ROMEINE 15:7-13

ROMEINE 15:7-13 AFR83

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode 'n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: “Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing.” En elders lui dit: “Verbly julle, ander nasies, saam met sy volk.” En: “Prys die Here, alle nasies! Loof Hom, alle volke!” En Jesaja sê ook: “Isai sal 'n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Video for ROMEINE 15:7-13