PSALMS 78:1-8

PSALMS 78:1-8 AFR83

'n Gedig van Asaf. Luister na wat ek jou leer, my volk, luister aandagtig na wat ek sê. Ek gaan 'n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse uit die verre verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het. Hy het aan Jakob sy voorskrifte gegee, aan Israel sy onderwysing. Hy het ons voorvaders beveel om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit weer aan húlle kinders kan vertel. So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het en nie wees soos die voorvaders nie. Dié was 'n opstandige en ongehoorsame volk, 'n onbestendige geslag wat nie aan God getrou was nie.