Psalms 119:1-32

Psalms 119:1-32 DB

God hou baie van jou as jy presies doen wat Hy in die Bybel sê. God hou baie van jou as jy sy woorde diep in jou hart bêre en elke dag jou bes doen om Hom gelukkig te maak, ook as jy nie agter al wat sonde is, aanhardloop nie, maar alles doen wat Hy vir jou sê. God, U sê presies vir my hoe ek moet leef. Hoe wens ek nie dat ek elke oomblik kan doen wat U vra nie. Dan sal ek nie so skaam kry as ek lelike dinge doen nie. Here, diep uit my hart wil ek vir U sê dat U baie goed is; ek leer elke dag so baie oor U. Ek loof U. Ek sal alles doen wat U vir my sê. Moet my asseblief nooit alleen laat nie! Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê? As hy alles doen wat U sê. Ek het net een doel: om U gelukkig te maak! Help my dat ek alles sal doen wat U wil hê. Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie. U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre. Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie. Here, U is so wonderlik! Leer my hoe om alles te doen wat U van my vra. Ek sal alles oorvertel wat ek by U leer. Elke voorskrif wat van U af kom, maak my lewe vol blydskap; dit is baie meer werd as ’n groot sak vol geld. Ek sit ure aanmekaar en dink hoe ek U bly kan maak. U voorskrifte oor hoe ek moet leef, maak my baie opgewonde. Ek sal nie ’n enkele woord daarvan vergeet nie. Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig! Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie. Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê. Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my. Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie. My enigste wens is om te doen wat U vra. U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie, U gooi hulle eenkant toe; vir altyd! Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie. Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het. Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het. U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef. My lewe is nie veel werd nie. Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof. Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan. U het geluister en my gehelp; leer my nou om te doen wat U sê. Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan. Ek wil heeltyd daaroor dink. My lewe is vol bekommernis. Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag. Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef. Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my. Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe. U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef. Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê. Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie. Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid.