SAGARIA 1:7-17

SAGARIA 1:7-17 AFR83

Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, die maand Sebat, in die tweede regeringsjaar van Darius, het die woord van die Here gekom tot die profeet Sagaria seun van Berekja, seun van Iddo. Ek het in die nag 'n gesig gesien. Daar het 'n man op 'n bruin perd gesit. Hy was tussen die mirtestruike in 'n diep kloof, en agter hom was ruiters op bruin en vos en wit perde. Ek het gevra: “Wat beteken dit, Meneer?” 'n Engel wat vir my die gesig moes uitlê, het vir my gesê: “Ek sal jou laat sien wat dit beteken.” Toe praat die man wat tussen die mirte was. Hy het gesê: “Dit is die ruiters wat deur die Here uitgestuur is om die wêreld te deurkruis.” Die ruiters sê toe vir die engel van die Here, vir die engel wat tussen die mirte was: “Ons hét die wêreld deurkruis, en die hele wêreld is rustig en stil.” Toe sê die engel wat vir my die gesig moes uitlê, die engel van die Here: “Here, Almagtige, hoe lank gaan dit nog duur voordat U U weer oor Jerusalem en die stede van Juda ontferm? U toorn rus nou al sewentig jaar op hulle!” Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig. Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion. My toorn gaan losbreek teen die nasies wat nou so sorgvry woon, want my toorn teen Jerusalem was nie so groot nie; dit is die heidennasies wat dit so 'n groot ramp laat word het. Daarom, so sê die Here, gaan Ek My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel daar gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word. “Roep weer en sê: So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.”