HOOGLIED 1:5-15

HOOGLIED 1:5-15 AFR83

“Ek is bruin gebrand maar ek is mooi, vroue van Jerusalem. Ek is so bruin soos die tente van Kedar, soos die tentdoeke van Salomo. Moet my nie so aankyk omdat ek donker is nie, omdat die son my gebrand het nie: my broers het my so bruin laat brand, hulle het my die wingerde laat oppas; ek kon my eie wingerd, myself, nie versorg nie. “Sê my, jy wat ek liefhet, waar laat jy jou kleinvee wei, waar laat jy hulle rus op die middag? Hoekom moet ek my agter 'n sluier wegsteek en by die veetroppe van jou vriende rondsoek?” “As jy dit nie weet nie, mooiste van al die vroue, loop maar net op die kleinvee se spore en laat jou bokkies wei by die veewagters se tente. “Soos 'n spogperd in die farao se strydwa, so is jy vir my, my liefling, met jou lieflike wange tussen jou oorbelle, jou nek met sy kettinkies om. Ons sal vir jou oorbelle van goud maak, met silwerknoppies daarin.” “So lank die koning op sy rusbank gelê het, het my nardusparfuum se geur versprei. Die man wat ek liefhet, is vir my 'n sakkie mirre wat tussen my borste lê. Die man wat ek liefhet, is vir my 'n bos hennablomme uit die wingerde van En-Gedi.” “Jy is mooi, my liefling, jy is mooi, jou oë is duiwe.”