Ek is 'n affodil van Saron,
'n lelie van die laagtes!”
“Soos 'n lelie tussen dorings,
so is my liefling tussen die meisies.”
“Soos 'n appelboom tussen wilde bome,
so is die man wat ek liefhet, tussen die jongmans.
Ek sit graag in sy skaduwee,
sy vrugte is soet in my mond.
Hy vat my na 'n feesplek toe;
hy straal van liefde vir my.
Julle moet vir my rosyntjies gee om my sterk te maak,
julle moet my met appels verfris,
want die liefde verteer my.
Sy linkerarm is onder my kop,
sy regterarm omhels my.
Vroue van Jerusalem, ek smeek julle
en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie:
moenie die liefde wakker maak en aanvuur
voor die tyd daarvoor ryp is nie.
“Luister, daar kom die man wat ek liefhet!
Hy spring oor die berge,
hy wip oor die rante.
Die man wat ek liefhet, maak soos 'n ribbok,
soos 'n takboklam.
Kyk, daar staan hy agter ons huis se muur,
hy kyk by die venster in,
hy loer deur die latwerk!
Die man wat ek liefhet, praat, hy sê vir my:
‘Staan op, my liefling, my mooiste, kom na my toe!
Kyk, die reëntyd is verby,
die reën is oor, dis weg.
Daar is bloeisels in die veld,
dit het tyd geword om te sing;
die tortelduif se stem klink oor ons land.
Die voorvye kom al uit,
die wingerde bot en versprei hulle geur.
Staan op, my liefling, my mooiste, kom na my toe!
My duif in die klipskeure,
in die skuilplek teen die krans,
wys my jou gesig,
laat hoor my jou stem.
Jou stem is strelend,
jou gesig lieflik.’
“Vang vir ons die jakkalse,
die klein jakkalsies
wat die wingerde verniel,
ons wingerde wat al bot.
“Die man wat ek liefhet, is myne, en ek syne.
Hy laat sy skape tussen die lelies wei
tot die aandwind begin waai
en die skaduwees lank word.
Kom terug, man wat ek liefhet, maak soos 'n ribbok,
soos 'n takboklam op die Beterberge.