DIE OPENBARING 3:7-13

DIE OPENBARING 3:7-13 Bybel vir almal (ABA)

“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Filadelfia skryf: Die Heilige doen altyd wat Hy sê. Hy het die sleutel van koning Dawid. As Hy 'n deur oopsluit, dan kan niemand dit toesluit nie, en as Hy iets toesluit, dan kan niemand dit oopsluit nie. Hy sê: Ek weet wat jy doen. Jy is nie sterk nie, maar jy het gedoen wat Ek vir jou sê en jy was nie bang om te sê dat jy aan My behoort nie. Daarom het Ek vir jou 'n deur oopgemaak sodat jy by My kan wees. Daar is mense in julle stad wat sê hulle is Jode, maar hulle lieg, hulle is nie Jode nie. Hulle kom bymekaar in 'n sinagoge, maar dit is die sinagoge van die Satan. Ek sal hulle voor jou laat kniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Hulle sal dan weet dat Ek lief is vir jou. Ek het gesê jy moet geduldig wees wanneer mense slegte dinge doen aan jou omdat jy aan My behoort, en jy was geduldig. Daarom sal Ek jou beskerm. Al die mense op die aarde sal baie swaar kry wanneer Ek hulle sal toets, maar Ek sal jou beskerm. Ek sal gou kom! Jy moet aanhou glo soos jy nou glo! Dan sal niemand jou kan keer nie, jy sal oorwin. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek sê jy mag 'n pilaar wees in die tempel van my God. Ja, jy sal in die hemel wees en jy sal nooit weer daar uitgaan nie. Ek sal my God se Naam op jou skryf en Ek sal die naam van my God se stad, die Nuwe Jerusalem, op jou skryf. Die Nuwe Jerusalem kom van my God, dit kom van die hemel. Ek sal ook my eie nuwe Naam op jou skryf. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”

DIE OPENBARING 3:7-13 Die Boodskap (DB)

Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Filadelfia: Hier is ’n boodskap vir julle. Dit kom van Jesus af wat nie een stukkie valsheid of leuen in Hom het nie. God is die fokus van sy hele lewe. Hy het die sleutel van Dawid om vir mense die deur na die nuwe Jerusalem oop te sluit of toe te sluit. Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie. Ek weet waarmee julle julle besig hou. Kyk mooi. Ek het vir julle ’n deur oopgemaak. Niemand kan dit toemaak nie. Julle invloed in Filadelfia is maar klein. Ek weet dit! Maar dit bring julle nie van stryk nie. Julle leef soos Ek van julle vra. Boonop is julle nie skaam of bang om te erken dat julle Christene is nie. Kyk! Daar is mos mense in julle dorp wat hulleself graag Jode noem en voorgee dat hulle deel is van God se mense. Maar waar kry jy hulle? Natuurlik, op die plek waar net die duiwel se mense bymekaarkom. Ek sal persoonlik sorg dat hierdie mense wat so baie van hulleself dink eendag voor julle sal moet kom staan. Daar voor julle sal hulle op hulle knieë moet val en laag moet buig. Een ding sal hulle dan deeglik besef: dat Ek aan julle kant is omdat Ek julle liefhet. Ek het julle gevra om nie moed te verloor nie en julle het regtig vasgebyt tot die einde toe. God sal in ’n stadium elke mens op hierdie aarde toets. Daar gaan dinge gebeur wat swaar is. In hierdie baie moeilike tye kan elke gelowige maar weet: Ek sal na hom kyk! Ek kom een van die dae na julle toe. Hou vas aan wat julle het sodat niemand julle dalk pootjie op julle pad om geestelike wenners te wees nie. Vir ’n geestelike wenner wag daar ’n groot beloning. Hy sal vir ewig en altyd naby God self wees. In God se huis self sal hy ’n baie belangrike plek hê. Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God. Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. (Hier verwys ek na die nuwe Jerusalem. Dit is uiteindelik God se groot gawe uit die hemel vir ons.) Die derde naam sal my eie Naam wees. Wie kan hoor, laat hom luister na wat die Heilige Gees vir die Christene te sê het.