ROMEINE 1:8-17

ROMEINE 1:8-17 Die Boodskap (DB)

Ek kan nie anders as om deur Jesus Christus vir my God dankie te sê dat mense oor die hele wêreld van julle geloof praat nie. En God, wat ek met my hele lewe dien omdat ek die goeie nuus oor sy Seun bekendmaak, weet dat julle nooit uit my gedagtes is nie. Elke keer as ek bid, vra ek Hom of Hy tog nie ’n plan kan maak sodat ek binnekort na julle toe kan kom nie. Ek wil julle baie graag persoonlik ontmoet. Ek het die wonderlikste geestelike geskenke uit God se hand ontvang waarin ek julle wil laat deel. Dit sal julle geloof sterker maak. Ek wil graag ook iets van julle ontvang: julle groot geloof kan my aanspoor om nog harder vir die Here te werk. So kan ons mekaar help om die Here nog beter te dien. Weet julle hoeveel keer ek al probeer het om na julle toe te kom? Tot nou toe het daar elke keer iets voorgeval. Maar hou moed, ek is op pad. Ek beplan om ook daar in Rome vir julle en vir ander mense van Christus te vertel. Op hierdie manier sal daar ook by julle ’n ryk oes vir die Here ingesamel word. Dit is my plig om aan alle mense op aarde, Jode en nie-Jode, geleerdes en ongeletterdes, die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak. Daarom wil ek bitter graag na julle toe kom. Ook daar in Rome moet ek die goeie nuus laat weerklink. Ek is glad nie skaam om die goeie nuus oor Jesus Christus bekend te maak nie. God se groot krag is aan die werk op elke plek waar hierdie boodskap verkondig word. Hy red elkeen wat dit glo, Jode en nie-Jode. God se goedheid word sigbaar oral waar mense met hulle hele lewe op Hom vertrou. Daar staan immers in die Bybel geskryf: “Almal wat deur God van hulle sondes vrygespreek is omdat hulle glo, sal die ware lewe ken.”

ROMEINE 1:8-17 Bybel vir almal (ABA)

Maar ek wil eers vir Jesus Christus vra om vir my God te sê dat ek dankie sê, want oral in die wêreld praat die mense daaroor dat julle in Christus glo. Ek dien God met my hele hart en ek bring vir mense die goeie boodskap oor die Seun van God. Ek dink altyd aan julle, God weet dit is waar. Elke maal wanneer ek bid, dan vra ek weer vir God of Hy my sal toelaat om na julle toe te kom. Ek wil graag na julle toe kom. Ek wil vir julle 'n genadegawe van die Heilige Gees kom gee sodat julle geloof sterker kan word. Dan sal julle mý geloof sterker maak, en ek sal júlle geloof sterker maak. Vriende, dit is belangrik dat julle moet weet dat ek baie maal besluit het om na julle toe te kom, maar elke maal het iets gebeur, en dan kon ek nie kom nie. Ek wil na julle toe kom, want ek wil graag hê dat daar by júlle ook mense moet wees wat in Christus glo, soos dit ook by ander heidene gebeur het toe ek daar gewerk het. Ek moet al die mense dien: die Grieke en die mense wat nie Grieke is nie, die mense wat wysheid het en die mense wat nie wysheid het nie. Dit is hoekom ek ook graag by julle in die stad Rome die goeie boodskap wil bring. Ek is nie skaam om die goeie boodskap te bring nie. Die goeie boodskap is God se krag, dit red almal wat glo, eers die Jode, en dan ook die mense wat nie Jode is nie. Die goeie boodskap wys vir almal dat God doen wat reg is. Dit wys dat Hy mense vryspreek omdat hulle glo, en nét omdat hulle glo. Dit is soos in die Ou Testament geskryf is

ROMEINE 1:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hier heel aan die begin wil ek vir julle vertel hoe ek vir God in die Naam van Jesus Christus dankie sê vir elkeen van julle, want die hele wêreld praat van julle geloof. Dié God wat ek met hart en siel dien deurdat ek hierdie Goeie Nuus omtrent sy Seun uitdra, is my getuie dat julle dag en nag in my gedagtes is. Elke keer smeek ek dat God, as dit sy wil is, tog nou uiteindelik vir my die pad sal oopmaak om by julle uit te kom. Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning bring om julle in julle geloof te versterk. Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof. Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het. Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie. Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig. Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode. Hierdie Goeie Nuus maak bekend dat God ons van ons sondes vryspreek. En dit gebeur enkel en alleen deurdat ons glo. Soos die Skrif sê: “Elkeen wat vrygespreek word omdat hy glo, sal lewe.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid