PSALMS 57:1-11

PSALMS 57:1-11 AFR83

Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. 'n Gedig, na aanleiding daarvan dat hy vir Saul in die grot in gevlug het. Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is. Ek roep na God, die Allerhoogste, na God wat my sal help. Hy sal uit die hemel antwoord en my red, Hy sal dié wat my jaag, die stryd laat verloor. Sela God sal antwoord in sy liefde en trou. Ek is hier tussen leeus, tussen mense wat my wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde. Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, u mag hoog bo die aarde. Hulle het 'n strik vir my voete gespan, hulle wou my breek, hulle het 'n gat vir my gegrawe, maar self daarin geval. Sela Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil 'n lied sing, ja, ek wil sing. Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke!