Psalms 78:1-8

Psalms 78:1-8 DB

My vriende, luister nou baie mooi wat ek vir julle wil sê. Ek gaan julle leer. Maak julle ore oop sodat julle goed kan hoor! Ek wil ’n belangrike verhaal aan julle vertel, iets wat lank terug gebeur het en ’n mens nou nog laat wonder. Dis ’n verhaal wat ons by ons pa gehoor het en wat al ons kinders goed moet ken. Daarom vertel ons dit vir die jong geslag, sodat hulle kan weet van die groot dinge wat die Here gedoen het. Hulle moet weet hoe groot en sterk Hy is en watter buitengewone groot dinge Hy gedoen het. Hy het vir Jakob gesê hoe om te leef en aan Israel sy wet gegee. Die Here het ons oupas en oumas beveel om dit alles vir hulle kinders te vertel. Almal moet die kans kry om te hoor dat hulle in God moet glo. Ook ons kinders en kleinkinders moet daarvan kennis neem. Niemand mag ooit vergeet wat God gedoen het nie. So sal hulle leer om ook op God te vertrou. Hulle sal doen wat Hy sê. Mag die Here gee dat die jong geslag nooit soos hulle oupas en oumas sal maak nie. Dié het mos die rug vir die Here gedraai, ’n regte spul hardekoppe; daarom het hulle geweier om te doen wat Hy sê. Hulle was ontrou aan God.