ROMEINE 1:8-17

ROMEINE 1:8-17 AFR53

IN die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld. Want God, wat ek in my gees dien in die evangelie van sy Seun, is my getuie hoe ek onophoudelik aan julle dink en altyd in my gebede smeek of ek tog nou eindelik 'n goeie geleentheid sal vind deur die wil van God om na julle te kom; want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my. Maar, broeders, ek wil julle nie daarvan onkundig laat dat ek my dikwels voorgeneem het om na julle te kom nie — en ek is tot nog toe verhinder — sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel net soos onder die ander heidene. Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek 'n skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig. WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid