HOOGLIED 2:1-17

HOOGLIED 2:1-17 NLV

“Ek is ’n roos uit Saron, ’n lelie van die veld!” “Soos ’n lelie tussen doringbosse, so is my beminde tussen die ander meisies.” “My liefling is vir my soos ’n appelboom in die boord tussen die ander jong mans. Om onder sy skaduwee te sit, is vir my pure genot en sy vrugte is soet in my mond. Hy vat my saam na ’n banketsaal toe. Sy liefde vir my is duidelik vir almal. Laaf my met rosyntjies, gee appels om my te verfris, want ek het flou geword van die liefde. Sy linkerarm is onder my kop. Met sy regterarm omhels hy my. “Sweer vir my, vroue van Jerusalem, by die ribbokke en die wilde takbokke dat julle nie die liefde sal aanblaas voordat die tyd daarvoor ryp is nie. “Luister, daar kom my liefling! Hy huppel oor die berge, hy wip oor die heuwels. My liefling is soos ’n ribbok. Hy is soos ’n takboklam. Kyk, daar staan hy agter die huis se muur. Hy kyk deur die venster. Hy loer deur die hortjies. “My liefling sê vir my: ‘Staan op, my mooi beminde. Kom saam met my! Die winter is verby, die reën is oor. Die wêreld is vol bloeisels. Die tyd het gekom om te sing. Hoor hoe koer die tortelduiwe die hele land vol. Die vroeëvye begin swel, die botsels in die wingerde versprei hulle geur. Staan op, my beeldskone beminde. Kom hier na my toe!’” “My duif kruip vir my weg êrens in die klipskeure, iewers in ’n skuilplek teen die kranse. Laat ek sien waar jy is! Laat ek hoor waar kruip jy weg! Jou stem is so mooi en jou gesig is pragtig.” “Gou! Vang vir ons die jakkalse! Dit is die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, terwyl die wingerde al bot.” “My liefling behoort net aan my en ek is net syne. Hy laat sy skape daar tussen die lelies wei totdat die dag verby is en die skaduwees lank geword het. Kom terug na my toe, my liefling. Kom maak soos ’n ribbok, soos ’n jong takbok op die Beterberge.”