Openbaring 3:7-13

Openbaring 3:7-13 AFR20

“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. “ ‘Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou 'n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal sorg dat hulle kom, en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet. Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. “ ‘Wie oorwin, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

Video for Openbaring 3:7-13