'n vrou getroud is, dan moet hulle altwee saamstem om gereeld seks te hê met mekaar. Die vrou se liggaam behoort nie aan haarself nie, dit behoort aan haar man. En die man se liggaam behoort ook nie aan homself nie, dit behoort aan sy vrou. 'n Man en sy vrou moenie ophou om met mekaar seks te hê nie. Maar hulle mag saam besluit om 'n tyd lank nie seks te hê nie sodat hulle meer tyd kan hê om te bid. Daarna moet hulle weer bymekaarslaap sodat die Satan hulle nie kan verlei nie, want party mense kan nie lank sonder seks bly nie. Maar onthou, ek sê net julle kán ophou om seks te hê wanneer julle meer wil bid, ek sê nie julle móét ophou om seks te hê nie. Ek wens dat alle mense ongetroud was soos ek. Maar God gee vir elke mens sy eie genadegawe. Hy gee vir die een mens een soort gawe, en Hy gee vir die ander mens iets anders. Ek sê vir die mense wat nie meer getroud is nie, spesiaal vir die weduwees: Dit is vir hulle goed dat hulle ongetroud bly soos ek. Maar as dit vir hulle té moeilik word om nie seks te hê nie, dan moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om altyd lus te wees vir seks. En ek sê vir die mense wat getroud is, nee, dit is nie ék wat sê nie, dit is die Hére wat sê: 'n Vrou mag nie van haar man skei nie. Maar as sy skei, dan moet sy ongetroud bly, of sy moet weer teruggaan na haar man toe. Die man mag ook nie van sy vrou skei nie. Daar is ook die probleem van iemand wat getroud is met 'n man of vrou wat nie 'n gelowige is nie. Die Here Jesus het nie iets spesiaal daaroor gesê nie, maar ék wil iets daaroor sê: As 'n gelowige man met 'n ongelowige vrou getroud is, en die ongelowige vrou is tevrede om saam met haar man te lewe, dan moet die gelowige man nie van sy vrou skei nie. Dit is dieselfde met 'n gelowige vrou: As sy met 'n ongelowige man getroud is, en die ongelowige man is tevrede om saam met sy vrou te lewe, dan moet die gelowige vrou nie van haar man skei nie. Want omdat die ongelowige man getroud is met die gelowige vrou, sal hy miskien ook later aan God behoort. En omdat die ongelowige vrou getroud is met die gelowige man, sal sy miskien ook later aan God behoort. As dit nie so was nie, dan sou hulle kinders nie aan God behoort het nie, maar nou behoort hulle kinders aan God. Maar as die óngelowige man of vrou wil skei, dan moet julle nie vir hulle keer nie, want God wil hê daar moet vrede wees tussen 'n man en sy vrou. Niemand kan sê die gelowige man of vrou móét getroud bly nie. Die gelowige vrou kan nie seker weet dat sy haar ongelowige man vir God sal kan red nie. En die gelowige man kan nie seker weet dat hy sy ongelowige vrou vir God sal kan red nie. Daar sal party mense wees wat skei, maar ek wil vir julle sê wat julle moet doen: Elkeen moet aanhou lewe soos hy of sy is: As hy getroud is, dan moet hy getroud bly, of as hy ongetroud is, dan moet hy ongetroud bly. Jy moet aanvaar wat die Here vir jou in die lewe gegee het. Jy moet bly soos jy was toe God jou gekies het om aan Hom te behoort. So moet elkeen sy of haar werk doen. Dit is wat ek vir al die gemeentes sê. As jy besny was toe God jou gekies het, moenie dan probeer om weg te steek dat jy besny is nie. En as jy nie besny was toe God jou gekies het nie, moenie dan vra dat iemand jou moet besny nie. Dit is nie belangrik om besny te wees of nie besny te wees nie. Maar wat belangrik is, is dat jy gehoorsaam moet wees aan die wette van God. Daarom moet elkeen bly soos hy was toe God hom gekies het. As jy 'n slaaf was toe God jou gekies het, dan moet jy nie daaroor bekommerd wees dat jy 'n slaaf is nie. Maar as jou eienaar jou wil laat gaan om vry te wees, dan kan jy dit aanvaar en jy kan 'n vry man of vrou word. Dit maak nie saak of jy 'n slaaf is en of jy vry is nie, want as jy 'n slaaf is en die Here het jou gekies, dan is jy vry omdat jy aan die Here behoort. En as jy vry is en die Here het jou gekies, dan is jy 'n slaaf van Christus. Christus het baie duur betaal om julle te koop. Daarom moet julle nie slawe van mense wees nie. My vriende, julle moet vir God dien en aanhou lewe soos julle gedoen het toe Hy julle gekies het. Julle moenie iets anders probeer wees nie.