SAGARIA 1:7-17

SAGARIA 1:7-17 NLV

Op 15 Februarie van die tweede jaar van koning Darius se regering, het die HERE nog ’n boodskap aan die profeet Sagaria, die seun van Berekja, die kleinseun van Iddo, gestuur. Sagaria het gesê: In ’n visioen gedurende die nag het ek ’n man op ’n rooibruin perd sien sit. Hy was tussen mirtebome in ’n laagte. Agter hom was daar rooibruin, bruin en wit perde. Ek het toe die engel wat met my gepraat het, gevra: “Meneer, wat beteken al hierdie perde?” “Ek sal jou wys,” het die engel geantwoord. Die man wat daar tussen die mirtebome gestaan het, het verduidelik: “Die HERE het hulle uitgestuur om die hele aarde te patrolleer.” Die ruiters het toe verslag gedoen aan die engel van die HERE wat tussen die mirtebome gestaan het: “Ons het die aarde deurkruis en die hele aarde is rustig en stil.” Toe die engel van die HERE dit hoor, het hy hierdie gebed gebid: “O HERE, die Almagtige, vir 70 jaar is U nou reeds kwaad vir Jerusalem en die dorpe van Juda. Hoe lank nog voordat U hulle weer genadig sal wees?” Die HERE het toe vriendelike en vertroostende woorde gehad vir die engel wat met my gepraat het. Die engel het vir my gesê: “Laat hierdie boodskap weerklink sodat almal dit kan hoor: ‘Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: Ek het nog steeds ’n brandende liefde vir Jerusalem en Sion. Maar Ek is woedend kwaad vir die ander nasies wat vrede en sekuriteit geniet. Ek was nie so kwaad vir my volk nie, dit is die heidennasies wat die ramp aangehelp het.’ “Daarom, dit is wat die HERE sê: ‘Ek keer in genade weer terug na Jerusalem toe. My tempel sal herbou word, sê die HERE, die Almagtige, en planne sal gemaak word vir die heropbou van Jerusalem.’ Sê dit ook: ‘Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: Die stede van Israel sal weer met voorspoed oorstroom word en die HERE sal weer vir Sion vertroos en Hy sal Jerusalem weer kies as sy eie.’”