1 KORINTIËRS 7:1-24

1 KORINTIËRS 7:1-24 NLV

Ek kom nou by die vrae wat julle in julle brief gestel het. Ja, ’n selibaatlewe is goed. Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man hierdie intimiteit ontsê nie. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra. Julle moet mekaar dus nie seks ontsê nie, behalwe as julle ooreenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy. Daarna moet julle weer saamkom om te verhinder dat Satan julle tot sonde verlei weens julle gebrek aan selfbeheersing. Ek gee vir julle my mening hieroor; ek bedoel dit nie as ’n absolute reël nie. Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander. Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly. Maar as hulle nie selfbeheersing kan toepas nie, is dit beter om te trou as om deur seksuele begeerte verteer te word. Vir die getroudes het ek ’n opdrag wat nie bloot van my kom nie, maar van die Here self. Dit is dat ’n vrou nie van haar man behoort te skei nie. Maar as sy dit tog wel doen, moet sy ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag die man ook nie van sy vrou skei nie. Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ’n direkte opdrag van die Here het nie. As ’n Christenman ’n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie. Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle. (Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.) Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word. Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes. As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie. Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom. Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het. Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan. En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword. God het julle teen ’n duur prys gekoop! Moenie slawe van mense word nie. Dus, broers en susters, bly voor God in die omstandighede waarin julle was toe God julle geroep het.