PSALMS 49:7-15

PSALMS 49:7-15 AFR83

van mense wat net op hulle besittings vertrou en met hulle groot rykdom spog? Een mens kan tog nie 'n ander loskoop van die dood en aan God 'n losprys vir hom betaal nie? Die prys vir 'n mens se lewe is te hoog. Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees dat hy vir altyd sal lewe en die dood nooit sal smaak nie. Elkeen sien dit tog: wyse mense sterwe net soos dwase en sotte, en laat hulle besittings aan ander na. Die graf is vir altyd hulle tuiste; van geslag tot geslag is dit hulle woonplek, al het hulle eenmaal grond op hulle naam gehad. Met weelde en al leef die mens nie vir altyd nie; soos die diere, so kom die mens ook tot 'n einde. Dit is die lot ook van mense wat op hulleself vertrou, die uiteinde van dié wat ingenome is met hulleself. Sela Soos skape is hulle bestem om te sterwe; die dood is hulle wagter. Sonder meer daal hulle in die graf in; in die doderyk verdwyn alles waarop hulle vertrou het; vir hulle bestaan dit nie meer nie.