DIE OPENBARING 3:7-13

DIE OPENBARING 3:7-13 AFR83

Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia: So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie: Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg – kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.