Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here. Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam, dié wat met hulle hele hart sy wil doen, geen onreg pleeg nie en in sy weë wandel. U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou! As ek al u gebooie in ag neem, sal ek nooit raad-op wees nie. U bepalings is regverdig; as ek hulle ter harte neem, sal ek U loof met 'n opregte hart. Ek sal my aan u voorskrifte hou: moet my tog nooit verlaat nie. Hoe kan 'n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie. Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U. Aan U kom die lof toe, Here, leer my u voorskrifte. Al u bepalings wil ek een vir een opnoem. Om volgens u verordeninge te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld. U bevele bly my altyd by. Ek gee ag op die pad wat U aanwys. Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. Doen goed aan u dienaar, dan sal ek lewe en u woord gehoorsaam. Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie. Ek kwyn weg van verlange na u bepalings. U straf die hovaardiges, die vervloektes wat van u gebooie afwyk. Keer tog dat ek nie beledig of gesmaad word nie, want ek kom u verordeninge na. Selfs al smee mense wat mag het, komplotte teen my, ek sal my hou aan wat U neergelê het. U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers. Ek verkeer in doodsgevaar, gee my nuwe lewe soos U in u woord beloof het. Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak en U het my gebed verhoor; leer my u voorskrifte. Leer my hoe om u bevele uit te voer. Ek wil van u magtige dade vertel. Ek kwyn weg van kommer, skenk my krag soos U in u woord beloof het. Hou valsheid ver van my af, wees my genadig, leer my u wet. Ek kies die betroubare pad, ek lewe volgens u bepalings. Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n teleurstelling word nie. Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe.
Lees PSALMS 119
Deel
Vergelyk alle weergawes: PSALMS 119:1-32
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's