PSALMS 60:1-12

PSALMS 60:1-12 AFR83

Vir die koorleier: op die wysie van “Die lelie”. 'n Getuienis. 'n Gedig van Dawid, vir onderwys bedoel, na aanleiding van sy geveg teen die Arameërs van Mesopotamië en die Arameërs van Soba toe Joab twaalf duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan het. U het ons verstoot, o God, ons uitmekaar geskeur. U was kwaad vir ons. Laat dit tog weer met ons goed gaan. U het die land laat bewe en dit oopgekloof. Genees tog die wonde, want ons gaan tot niet. U het 'n ramp oor u volk gebring, U het ons wyn laat drink wat ons laat steier het. Trek tog u dienaars saam onder u vaandel dat hulle veilig kan wees teen die boog van die vyand. Sela Red ons deur u groot mag, en help ons, sodat hulle vir wie U liefhet, gered kan word. God het in sy heilige woning gesê: “As oorwinnaar sal Ek Sigem verdeel en die Sukkotlaagte uitdeel! Aan My behoort Gilead, aan My behoort Manasse! Efraim is my vernaamste vesting, Juda my koninklike gebied. Moab is tot my beskikking, Edom neem Ek in besit, oor Filistea juig Ek as oorwinnaar.” Wie sal ons na Edom toe lei, ons bring na sy versterkte stad? U het ons verstoot, o God, U trek nie saam met ons leërs uit nie, o God!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid