ROMEINE 1:8-17

ROMEINE 1:8-17 AFR83

Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof. God, wat ek met hart en siel dien deur die evangelie van sy Seun te verkondig, is my getuie dat ek gedurig in my gebede aan julle dink. Elke keer as ek bid, vra ek God of Hy dit nie uiteindelik vir my moontlik wil maak om julle te besoek nie. Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil 'n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. Ek bedoel dat, as ek by julle is, ons deur mekaar se geloof bemoedig kan word, ek deur julle s'n en julle deur myne. Broers, ek wil hê julle moet weet dat, hoewel ek tot nog toe verhinder is, ek my dikwels voorgeneem het om julle te besoek om ook by julle, net soos by die ander heidennasies, mense vir Christus te wen. Ek staan onder 'n verpligting teenoor Grieke en nie-Grieke, teenoor ontwikkeldes en ongeleerdes, en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig. Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid