PSALMS 37:23-40

PSALMS 37:23-40 AFR83

Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente: met sy nageslag sal dit goed gaan. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, dan sal jy die land altyd bewoon, want die Here het die reg lief en sy troue dienaars verlaat Hy nie. Hulle sal altyd behoue bly, maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word. Die regverdiges sal die land besit en altyd daarin woon. Wat die regverdige praat, is wysheid, wat hy sê, stem ooreen met die reg. Die openbaring van sy God is in sy hart, sy koers is nie onseker nie. Die goddelose lê die regverdige voor en soek 'n kans om hom dood te maak, maar die Here los hom nie in die mag van die goddelose nie en laat nie toe dat hy veroordeel word as hy voor die regbank staan nie. Vertrou op die Here en bly op sy weë; Hy sal jou weer laat opstaan om die land te besit, en jy sal die ondergang van die goddeloses aanskou. Ek het al gesien dat 'n slegte, roekelose mens geil opskiet soos 'n plant, en toe ek weer verbykom, was hy nie meer daar nie; ek het hom gesoek en hy was nêrens nie. Maar let nou op die eerbare mens, kyk na die opregte: die regskape man, vir hom is daar 'n toekoms. Dié wat hulle teen die Here verset, word voor die voet uitgewis, die toekoms van die goddeloses word afgesny, maar die regverdiges word deur die Here gered. Hy is hulle toevlug in tyd van nood. Die Here help hulle en Hy bevry hulle, Hy bevry hulle van die slegte mense en red hulle, want hulle skuil by Hom.